Ebooks, Audobooks and Classical Music from Liber Liber
a b c d e f g h i j k l m n o p q r s t u v w x y z





Web - Amazon

We provide Linux to the World


We support WINRAR [What is this] - [Download .exe file(s) for Windows]

CLASSICISTRANIERI HOME PAGE - YOUTUBE CHANNEL
SITEMAP
Audiobooks by Valerio Di Stefano: Single Download - Complete Download [TAR] [WIM] [ZIP] [RAR] - Alphabetical Download  [TAR] [WIM] [ZIP] [RAR] - Download Instructions

Make a donation: IBAN: IT36M0708677020000000008016 - BIC/SWIFT:  ICRAITRRU60 - VALERIO DI STEFANO or
Privacy Policy Cookie Policy Terms and Conditions
Duitsland - Wikipedia

Duitsland

vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.


Duitsland
Bundesrepublik Deutschland
Federale Republiek van Duitsland
Wapen van Duitsland
Vlag Wapen
Nasionale leuse: Einigkeit und Recht und Freiheit
Volkslied: Die derde strofe van die "Deutschlandlied"
Ligging van Duitsland
Hoofstad Berlyn
52°31′N 13°24′E
Grootste stad Berlyn
Amptelike tale Duits 1
Regering
President
Kanselier
Visekanselier
Federale Republiek
Horst Köhler
Angela Merkel (CDU)
Franz Müntefering (SPD)
Onafhanklikheid
Stigting van die
Heilige Romeinse Ryk
Duitse Ryk
Federale Republiek van Duitsland
Duitse Demokratiese Republiek
Hereniging


843 (Verdrag van Verdun)
18 Januarie 1871
23 Mei 1949
7 Oktober 1949
3 Oktober 1990
Oppervlakte
 - Totaal
 
 - Water (%)
 
357 050 vk km  (61ste)
137 858 vk myl
2,416
Bevolking
 - 2005 skatting
 - Digtheid
 
82 515 988 (14de)
231,1 / vk km
BBP (PPP)
 - Totaal
 - Per kapita
2005 skatting

$2 898 miljard (3de)
$30 150(17de)

HDI 0,930 (20ste) — hoog
Geldeenheid Euro (€) 2 (EUR)
Tydsone
 - Somertyd
CET (UTC+1)
CEST (UTC+2)
Internet TLD .de www.deutschland.de
Skakelkode +49
1 Deens, Platduits, Sorbies, Roma en Fries word amptelik erken en as minderheidstale beskerm deur die ECRML.
Berlyn: Potsdamer Platz
Vergroot
Berlyn: Potsdamer Platz

Die Federale Republiek van Duitsland (Duits: Bundesrepublik Deutschland), is een van die wêreld se voorste geïndustrialiseerde lande. Dit is in Europa geleë en word in die noorde begrens deur die Noordsee, Denemarke, en die Oossee, in die ooste deur Pole en die Tsjeggiese Republiek, in die suide deur Oostenryk en Switserland, en in die weste deur Frankryk, Luxemburg, België en Nederland.

Die Duitse Ryk is as 'n nasiestaat verenig tydens die Frans-Pruisiese oorlog in 1871. Die huidige Duitsland is 'n demokratiese, parlementêre en federale republiek, wat uit 16 deelstate bestaan. Hulle kan in sekere sfere soos onderwys onafhanklik van die federasie optree. Duitsland is - net soos baie ander Europese lande - 'n sosiale welvaartstaat, wat in sy binnelandse ekonomiese beleid die beginsels van die sosiale markekonomie toepas.

Die Federale Republiek van Duitsland is 'n lid van die Verenigde Nasies, NAVO, die G8- en die G4-nasies, en is 'n stigterslid van die Europese Unie. Dit is die land in die Europese Unie met die grootste bevolking en is ekonomies die magtigste.

Inhoud

[wysig] Geografie

Die Swartwoud in die winter, met die Franse Vogese-bergreeks in die agtergrond
Vergroot
Die Swartwoud in die winter, met die Franse Vogese-bergreeks in die agtergrond

Duitsland strek van die kusgebiede langs die Noord- en Oossee tot by die sentrale Alpe in die suide, waarvan net 'n klein gedeelte op Duitse grondgebied lê. Die land word dikwels as die hartland an Europa beskryf en grens aan Denemarke in die noorde; Nederland, België, Luxemburg en Frankryk in die weste; Oostenryk en Switserland in die suide; en Pole en Tsjeggië in die ooste. Die Noord- en Oossee vorm 'n natuurlike grenslyn in die noorde.

In noord-suidelike rigting is daar vier groot geografiese landskappe, wat veral volgens hulle hoogte van mekaar verskil. Die noorde van Duitsland word oorheers deur die Noord-Duitse Vlakte, wat tydens die ystydperke gevorm is.

Die sentrale gedeelte van die land is gekenmerk deur bebosde bergreekse, die sogenaamde Middelgebergtes. Daar is verskillende tipes van landskappe soos byvoorbeeld die

  • die gebied van die Mecklenburgse Mere in die noord-oostelike vlakte, wat deur gletserpuine gevorm is;
  • die blokberge van die Harz, wat nog voor die Alpe ontstaan het;
  • die bebosde bergreekse van die Schwarzwald (Swartwoud) en Böhmerwald, wat net soos die Franse Vogese deur opwaartse geologiese bewegings gevorm is;
  • bekkens van sedimentêre gesteentes soos in die Swabiese Gebergte (Schwäbische Alb), 'n platorand wat as gevolg van erosie gevorm is en nou bo-oor die Neckarvallei met 'n maksimale hoogte van 869 meter verrys;
  • geologies jonge bekkens soos die vlaktes van die Ryn tussen die Switserse stad Basel en Mainz in Rynland-Palts, wat in seismiese opsig nog baie aktief is; en
  • vulkaniese bergreekse soos die Vogelsberg (772 meter), wat deur aardbewegings en vulkaanuitbarstings gevorm is.
Die Harz-gebergte se hoogste bergspits, die Brocken, in die winter
Vergroot
Die Harz-gebergte se hoogste bergspits, die Brocken, in die winter

Hierdie bergreekse gaan in die mees suidelike deelstate Baden-Württemberg en Beiere geleidelik oor na die Alpe-voorland, 'n landskap wat ook hoofsaaklik teen die einde van die laaste ystydperk gevorm is en gekenmerk word deur gletserpuine, vlaktes en 'n aantal mere soos die Bodenmeer met 'n oppervlak van 538 vierkante kilometer. Die hoogste bergspits in die Alpe van Suid-Beiere is die Zugspitze met 2 963 meter.

Die Alpe is die enigste hooggebergte, waaraan Duitsland 'n aandeel het. Nogtans is daar 'n aantal bergreekse met bergspitse, wat hoogtes van meer as 1 000 meter bereik, soos die Swartwoud met die Feldberg (1 493 meter bo seevlak), die Beierse Woud met die Groot Arber (Großer Arber, 1 456 meter), die Ertsgebergte, die Fichtelgebergte, die Swabiese Gebergte en die Harzgebergte, wat danksy sy geïsoleerde noordelike ligging 'n uitsondering vorm. Die Harz bereik met die Brocken 'n hoogte van 1 142 meter bo seevlak.

Noord van die Middelgebergtes is daar net enkele formasies met 'n hoogte van meer as 100 meter, soos die Fläming in die deelstaat Brandenburg (200 meter).

Duitsland word lankal nie meer deur aktiewe vulkanisme geraak nie. Nogtans is daar landskappe en gesteentes, wat deur vulkaniese aktiwiteite gevorm is soos die Vulkaan-Eifel, die Vogelsberg in Hessen en die Hegau en Kaiserstuhl in Baden-Württemberg.

Aangesien Duitsland heeltemaal op die Eurasiese Plaat lê, kom sterk aardbewings normaalweg nie voor nie. Nogtans word die Rynbreuk in Noordryn-Westfalen, veral in die omgewing van Keulen, as 'n gebied beskou waar 'n groot aardbewing tot ernstige rampe en lewensverlies sou kon lei.

[wysig] Eilande

Die Waddensee naby Keitum op die eiland Sylt
Vergroot
Die Waddensee naby Keitum op die eiland Sylt

Duitsland beskik oor 'n relatief groot aantal eilande, wat in die Noordsee meesal as eilandkettings net voor die kuslyn lê. Die twee groot eilandgroepe van die Noordsee is die Noord- en Oos-Friese Eilande. Die Noord-Friese Eilande, waaronder Sylt, Föhr, Amrum en Pellworm, asook die klein Halligen-eilandjies, maak deel uit van Sleeswyk-Holstein, die noordelikste deelstaat. Die eilande was oorspronklik deel van die vasteland, maar is as gevolg van geologiese aktiwiteite van die vasteland afgesny, nadat die gebiede daartussen gedaal het en oorvloed is.

Die Noord-Friese Eilande lê langs die kuslyn van die deelstaat Nedersakse en is geleidelik uit sandbanke gevorm.

Die eilande in die Oossee maak deel uit van die sogenaamde strandmeerkus. Hulle word deur groter oppervlaktes gekenmerk; die grootstes van hierdie eilande is Rügen en Usedom. Die uiterste oostelike deel van Usedom behoort tot Pole.

Die grootste eilande in die binneland is Mainau, Lindau en Reichenau in die Bodenmeer en Herrenchiemsee in die Chiemmeer.

[wysig] Mere

Die bevrore Koningmeer (Königssee) in Beiere
Vergroot
Die bevrore Koningmeer (Königssee) in Beiere

Die mere in Duitsland is grotendeels as gevolg van die laaste ystydperk gevorm, toe voormalige gletservalleie met water opgevul is. Die meeste van die groter mere is dus in gebiede geleë, wat vroeër deur binnelandse ysmassa's bedek was, of in die voorland van die gletsers, veral in Mecklenburg en die Alpevoorland.

Die grootste meer, waaraan Duitsland 'n aandeel het, is die Bodenmeer naby die grens met Switserland en Oostenryk. Die grootste meer, wat in sy geheel in Duitsland lê, is die Müritz met 'n oppervlak van 117 vierkante kilometer, wat deel uitmaak van die Mecklenburgse Mereplato.

Die grootste mere na die Bodenmeer en Müritz is die Chiemmeer (Beiere, 80 vierkante kilometer), die Schwerinse Meer (Mecklenburg-Voorpommeren, 61 vierkante kilometer), die Starnbergse Meer (Beiere, 56 vierkante kilometer), die Ammermeer (Beiere, 46,6 vierkante kilometer), die Plauer Meer (Mecklenburg-Voorpommeren, 38,7 vierkante kilometer), die Kummerowse Meer (Mecklenburg-Voorpommeren, 32 vierkante kilometer), die Steinhuder Meer (Nedersakse, 29,12 vierkante kilometer), en die Groot Plönse Meer (Sleeswyk-Holstein, 29 vierkante kilometer).


[wysig] Klimaat

Die Funtenmeer in Beiere. Hier is op 24 Desember 2001 die koudste temperatuur ooit in Duitsland gemeet: -45,9 °C
Vergroot
Die Funtenmeer in Beiere. Hier is op 24 Desember 2001 die koudste temperatuur ooit in Duitsland gemeet: -45,9 °C

Die grootste deel van Duitsland lê in die gematigde klimaatsone van Middel-Europa, wat deur vogtige westelike winde oorheerrs word. Die klimaat word onder meer deur die warm Golfstroom beïnvloed.

Die noord-weste en noorde van Duitsland word deur 'n maritieme klimaat met reënval dwarsdeur die jaar gekenmerk. Die winters is relatief mild, terwyl die somers eerder koel is, alhoewel somertemperature ook in die noorde soms dae lank bo 28 °C kan styg. Die gemiddelde temperature is: Hamburg: Januarie 0,3 °C / Julie 17,1 °C; Essen: Januarie 1,5 °C / Julie 17,5 °C.

Oos-Duitsland is in klimatiese opsig 'n oorgangsgebied, weerstoestande het dikwels kenmerke van 'n vastelandsklimaat, met strawwe koue winters en baie warm somers. Gebiede soos die deelstaat Brandenburg en Berlyn kry soms baie min reën in die somer. Die gemiddelde temperature is: Berlyn: Januarie -0,9 °C / Julie 18,6 °C. Die sentrale en suidelike gebiede van Duitsland is 'n oorgangsgebied van 'n gematigde maritieme na 'n vastelandsklimaat. Die Rynvallei is egter een van die warmste gebiede in die land; die gemiddelde jaarlikse temperatuur in die suid-weste van Baden-Württemberg is 11 °C. Baie warm somers met temperature van meer as 30 °C tree gereeld op. Gemiddelde temperature: München: Januarie: -2,2 °C / Julie 17,6 °C; Freiburg: Januarie: 1,2 °C / Julie 19,4 °C.

Tot en met 1988 was die gemiddelde jaarlikse temperatuur in Duitsland 8,8 °C. As gevolg van die globale verwarming het dit duidelik gestyg en bereik in 2000 reeds 9,9 °C. Veral die somers het warmer geword.

[wysig] Politiek

[wysig] Staatsorganisasie

Volgens die artikel 20 van die Duitse Grondwet (Grundgesetz) is die Bondsrepubliek Duitsland 'n demokratiese, federale en sosiale regstaat. Sy hoofstad en regeringsetel is Berlyn. Duitsland is in administratiewe opsig verdeel in 16 deelstate (Bundesländer), wat gedeeltelik selfregerend is. Vyf van die deelstate is verder verdeel in 22 administratiewe distrikte (Regierungsbezirke).

Die Federale President Dr. Horst Köhler
Vergroot
Die Federale President Dr. Horst Köhler

Die Bondspresident (Bundespräsident) fungeer as die staatshoof en verteenwoordiger van die republiek op internasionale vlak. Hy oefen egter geen politieke mag uit. Die president van die parlement (Bundestagspräsident), die Bondskanselier (Bundeskanzler) en die president van die Federale Raad van die deelstate (Bundesratspräsident, wat ook as vise-staatshoof fungeer) volg as ampsdraers in die rangorde.

Die Bondskanselier is die regeringshoof en bepaal die grondbeginsels van die regering se binne- en buitelandse beleid.

Die Berlynse Reichstags-gebou, setel van die nasionale parlement, die Bundestag
Vergroot
Die Berlynse Reichstags-gebou, setel van die nasionale parlement, die Bundestag

In ooreenstemming met die federale staatsbestel beskik ook die deelstate oor hulle eie uitvoerende, wetgewende en regsprekende gesag. Die Bundesrat (Raad van die Deelstate) het net soos die Bundestag, die nasionale parlement, uitvoerende bevoegdhede. Besluite oor voorgestelde nasionale wetgewing word deur albei kamers gemeenskaplik geneem. Wetsontwerpe van die nasionale parlement, wat die regte van die deelstate sou raak, moet deur die Bundesrat goedgekeur word. Die Duitse Grondwet mag, met die uitsondering van die artikels oor fundamentele menseregte, met 'n tweederdes-meerderheid in albei kamers gewysig word.

Die parlemente van die deelstate besluit oor die plaaslike wetgewing; die onderwys, polisie en ander belangrike instellings word deur die deelstate beheer. Die politieke partye het 'n groot invloed op die wetgewing, en ofskoon die afgevaardigdes nie gedwing mag word om teen hulle gewetens op te tree nie, word die meeste wetsontwerpe deur die parlementslede van die meerderheidsparty gemeenskaplik goedgekeur om die doelwitte van dié party te verwesenlik.

Op nasionale vlak vorm die federale regering onder die leiding van die Bondskanselier die uitvoerende gesag, terwyl die deelstate regerings onder die leiding van 'n Eerste Minister het. Die stadstate Berlyn, Hamburg en Bremen het Regerende Burgemeesters as hulle regeringshoofde. Die nasionale en die administrasies van die deelstate word deur ministers beheer.

Die Konstitusionele Hof (Bundesgerichtshof) in Karlsruhe het die hoogste gesag oor die grondwet. Die hoogste nasionale geregshowe is die Federale Geregshof (Bundesgerichtshof) in Kassel, die Federale Administratiewe Gereg (Bundesverwaltungsgericht, wat regsake in verband met die administrasies hanteer) en die Geregshof van Finansies in München. Die meeste regsake word deur die deelstate beheer, terwyl die nasionale geregshowe as appélhowe dien.

[wysig] Deelstate

Die deelstate van Duitsland
Vergroot
Die deelstate van Duitsland
In Afrikaans Auf Deutsch (In Duits)
Die deelstate van Duitsland Hoofstad Bundesland Hauptstadt
1 Baden-Württemberg Stuttgart Baden-Württemberg Stuttgart
2 (Vrystaat) Beiere München (Freistaat) Bayern München
3 Berlyn Berlyn Berlin Berlin
4 Brandenburg Potsdam Brandenburg Potsdam
5 Hansestad Bremen Bremen (Freie Hansestadt) Bremen Bremen
6 (Vrye en Hansestad) Hamburg Hamburg (Freie und Hansestadt) Hamburg Hamburg
7 Hessen Wiesbaden Hessen Wiesbaden
8 Mecklenburg-Voorpommeren Schwerin Mecklenburg-Vorpommern Schwerin
9 Nedersakse Hannover Niedersachsen Hannover
10 Noordryn-Wesfale Düsseldorf Nordrhein-Westfalen Düsseldorf
11 Rynland-Palts Mainz Rheinland-Pfalz Mainz
12 Saarland Saarbrücken Saarland Saarbrücken
13 (Vrystaat) Sakse Dresden (Freistaat) Sachsen Dresden
14 Sakse-Anhalt Magdeburg Sachsen-Anhalt Magdeburg
15 Sleeswyk-Holstein Kiel Schleswig-Holstein Kiel
16 (Vrystaat) Thuringen Erfurt (Freistaat) Thüringen Erfurt

[wysig] Geskiedenis

[wysig] Die vroeë geskiedenis

Die oudste nedersettings in die gebied van die huidige Duitsland het 700 000 tot 500 000 jare gelede ontstaan. Die Homo sapioens neanderthalensis, wat nou verwant is aan die huidige mens, is na die Neanderthal naby die stad Mettmann vernoem. Die Neanderthal-mense is sowat 40 000 jare gelede deur die huidige mens, die Homo sapiens sapiens verdring.

Akkerbou, veeteelt en permanente nedersettings ontwikkel in die Laat Steentydperk. Belangrike argeologiese vondste uit hierdie periode soos die Hemelskyf van Nebra dui daarop dat die beskawings teen hierdie tyd kultureel al hoogs ontwikkel was en kennis van sterrekunde het.

Die eerste verwysings na die Keltiese en Germaanse stamme in Duitsland is van Griekse en Romeinse oorsprong. Omtrent 500 v.C. het Keltiese stamme die suidelike Duitsland oorheers, terwyl die Germane hulle in die noorde gevestig het. Oor die eeue heen begin die Germaanse stamme suidwaarts trek. In die 1ste eeu n.C. het die Germane al die Donau bereik, wat destyds die grenslyn tussen die Germaanse en Keltiese gebiede vorm. Keltiese leenwoorde en plekname is deur die Germane oorgeneem.

[wysig] Die Romeinse tydperk

'n Model van die keiserlike stad Augusta Treverorum
Vergroot
'n Model van die keiserlike stad Augusta Treverorum

Germaanse krygers onder die bevel van die Cheruskiese stamhoof Arminius laat die Romeinse troepe van die legaat Publius Quinctilius Varus in die jaar 9 'n verpletterende neerlaag in die slag naby die Kalkrieser Berg ly. Die Romeinse keiser Augustus sien van sy planne af om die noord-oostelike grenslyn van die Romeinse Ryk vanuit die Ryn na die Elbe te verskuif.

In die Romeinse gebiede van Germanië ontwikkel 'n bloeiende Germaans-Romaanse kultuur. Stede soos Keulen (wat destyds as Colonia Claudia Ara Agrippinensium bekend staan) ontwikkel tot ekonomiese sentrums met enkele tienduisend inwoners. Keulen self word die hoofkwartier van die Romeinse glasbedryf in Neder-Germanië.

Augusta Treverorum, die huidige Trier, word in 293 die keiserlike hoofkwartier van Constantius Chlorus, een van die vier keisers van die Romeinse tetrargie. Tot by die begin van die Germaanse volksverhuising bly Trier een van die belangrikste keiserlike stede in die Romeinse Ryk.

Omtrent 400 bereik die volksverhuising die gebied van die huidige Duitsland. Keulen word in 455 deur die Franke verower en word later deel van die Frankiese Ryk van koning Clovis. Met sy doop volgens die Rooms-Katolieke ritus en die aanvaarding van Latyn as liturgiese taal van die kerk word Clovis in 499 een van die grondleggers van die Christelike Westerse beskawing.

[wysig] Die Middeleeue

Met die kroning van die Frankiese koning Karel die Grote as keiser in Rome neem die Heilige Romeinse Ryk van die Duitse Nasie 'n aanvang. Hendrik, hertog van Sakse, word in 919 tot koning van die Oos-Frankiese Ryk verklaar, waaruit uiteindelik die Duitse Ryk voortspruit: Sedert die 10de eeu word na die Oos-Frankiese Ryk ook as die regnum Teutonicum verwys. Onder die heerskappy van keiser Frederik Barbarossa (1152 tot 1190) beleef die Heilige Romeinse Ryk 'n politieke en kulturele bloeitydperk.

Met die sogenaamde Goue Bul van die jaar 1356 verkondig die keiser Karel IV die belangrikste Duitse grondwet van die Middeleeue, wat tot by die jaar 1806 die wyse bepaal waarop die keisers van die Heilige Romeinse Ryk verkies word.

[wysig] Reformasie en Dertigjarige Oorlog

Onder die heerskappy van Maximiliaan I, wat tussen 1509 en 1519 as keiser van die Heilige Romeinse Ryk regeer, begin die Huis Habsburg Europa oorheers. Alhoewel Maximiliian dikwels "die laaste ridder" genoem word, stel die hoogs opgeleide keiser belang in wetenskap en kuns en staan onder die invloed van die humanisme en renaissance. Nogtans bly die politieke strukture van die Ryk ingewikkeld.

Die Augustynse monnik Maarten Luther, wat sedert 1517 net die wantoestande in die Rooms-Katolieke Kerk wil keer, maak deur middel van nuwe media soos pamflette en gedrukte boeke sy oortuigings in die hele land bekend. Uiteindelik lui hy die reformasie in Duitsland in. Hy vertaal die Bybel in Duits en skep sodoende 'n Duitse standaardtaal op basis van die Middelduitse dialekte.

Die politieke en godsdienstige spannings in Duitsland ontlont 1618 in die Dertigjarige Oorlog. Duitsland word die slagveld van die Europese moondhede soos Frankryk en Swede, wat aan die kant van die Duitse Protestantse heersers teen die keiserlike Katoliek-gesinde magte optree. Die oorlogshandelinge en daarmee gepaardgaande gruweldade en hongersnode lei tot 'n ongekende verlies aan menselewens. Meer as een derde van die Duitse bevolking sterf in die oorlog, wat eers in 1648 met die Vredesluiting van Münster tot 'n einde kom.

[wysig] Die tydperk tot by die Franse Rewolusie

Die Franse koning Lodewyk XIV maak in 1685 namens sy skoonsuster Elisabeth Charlotte van die Palts aanspraak op die gebied Palts, 'n welvarende streek langs die Ryn, met die stad Heidelberg as een van sy sentrums. In die Negejarige Oorlog, wat as gevolg uitbreek, word die gebied, een van die welvarendste in Duitsland, verwoes.

Ondanks die verwoestings, wat deur die Dertigjarige Oorlog, die Negejarige Oorlog en die Spaanse Opvolgingsoorlog in Duitsland aangerig is, herstel die ryk en belef 'n nuwe ekonomiese en kulturele bloeitydperk. Op politieke gebied kan daar egter geen sprake van vernuwing wees nie.

Ook Pruise, wat tot een van die belangrikste deelstate van die Heilige Romeinse Ryk ontwikkel, bly onder sy verligte, maar outeritêre koning Frederik die Grote (1740 tot 1786) 'n absolutistiese monargie. Die magsstryd tussen Pruise en Oostenryk begin die Heilige Romeinse Ryk heeltemal verlam.

[wysig] Die tydperk tussen 1789 en 1871

Die rewolusionêre onluste in Maart 1848: Straatversperrings in Berlyn
Vergroot
Die rewolusionêre onluste in Maart 1848: Straatversperrings in Berlyn

Ná die Franse Rewolusie van 1789 begin Frankryk onder die heerskappy van Napoléon Bonaparte sy magsgebied in Europa uitbrei. Onder die Franse invloed word die Heilige Romeinse Ryk in 1806 ontbind, terwyl Pruise danksy politieke hervormings tot 'n moderne staat ontwikkel. In die Duitse Bevrydingsoorloë ly Napoléon 'n neerlaag, maar die vereniging van die verskillende Duitse state misluk.

Omtrent 1830 neem die industrialisering van Duitsland 'n aanvang. Die verarming van talle werkers as gevolg van die toenemende meganisering van verskillende bedrywe en herhaalde misoeste lei tot politieke onluste. Nadat die owerhede onder meer in Pruise nie instem tot hervormings nie, breek in Maart 1848 opstande uit, wat talle menselewens eis. Die Duitse vorste verset hulle egter teen die burgerlike rewolusie, en die konstitusionele grondwet, wat deur liberale voorgestel word, kom nie tot stand nie. Gedurende die vyftigerjare emigreer baie Duitsers na oorsese lande, veral na die Verenigde State.

Desondanks ontwikkel die Duitstalige Middel-Europa danksy sy gevorderde ekonomie en tegnologieë tot een van die belangrikste gebiede ter wêreld. Onder die indruk van die maatskaplike ellende skryf Karl Marx sy "Kritiek op die politieke ekonomie". In Pruise gebruik die kanselier Otto von Bismarck internasionale spannings, om Pruise se politieke hegemonie in Duitsland te bevorder.

[wysig] Die Keiserryk (1871-1918)

Franse provokasies gee die aanleiding tot die Frans-Pruisiese Oorlog in 1870. Ná die Franse neerlaag gryp Bismarck die kans om 'n Duitse keiserryk onder die heerskappy van Pruise se koning Willem I te stig. Die skadevergoeding, wat Frankryk moet betaal, bevorder die ekonomiese oplewing in Duitsland. Die binnelandse beleid word deur die stryd ten die invloed van die Rooms-Katolieke Kerk en die Sosiaal-Demokratiese Party gekenmerk. In die magstryd met ander Europese lande besluit Duitsland om sy eie koloniale ryk te stig, onder meer in Afrika en die Suidsee.

Die Eerste Wêreldoorlog breek in 1914 as gevolg van Duitse provokasies uit. Die Duitse planne, om eers Frankry en daarna Rusland neer te werp, misluk. Duitse troepe word in 'n langdurige oorlog aan twee fronte verwikkel. Die Duitse neerlaag maak in 1918 ook 'n einde aan die monargie.

[wysig] Die Republiek van Weimar (1918-1933)

Die politieke situasie begin eers ná jare se onluste en die hiperinflasie van 1923 stabiliseer. Die kulturele lewe bloei tydens die sogenaamde "Goue twintigerjare", tog begin die ekonomiese en politieke toestande met die Groot Depressie in 1929 weer dramaties versleg. Radikale groeperings soos die Moskou-gesinde Kommunistiese Party van Duitsland (KPD) en die fascistiese Nasionaal-Demokratiese Duitse Arbeidersparty (NSdAP) ondermyn die demokratiese stelsel van die republiek. Die deflasionêre ekonomiese beleid van die kanselier Brüning vererg die ekonomiese krisis, die werkloosheidsyfer styg in Januarie 1932 tot meer as ses miljoen.

[wysig] Die "Derde Ryk" (1933-1945)

Op 30 Januarie 1933 word die leier van die NSdAP, Adolf Hitler, tot Rykskanselier van Duitsland benoem. Die verregse politikusse van die Duits-Nasionale Volksparty (DNVP) slaag nie daarin om Hitler en sy party in die gemeenskaplike koalisieregering "in bedwang te hou" nie, soos hulle oorspronklik beplan het. Binne enkele maande verseker Hitler veral danksy die gewelddadige optrede van sy SA-groepering teen opposisiepartye sy ongedeelde mag. Joodse burgers en teenstanders word vervolg en vermoor.

Hitler en sy party oorheers Duitsland in 'n soort "populêre diktatuur" - die groot massa van die bevolking steun die bewind, terwyl andersdenkendes brutaal onderdruk word. Hitler forseer die bewapening en militarisering van Duitsland. Duitstalige gebiede soos Oostenryk en die Sudete-gebied in Tsjeggië word by die Duitse Ryk ingelyf. Ná 'n geheime ooreenkoms met die Sowjetiese diktator Stalin in die laat somer van 1939 beplan Hitler 'n aanvalsoorlog teen Pole. Op 23 Augustus val Duitse troepe Pole aan.

Ná sy oorwinning oor Frankryk in 1940 geniet Hitler die populariteit van die massas. Nogtans is hy van voorneme om die Duitse ryksgebied in die ooste uit te brei en Stalin uit te skakel. Gevolglik beveel hy op 22 Junie 1941 om die Sowjetunie aan te val. Tog sedert die jaar 1942 word die Duitse ryksgebied in toenemende mate deur die oorlog geraak: Britse bomwerpers verwoes Duitse stede soos Keulen en Lübeck.

'n Poging van Duitse offisiere om Hitler deur middel van 'n sluipmoord uit te skakel misluk op 20 Julie 1944. Ná hierdie datum eis die oorlogshandelinge en bombardemente die lewens van meer Duitse soldate en burgerlikes as in die eerste vyf jare van die Tweede Wêreldoorlog. Danksy die oormag van die geallieerde troepe ly Duitsland uiteindelik 'n verpletterende neerlaag. Hitler pleeg op 30 April 1945 selfmoord in Berlyn. Russiese, Amerikaanse, Britse en Franse troepe beset Duitsland, en ook die Duitse hoofstad word in vier besettingsones opgedeel.

[wysig] Die naoorlogse tydperk

Die vier geallieerde besettingsones in Duitsland
Vergroot
Die vier geallieerde besettingsones in Duitsland

In die Sowjetiese sone word die Sosiaaldemokratiese Party (SPD) in 1946 gedwing om met die Kommuniste (KPD) saam te smelt. Die gebied trek ook geen voordeel uit die Amerikaanse Marshall-plan, wat deur middel van krediete en ekonomiese hulp die heropbou van die oorlogsverwoeste Europa moontlik maak. Stalin reageer op die monetêre hervorming in die drie westelike besettingsones en die invoering van die Deutsche Mark (DM) as nuwe geldeenheid in 1948 met 'n blokkade van die westelike sones van Berlyn. Die geallieerde magte, waaronder ook die Suid-Afrikaanse Lugmag, vervoer tydens die sogenaamde Berlynse Lugbrug alle invoere vir Wes-Berlyn met vliegtuie na die stad. Stalin ly 'n politieke neerlaag en staak die blokkade in die volgende jaar.

[wysig] Twee Duitse state

Alle politieke pogings om Duitsland te herenig misluk, aangesien Stalin nie daarin slaag om 'n neutrale Duitse staat in die lewe te roep nie, en in 1949 word twee Duitse state gestig: Die Bondsrepubliek Duitsland as 'n Westerse demokrasie en die Duitse Demokratiese Republiek (DDR) as 'n Sosialistiese staat. Die laaste Duitse krygsgevangenes word eers in 1956 deur die Sowjetunie vrygelaat.

'n Reusestroom vlugtelinge na Wes-Duitsland bedreig die politieke en ekonomiese stabiliteit van die DDR. In 1961 laat die DDR-regering die Berlynse Muur oprig. Sedert die jaar 1965 is die Duits-Duitse grenslyn met mynvelde en 'n grensdraad versterk.

Vanaf 1966 vorm die Sosiaaldemokrate vir die eerste keer 'n koalisieregering met die Christelike Demokrate en vanaf 1969 met die liberale party FDP. 'n Beleid van vreedsame toenadering tussen Wes-Duitsland en die Oosbloklande en politieke hervormings in Wes-Duitsland kenmerk hierdie tydperk.

In die DDR vervang Erich Honecker in 1971 Walter Ulbricht as staats- en partyleier. Anders as verwag volg hy geen liberale beleid nie, en die staat versnel die nasionalisering van die laaste vrye ondernemings. In die Bondsrepubliek Duitsland word die voorsitter van die Christelik-Demokratiese Unie, Helmut Kohl, ná 'n mosie van wantroue in 1982 bondskanselier.

[wysig] Die krisis van die DDR en die Duitse hereniging

Sedert 1987 groei in die DDR die invloed van die opposisie, wat deur die Sowjetiese perestrojka-beleid aangemoedig word om meer demokratiese regte op te eis. Twee jaar later ruk die situasie in die land onder die indruk van massabetogings hand uit. Die staatsparty SED raak ontslae van Erich Honecker, maar slaag nie daarin om sy magsposisie te bewaar nie. Op 9 November 1989 word die Berlynse Muur geopen, en in 1990 vind die eerste vrye verkiesing in die DDR plaas. Die DDR-parlement, die Volkskammer, besluit om by die Bondsrepubliek Duitsland aan te sluit. Die twee Duitse state word op 3 Oktober 1990 herenig, en Berlyn word ná 45 jaar weer die hoofstad van die hele Duitsland.

[wysig] Ekonomie

Frankfurt in die metropolitaanse gebied van Ryn-Main is die finansiële sentrum van Duitsland
Vergroot
Frankfurt in die metropolitaanse gebied van Ryn-Main is die finansiële sentrum van Duitsland

Duitsland is tans die grootste ekonomie in Europa en die derde grootste ter wêreld ná die Verenigde State (VSA) en Japan. Die land is volgens die Wêreldhandelsorganisasie (WHO; Engels: World Trade Organization, WTO) tans ook die grootste uitvoerder ter wêreld nog vóór die VSA en die Volksrepubliek van Sjina. Duitsland se belangrikste handelsvennote is Frankryk, die VSA, die Verenigde Koninkryk, Italië en Nederland.

Die bruto geografiese produk (BGP) groei in die jaar 2004 met sowat twee persent en bereik 2 200 miljard Euro. Verbruikerspryse het in 2004 met 1,6 persent gestyg.

Die hoofkwartier van die motorvervaardiger BMW in München
Vergroot
Die hoofkwartier van die motorvervaardiger BMW in München

Duitsland word sedert die einde van die 19de eeu steeds as een van die leidende nywerheidslande beskou. Die belangrikste nywerhede is motorvervaardiging, elektrotegniese produkte, masjienbou en chemie.

Nogtans het die aandeel werknemers in die nywerheidsektor tussen 1970 en 2004 van 46 tot 26 persent gedaal, terwyl die aandeel werknemers in die dienstesektor verdubbel het en nou 71 persent (of 27 miljoen mense) bedra. Die tersiêre sektor se bydrae tot die BGP beloop tans meer as 70 persent.

Ondanks die sukses op die uitvoermarkte is daar groot ekonomiese vraagstukke wat die land nog steeds kwel. Die besparingspeil is in vergelyking met ander ontwikkelde lande baie hoog, terwyl die binnelandse verbruik relatief swak bly. As gevolg gaan die land gebuk onder 'n hoë werkloosheidsyfer van omtrent tien persent, die hoë koste van die sosiale welvaartstelsel, 'n baie hoë staatskuld en deflasionêre tendense op die goedere- en arbeidsmarkte. Lone en salarisse het ondanks die verhoogde produktiwiteit in die afgelope jare nouliks gestyg.

Die ekonomiese situasie in Oos-Duitsland is besonder kommerwekkend; hier ontbreek ná die omverwerping van die sosialistiese stelsel die industriële en tersiêre infrastruktuur, wat tot grootskaalse binnelandse migrasie na die westelike deelstate gelei het.

In die loop van 2006 het die herlewing van die Duitse ekonomie 'n aanvang geneem. Die werkloosheidsyfer het in Oktober vir die eerste keer in vier jaar benede tien persent gedaal en beloop nou 9,8 persent. Stewige verbruikersbesteding en uitvoere het tot 'n hoër ekonomiese groeikoers en hoër belastinginkomste van die federale staat, deelstate en munisipaliteite gelei. Daar word egter verwag dat die verhoging van die belasting op toegevoegde waarde van 16 tot 19 persent op 1 Januarie 2007 verbruikerbesteding weer sal laat krimp.

[wysig] Landbou, bosbou en vissery

Die bydrae van die landbou, bosbou en vissery tot die bruto geografiese produk het in die jaar 2003 tot 1,1 persent gedaal. Nogtans is Duitsland ten opsigte van die voedselproduksie byna selfversorgend: Naastenby negentig persent van die benodigde agrariese produkte word plaaslik verbou. Duitsland is die derde grootste agrariese produsent in die Europese Unie ná Frankryk en Italië.

[wysig] Demografie

Met 'n oppervlakte van 357 000 vierkante kilometer en meer as 82 miljoen inwoners behoort die Bondsrepubliek Duitsland tot die mees digbevolkte lande ter wêreld. Die vyf grootste metropolitaanse gebiede is Ryn-Roer met 11,8 miljoen inwoners, Ryn-Main (5,8 miljoen), Berlyn (4,3 miljoen), Hamburg (3,3 miljoen) en Stuttgart (2,3 miljoen).

Die jaarlikse immigrasiesyfers in die tydperk tussen 1993 en 2004
Vergroot
Die jaarlikse immigrasiesyfers in die tydperk tussen 1993 en 2004

Van die 82,5 miljoen inwoners is meer as 42 miljoen vroulik, en 7,3 miljoen is buitelanders. Die 75 miljoen Duitsers sluit sewe miljoen immigrante van Duitse afkoms in, wat veral uit die Russiese Federasie, Pole en ander Oos-Europese lande na Duitsland gekom het (altesaam 4,2 miljoen mense in die tydperk tussen 1950 en 2002), of immigrante van dwarsoor die wêreld wat ingeburger is. In 2005 het die aantal inburgerings met tien persent afgeneem tot 117 240.

Van die inwoners is 26,2 miljoen mense Rooms-Katolieke, 25,8 miljoen Protestante (oorwegend Lutherane), 3,2 miljoen Moslems (waarvan 732 000 met Duitse burgerskap) en 102 000 Jode.

Die grootste groepe buitelanders is Turke (2,4 miljoen), burgers van ander lande van die Europese Unie (altesaam 2,1 miljoen, waarvan 0,5 miljoen Italianers, 0,3 miljoen Grieke, 0,3 miljoen Pole en 0,2 miljoen Oostenrykers) en immigrante uit die voormalige Joegoslawië.

Die amptelike etniese minderhede is sowat 50 000 Dene, 20 000 Friese, 60 000 Sorbe en 70 000 Sinti en Roma.

Die natuurlike bevolkingsaanwas bly negatief, met 706 000 geboortes en 818 000 sterfgevalle in die jaar 2004. In 2005 daal die aantal geboortes met 4,2 persent tot minder as 676 000, die laagste ooit sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog en slegs die helfte van die jaar 1964, toe daar in die Bondsrepubliek Duitsland en die Duitse Demokratiese Republiek 1,357 miljoen geboortes geregistreer is. Die geboortesyfer van net 8,5 per 1 000 inwoners is nou die laagste in Europa en vergelyk baie ongunstig met lande soos Frankryk (12,7) en die Verenigde Koninkryk (12,0). Vroue met kinders ervaar nog steeds baie nadele in die beroepslewe, en baie egpare vrees dat hulle kinders moontlik nie meer kan bekostig nie.

Aangesien die laaste sensus in die Duitse Demokratiese Republiek in 1983 en in die vroeëre Bondsrepubliek Duitsland (Wes-Duitsland) in 1987 plaasgevind het, sal presiese statistieke gegewens eers weer met die gesamentlike Europese sensus van die jaar 2010/11 beskikbaar wees.

[wysig] Taal

Maarten Luther, die Duitse reformator en hervormer van die Duitse taal, in 1529
Vergroot
Maarten Luther, die Duitse reformator en hervormer van die Duitse taal, in 1529

Duits is die amps- en mees gebruikte taal in Duitsland, wat ook as standaardtaal in die media gebruik word. In die noorde van Duitsland, veral in die gebied tussen Hannover en Kassel, het die standaardskryftaal lankal die plaaslike Nederduitse dialekte as omgangstaal vervang. Dialekte is egter veral in Suid-Duitsland nog steeds die mees gebruiklike omgangstale.

Duitsland erken ook die tale van etniese minderhede soos Deens, Fries en Sorbies as amptelike tale, alhoewel geen van hierdie minderheidstale meer as 100 000 sprekers het. Ander plaaslike minderheidstale soos Moeselromaans (uitgestorwe in die 11de eeu), Polabies (uitgestorwe in die 18de eeu) en Jiddisj word nie meer gepraat nie.

Groot immigrantegroepe soos Turke en Russe gebruik dikwels hulle eie tale; in groot stede soos Berlyn beskik hierdie immigrante oor hul eie infrastruktuur, wat ook dagblaaie insluit. Die plaaslike advertensiebedryf gebruik dikwels die Turkse taal, en sekere amptelike kennisgewings verskyn ook in Turks.

Duits was vroeër 'n verkeerstaal in Middel-Europa, Oos-Europa en Skandinawië en speel ook 'n tyd lank 'n belangrike rol as internasionale wetenskapstaal. Dit is nog steeds die tweede belangrikste vreemde taal in die Europese onderwysstelsels na Engels. Duits is ook wêreldwyd die derde belangrikste vreemde taal in die onderwys en die tweede belangrikste taal van die internet, waar sowat agt persent van alle bladsye in Duits verskyn (teenoor sowat vyftig persent in Engels).

Martin Luther se Bybelvertaling speel in die 16de eeu 'n belangrike rol by die uitbreiding van die huidige Nieuhoogduitse standaardtaal. In 1781 gee Johann Christoph Adelung die eerste groot woordeboek van die Duitse taal uit. Die gebroeders Jacob en Wilhelm Grimm begin in 1852 met die uitgawe van die grootste Duitse woordeboek ooit, wat eers in 1961 voltooi is en tans bewerk word. Die huidige spelling is tydens die 19de eeu vasgelê en steun veral op die Ortografiese Woordeboek van die Duitse Taal (Orthographisches Wörterbuch der deutschen Sprache) van Konrad Duden, wat in 1880 verskyn het. Die laaste spellinghervorming in die Duitse taalgebied is in 1996 deurgevoer.

Die belangrikste vreemde tale in die Duitse onderwys is Engels, Frans, Russies, Spaans en Latyn. In Noordryn-Wesfale word ook Nederlands as tweede vreemde taal aangebied.

[wysig] Kultuur

Duitsland het 'n baie groot bydrae tot die wêreld se kulturele erfenis gelewer, en die land word dikwels ook die "land van digters en denkers" genoem.

Reeds in die Oud- en Middelhoogduitse tydperk ontstaan 'n literatuur van eersterangse gehalte, en Middeleeuse digters soos Walther von der Vogelweide en Wolfram von Eschenbach behoort tot die belangrikstes in Europa. Die Nibelungenlied, wat deur 'n onbekende outeur geskryf is, en die sprokies van die Gebroeders Grimm is literêre werke van wêreldfaam.

Die Bybelvertaling van Martin Luther staan aan die beginpunt van die moderne Nieuhoogduitse standaardtaal, wat in die 16de eeu die verskillende Neder- en Hoogduitse dialekte as skryftaal vervang.

Dresden: Semperoper
Vergroot
Dresden: Semperoper

Bekende Duitse skrywers tot by die 19de en vroeë 20ste eeu sluit Gotthold Ephraim Lessing, Johann Wolfgang von Goethe, Friedrich Schiller, Heinrich von Kleist, E.T.A. Hoffmann, Friedrich Hölderlin, Heinrich Heine, Annette von Droste-Hülshoff, Theodor Fontane en Rainer Maria Rilke in. 20ste eeuse wenners van die Nobelprys vir Letterkunde is Thomas Mann, Hermann Hesse, Heinrich Böll en Günter Grass. Bertolt Brecht oorheers tydens die vyftigerjare die Duitse toneelkuns.

Die filosofie is deur Duitse wysgere soos Gottfried Wilhelm Leibniz, Immanuel Kant, Johann Gottfried von Herder, Moses Mendelssohn, Novalis (bydraes tot die filosofie van die romantiese literêre beweging), Johann Gottlieb Fichte, Georg Wilhelm Friedrich Hegel, Karl Marx, Friedrich Engels, Ludwig Feuerbach, Arthur Schopenhauer, Schweitzer, Friedrich Wilhelm Nietzsche, Edmund Husserl, Hartmann, Karl Jaspers, Rosa Luxemburg, Martin Heidegger, Hannah Arendt, Rudolf Steiner, Gadamer en Jürgen Habermas verryk, terwyl Ferdinand Tönnies, Georg Simmel, Max Weber, Max Horkheimer, Theodor Wiesengrund Adorno en Luhmann groot bydraes op die gebied van die sosiologie gelewer het.

Ten opsigte van die musiek het Duitse en Duitstalige komponiste en dirigente soos Bach, Wolfgang Amadeus Mozart, Georg Friedrich Händel, Georg Philipp Telemann, Heinrich Schütz, Ludwig van Beethoven, Felix Mendelssohn Bartholdy, Engelbert Humperdinck, Otto Nicolai, Gustav Albert Lortzing, Johannes Brahms, Robert Schumann, Richard Wagner, Johann Pachelbel, Jacques Offenbach, Wilhelm Furtwängler, Hanns Eisler, Max Reger, Johann Strauss, Paul Hindemith, Carl Orff, Karlheinz Stockhausen, Hans-Werner Henze en Helmut Lachenmann wêreldwye bekendheid verwerf.

[wysig] Sport

Die nasionale sokkerspan van Duitsland
Vergroot
Die nasionale sokkerspan van Duitsland
Aanhangers van die Duitse sokkerspan in die Olimpiese Park van München tydens die wedstryd teen Costa Rica (FIFA-Wêreldbekertoernooi 2006
Vergroot
Aanhangers van die Duitse sokkerspan in die Olimpiese Park van München tydens die wedstryd teen Costa Rica (FIFA-Wêreldbekertoernooi 2006
'n "Sokker-aardbol" in Hamburg tydens die FIFA-Wêreldbekertoernooi in 2006
Vergroot
'n "Sokker-aardbol" in Hamburg tydens die FIFA-Wêreldbekertoernooi in 2006

Sokker is die gewildste sportsoort in Duitsland. Sowat 170 000 sokkerspanne met meer as ses miljoen aktiewe lede is georganiseer in die Duitse Sokkerfederasie, Deutscher Fußballbund (DFB), wat ook as gasheer van die FIFA se Wêreldbeker-toernooi in 2006 optree. Die Duitse topliga, die Bundesliga, het in die 2005/2006-seisoen die eerste sokkerliga ter wêreld geword wat nog ooit 'n gemiddelde bywoningsyfer van meer as 40 000 mense per wedstryd kon behaal. Die DFB is die grootste en suksesvolste sportorganisasie ter wêreld, en die Wêreldbekertoernooi in Duitsland is deur die president van die FIFA, Joseph Blatter, as die beste ooit beskryf. Die toernooi is deur die plaaslike bevolking met geesdrif gesteun.

Ander gewilde sportsoorte is handbal en korfbal, alhoewel hulle nie dieselfde aandag in die media geniet soos sokker en byvoorbeeld Formule 1-motorwedrenne nie, yshokkie, tennis en fietswedrenne.

Duitsland beskik ook oor talle bekende wintersportsterre, wat gereeld medaljes by die Olimpiese Winterspele en Europese en Wêreldkampioenskappe wen.

[wysig] Sien ook

Commons
Multimedia oor hierdie onderwerp is te vinde op Wikimedia Commons onder die titel:

[wysig] Eksterne skakels


 
Europese Unie (EU)
Vlag van die Europese Unie
België | Ciprus | Denemarke | Duitsland | Estland | Finland | Frankryk | Griekeland | Hongarye | Ierland | Italië | Letland | Litaue | Luxemburg | Malta | Nederland | Oostenryk | Pole | Portugal | Slowakye | Slowenië | Spanje | Swede | Tsjeggië | Verenigde Koninkryk


Lande in Europa
Albanië | Andorra | Armenië1 | Azerbeidjan1 | België | Bosnië-Herzegowina | Bulgarye | Kroasië | Ciprus2 | Denemarke | Estland | Finland | Frankryk | Duitsland | Georgia1 | Griekeland | Hongarye | Ysland3 | Ierland | Italië | Letland | Liechtenstein | Litaue | Luxemburg | Macedonië | Malta | Moldawië | Monaco | Montenegro | Nederland | Noorweë | Oostenryk | Pole | Portugal | Roemenië | Rusland1 | San Marino | Serwië | Slowakye | Slowenië | Spanje | Swede | Switserland | Tsjeggië | Turkye1 | Oekraïne | Verenigde Koninkryk | Vatikaanstad | Wit Rusland
Afhanklikhede: Akrotiri and Dhekelia2 | Faroëreilande | Gibraltar | Guernsey | Jan Mayen | Jersey | Eiland Man | Svalbard
1. Land deels in Asië. 2. Geografies in Asië , maar gereeld beskou as deel van Europa agv kulturele en historiese oorwegings. 3. Land deels in Noord-Amerika
Ander tale
Our "Network":

Project Gutenberg
https://gutenberg.classicistranieri.com

Encyclopaedia Britannica 1911
https://encyclopaediabritannica.classicistranieri.com

Librivox Audiobooks
https://librivox.classicistranieri.com

Linux Distributions
https://old.classicistranieri.com

Magnatune (MP3 Music)
https://magnatune.classicistranieri.com

Static Wikipedia (June 2008)
https://wikipedia.classicistranieri.com

Static Wikipedia (March 2008)
https://wikipedia2007.classicistranieri.com/mar2008/

Static Wikipedia (2007)
https://wikipedia2007.classicistranieri.com

Static Wikipedia (2006)
https://wikipedia2006.classicistranieri.com

Liber Liber
https://liberliber.classicistranieri.com

ZIM Files for Kiwix
https://zim.classicistranieri.com


Other Websites:

Bach - Goldberg Variations
https://www.goldbergvariations.org

Lazarillo de Tormes
https://www.lazarillodetormes.org

Madame Bovary
https://www.madamebovary.org

Il Fu Mattia Pascal
https://www.mattiapascal.it

The Voice in the Desert
https://www.thevoiceinthedesert.org

Confessione d'un amore fascista
https://www.amorefascista.it

Malinverno
https://www.malinverno.org

Debito formativo
https://www.debitoformativo.it

Adina Spire
https://www.adinaspire.com