Ebooks, Audobooks and Classical Music from Liber Liber
a b c d e f g h i j k l m n o p q r s t u v w x y z





Web - Amazon

We provide Linux to the World


We support WINRAR [What is this] - [Download .exe file(s) for Windows]

CLASSICISTRANIERI HOME PAGE - YOUTUBE CHANNEL
SITEMAP
Audiobooks by Valerio Di Stefano: Single Download - Complete Download [TAR] [WIM] [ZIP] [RAR] - Alphabetical Download  [TAR] [WIM] [ZIP] [RAR] - Download Instructions

Make a donation: IBAN: IT36M0708677020000000008016 - BIC/SWIFT:  ICRAITRRU60 - VALERIO DI STEFANO or
Privacy Policy Cookie Policy Terms and Conditions
Berlyn - Wikipedia

Berlyn

vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.

Berlyn / Berlin

Die Brandenburger Tor, een van Berlyn se bekendste bakens

Land: Duitsland
Deelstaat: Berlyn
Stigting: 1237
Koördinate: 52° 31' N, 13° 23' O
Oppervlakte: 891,82 km²
Bevolking: 3 398 205 (April 2006)
Bevolkingsdigtheid: 3 810,4 / km²
Hoogte: 34 - 115 m bo seespieël
Burgemeester: Klaus Wowereit (SPD)

Berlyn (Duits: Berlin) is die hoofstad en grootste stad van Duitsland met 3 398 000 inwoners in die stad self en sowat 4,3 miljoen in die metropolitaanse gebied, wat onder meer Potsdam insluit (30 September 2005). 460 555 buitelanders (31 Desember 2005) leef in Berlyn, wat ook een van die grootste Turkse gemeenskappe in Europa het. Na Londen is Berlyn die tweede grootste stad in die Europese Unie en een van die grootste metropolitaanse gebiede.

Berlyn lê in die noord-ooste van die huidige Duitsland en word omring deur die deelstaat Brandenburg. Die stad dien in die verloop van sy geskiedenis meermale as die hoofstad van Duitse state soos die Keurvorstedom Brandenburg, die Koninkryk Pruise, die Duitse Ryk (1871 tot 1945) en die Duitse Demokratiese Republiek (DDR, 1949 tot 1990). Met die ontbinding van die ou provinsie Pruise deur die geallieerde magte in die jaar 1947 word Berlyn 'n afsonderlike deelstaat.

Na die hereniging van die twee Duitse state op 3 Oktober 1990 het Berlyn opnuut die hoofstad van heel Duitsland geword en is sedert die jaar 1999 ook weer die setel van die Duitse regering en parlement. Die stad is tans nie meer die ekonomiese sentrum van Duitsland nie, maar dit bly een van die invloedrykste hoofstede van die Europese Unie en ontwikkel veral danksy die ryk kulturele erfenis tot een van die gewildste toeristebestemmings in Europa.

Berlyn beskik oor eersterangse tersiêre onderwysinstellings, wetenskaplike institute, teaters, museums, argitektoniese besienswaardighede en 'n polsende naglewe, wat almal wêreldfaam het. Dit is lankal nie meer die rykste stad van Duitsland nie, maar nog steeds sy opwindendste. Berlyn was en is veral 'n smeltkroes van kulture en leefstyle.

Inhoud

[wysig] Geskiedenis

Alexanderplatz
Vergroot
Alexanderplatz

Berlyn lê aan die Spree- en Havelriviere. Die naam is van Wendiese oorsprong (die Wende is vandag 'n klein Slawiese minderheid in die deelstaat Brandenburg). Teen ongeveer 1200 was daar twee visserdorpies aan die Spreerivier, Cölln en Berlyn. In 1237 kry albei dorpies stadstatus, en in 1307 het die twee gemeenskappe besluit om saam te smelt. In 1400 was die inwonertal ongeveer 8 000. Die stad was in die 15de eeu lid van die Hanse-gemeenskap van stede en sedert 1486 die woonplek van Brandenburg se keurvorste. Die reformasie word in 1539 ingevoer.

Die Berlynse katedraal (Berliner Dom) tydens die Ligtefees (Festival of Lights)
Vergroot
Die Berlynse katedraal (Berliner Dom) tydens die Ligtefees (Festival of Lights)

Die Dertigjarige Oorlog, wat in die tydperk tussen 1618 en 1648 groot dele van Duitsland verwoes, het ook vir Berlyn rampspoedige gevolge. Die stad verloor sowat die helfte van sy inwoners. Frederik Willem, wat as die Groot Keurvors bekend staan, regeer vanaf die jaar 1640. Berlyn het destyds 6 000 inwoners, en die vors besluit hierdie getal deur middel van 'n beleid van verdraagsaamheid en immigrasie te verhoog. In 1641 is Berlyn met nuwe voorstede soos Friedrichswerder, Dorotheenstadt en Friedrichstadt vergroot. Barokgeboue soos die Berlynse Slot en die Zeughaus dateer uit hierdie tydperk.

Vyftig Joodse gesinne uit Oostenryk vind in 1671 'n nuwe tuiste in die stad. Met die Edik van Potsdam nooi Friedrich Wilhelm in 1685 Franse Hugenote uit om hulle in Berlyn en Brandenburg te vestig. Meer as 15 000 Franse immigrante stroom na die gebied, waarvan 6 000 na Berlyn. Teen die jaar 1700 verteenwoordig die Franse inwoners 'n vyfde van die Berlynse bevolking en oefen 'n groot invloed op die kulturele lewe van die stad uit. Groot groepe immigrante kom daarnaas uit gebiede soos Boheme, Pole en Salzburg. In 1709 het Berlyn 57 000 inwoners.

Die stad word die belangrikste ekonomiese en kulturele sentrum van Pruise. Tydens Koning Frederik die Grote se heerskappy oorskry die stad se inwonertal 100 000. Die stad word in 1760 tydelik deur die Russiese leër beset, en in 1806 tot 1808 deur die Franse.

In 1810 word die universiteit gestig wat die geestelike en sedelike vernuwing van Pruise bevorder. Die beroemde argitek Schinkel skep 'n aantal geboue in die styl van die klassisisme. Berlyn is die middelpunt van die Pruisiese Revolusie van 1848 wat met die neerlaag van die demokrate eindig.

Die Bundeskanzleramt huisves die kantoor van die bondskanselier
Vergroot
Die Bundeskanzleramt huisves die kantoor van die bondskanselier

Die stad groei vinnig gedurende die 19de eeu en word in 1871 die hoofstad van die Duitse Ryk. 'n Tyd van groeiende welvaart begin: Berlyn word een van die belangrikste stede van die wêreld en die grootste nywerheidsentrum van Europa. Talle kulturele geboue soos die Pergamon-museum, die Pruisiese Staatsbiblioteek, die Kaiser-Friedrich-museum, Schiller-teater en Staatsopera word opgerig. Honderdduisende arbeiders en hulle gesinne leef egter in groot armoede.

As gevolg van die verlore Eerste Wêreldoorlog neem Keiser Wilhelm II in 1918 afstand van die troon, en in Berlyn word die Duitse Republiek uitgeroep. Die jare 1918 en 1919 word gekenmerk deur rewolusionêre onluste, kommunistiese spartakiste en ander groepe wat veg in die strate. Regse soldate vermoor die arbeiderleiers Rosa Luxemburg en Karl Liebknecht.

Die Berlynse Reichstag, setel van die Duitse parlement (Bundestag)
Vergroot
Die Berlynse Reichstag, setel van die Duitse parlement (Bundestag)

Die huidige Berlyn is in 1920 geskep toe verskillende stede, dorpe en plase by die stad Berlyn ingelyf is. Berlyn word sommer oornag die tweede grootste stad van Europa.

Dit is die begin van die dekade, wat as die "Goue Twintigerjare" bekend staan. Na die ontberings van die oorlogsjare borrel die mense oor van lewenslus. Digters, joernaliste, kunstenaars en wetenskaplikes uit die binne- en buiteland stroom na Berlyn. Dit is die hoofstad van die natuurwetenskappe, tegniek en kultuur, nie net vir die Duitstalige lande nie, maar ook vir groot dele van Europa. In die jare tussen 1924 en 1929 is Berlyn die Europese hoofstad van die naglewe en vermaak. Teen die einde van die twintigerjare is daar 49 teaters, drie operateaters, drie variëté-teaters en drie revueteaters. Sowat 1 000 uitgewers publiseer 2 000 tydskrifte en 40 koerante. Danksy Max Reinhardt en Bertolt Brecht beleef die toneelkuns sy bloeitydperk. Tegelykertyd raak die publiek ontslae van die ou morele beperkings. Daar is ook geen taboe meer nie. Ontblote danseresse, lasterlike vermaak, dobbelry, pornografiese kabaretskoue oorheers die naglewe van die stad. Die tyd is ook ryp vir nuwe kunsvorms soos dadaisme, surrealisme en jazz. Dansverslaafdes is mal oor die nuwe tango, charleston en rumba-danse.

Die bouval van die Kaiser-Wilhelm-Gedächtniskirche is nou 'n oorlogsmonument. Die argitek Hugo Eiermann ontwerp die nuwe kerkgebou
Vergroot
Die bouval van die Kaiser-Wilhelm-Gedächtniskirche is nou 'n oorlogsmonument. Die argitek Hugo Eiermann ontwerp die nuwe kerkgebou

In die dertigerjare het Berlyn 4,3 miljoen inwoners. 'n Groot deel van die stadsentrum word in 363 lugaanvalle deur geallieerde bomwerpers vernietig, waarin 50 000 mense sterf. Meer as een miljoen mense vlug uit die stad. Russiese troepe verower die stad en beset dit van 25 April tot 2 Mei 1945.

Ná die Tweede Wêreldoorlog word die stad in vier sektore opgedeel; die Amerikaanse, Franse en Britse sektore (Wes-Berlyn) is van 1949 tot 1989 'n bundesland (provinsie) van die Bondsrepubliek Duitsland met 'n besondere statuut, terwyl die Russiese sektor (Oos-Berlyn) die hoofstad van die Duitse Demokratiese Republiek geword het. Die Russe probeer die ekonomie van Wes-Berlyn in 1948 deur 'n blokkade lamslaan, maar geallieerde magte – waaronder ook Suid-Afrikaners – begin egter met die "Lugbrug"-operasie waarin kos, steenkool en ander goedere vanuit Wes-Duitsland ingevlieg word.

Rotes Rathaus, tans die raadsaal van Berlyn
Vergroot
Rotes Rathaus, tans die raadsaal van Berlyn

In 1961 word die twee helftes deur 'n betonmuur – die Berlynse Muur – geskei om 'n einde te maak aan die reuse stroom Oos-Duitse vlugtelinge wat beter lewensomstandighede in die Weste soek. 'n Wêreldkrisis is die gevolg, en die Russiese regering eis dat Wes-Berlyn 'n "vrye stad" moet wees, wat deur die westelike geallieerdes verwerp word. Ná die bou van die muur stabiliseer die situasie in Oos-Berlyn: Die historiese oostelike stadsentrum met die Alexanderplatz verander teen die einde van die sestigerjare met 'n reeks moderne geboue wat Oos-Berlyn se rol as "sosialistiese" hoofstad van die Duitse Demokratiese Republiek sou bevestig. Duisende nuwe woonstelle word aan die oostelike stadgrens opgerig. In 1971 word 'n ooreenkoms gesluit wat Wes-Duitse toegang tot Wes-Berlyn verseker.

Berlyn staan in die middelpunt van die studentebeweging van die sestigerjare. Die regse pers, wat veral deur die uitgewer Axel Springer verteenwoordig word, probeer die bevolking deur haatspraak teen die studente opstook. Tydens 'n betoging teen die besoek van die Sjah van Iran word die student Benno Ohnesorg, 'n verklaarde pasifis, op 2 Junie 1967 sonder enige rede deur 'n polisieman in die kop geskiet en gedood. Die voorval lei tot die radikalisering van 'n deel van die studentebeweging, wat onder meer as Rote Armee Fraktion (RAF, gestig deur Ulrike Meinhof en Andreas Baader) 'n gewapende stryd teen die staat en sy verteenwoordigers begin voer.

1989: Mense dans op die Berlynse Muur
Vergroot
1989: Mense dans op die Berlynse Muur

Ná die hereniging van Wes- en Oos-Berlyn in 1990 besluit die Duitse parlement om Berlyn weer die regeringsetel van Duitsland te maak. Nuwe regeringsgeboue ontstaan in die stadsentrum, ministeries en ambassades verhuis van die ou hoofstad Bonn na die nuwe.

Berlyn is vandag 'n aparte deelstaat van die Bondsrepubliek Duitsland. Een van die erfenisse van meer as veertig jaar se politieke skeiding is die dubbele infrastruktuur wat in Oos- en Wes-Berlyn geskep is - die stad beskik nou byvoorbeeld oor twee sentrale besigheidsdistrikte (Kurfürstendamm en Mitte/Friedrichstraße), drie operateaters, twee planetariums (Insulaner-Sternwarte en Zeiss-Großplanetarium) en twee dieretuine (Zoologischer Garten en Tierpark Friedrichsfelde).

Die Berlynse televisietoring
Vergroot
Die Berlynse televisietoring

[wysig] Geografie en klimaat

Met 'n oppervlakte van 891,82 km² (waarvan 19 persent bosgebiede en 6,7 persent water) is Berlyn een van die grootste stede ter wêreld. Die digbevolkte stadskern word omring deur 'n voorstadgordel met 'n landelike karakter. Groot mere soos die Havel, Wannsee en Müggelsee maak deel uit van die stadsgebied. Die stad lê in 'n gebied waar die klimaat geleidelik kontinentale trekke begin aanneem; in die laaste dekade is daar gereëld droë, warm somers en winters met gematigde temperature. Die gemiddelde jaarlikse temperatuur is 9,1°C, en daar word 2 135 sonskynure gemeet (2003).

Jan. Feb. Mar. Apr. Mei Jun. Jul. Aug. Sep. Okt. Nov. Des.
Gemiddelde maksimale daaglikse temperatuur (°C) 2,9 4,2 8,5 13,2 18,9 21,6 23,7 23,6 18,8 13,4 7,1 4,4
Gemiddelde minimale daaglikse temperatuur (°C) −1,9 −1,5 −1,3 4,2 9,0 12,3 14,3 14,1 10,6 6,4 2,2 −0,4
Gemiddelde reënval in (mm) 42,3 33,3 40,5 37,1 53,8 68,7 55,5 58,2 45,1 37,3 43,6 55,3
Gemiddelde reëndae 10,0 8,0 9,1 7,8 8,9 9,8 8,4 7,9 7,8 7,6 9,6 11,4

[wysig] Demografie

Treptower Park
Vergroot
Treptower Park

Van die 3,39 miljoen inwoners is 52,9 persent vroue en 48,8 persent mans. 5 persent van die inwoners is jonger as 6 jaar; 10,4 persent is tussen 6 en 18 jaar oud; 41,4 persent is in die ouderdomsgroep tussen 18 en 45 jaar; 26,6 persent is in die ouderdomsgroep 45-65; en 16,6 persent is ouer as 65 jaar.

In 2005 was daar 29 446 lewende geboortes en 31 792 sterfgevalle. 115 267 mense het hulle in Berlyn gevestig, terwyl 113 581 inwoners na ander stede en lande verhuis het.

Die grootste geloofsgroepe volgens amptelike gegewens was in (2004): 756 800 (22 persent) Lutherane, 307 000 (9 persent) Rooms-Katolieke, 210 000 (6 persent) Moslems, 90 000 ander Christelike kerke, 12 000 Jode, 6 500 boeddhiste; 60 persent ongebonde.

Daar is meer as 460 000 buitelanders uit 185 lande, onder meer sowat 117 700 Turke, 40 800 Pole, 24 800 Serwiërs, 14 000 Russe, 13 800 Italianers, 12 600 Amerikaners, 11 500 Franse, 11 500 Kroate, 11 300 Viëtnamese, 10 400 Bosniërs, 10 100 Grieke, 9 200 Britte, 8 400 Oostenrykers, 7 900 Libanese, 5 900 Thais, 5 800 Spanjaarde en 5 600 Sjinese. Daar is vermoedelik sowat 200 000 onwettige immigrante. 41,5 persent van die buitelanders in Berlyn is werkloos.

[wysig] Ekonomiese basis

Die Sony Center spog met luukse woonstelle, rolprentteaters, restourante en die Deutsche Filmmuseum
Vergroot
Die Sony Center spog met luukse woonstelle, rolprentteaters, restourante en die Deutsche Filmmuseum

Sedert die einde van die 19de eeu is Berlyn die grootste nywerheidstad in Europa. Die verwoestings van die Tweede Wêreldoorlog en die gevolge van die verdeling lei tot die verskuiwing van baie nywerhede na Wes-Duitsland, en slegs danksy subsidies van die Wes-Duitse regering kan 'n aantal vervaardigers oortuig word om in Wes-Berlyn te produseer. Oos-Berlyn geniet 'n voorrang wat die verskaffing van gebruiksgoedere en huisvesting in die Duitse Demokratiese Republiek betref.

Die Teufelsberg ("Duiwelsberg"), die hoogste in die stad, is kunsmatig uit die puinhope van die Tweede Wêreldoorlog opgehoop
Vergroot
Die Teufelsberg ("Duiwelsberg"), die hoogste in die stad, is kunsmatig uit die puinhope van die Tweede Wêreldoorlog opgehoop

Terwyl daar vandag nog groot inheemse farmaseutiese ondernemings soos Schering en Berlin Chemie is, groei die tersiêre sektor nou baie sterk. Tegelykertyd verloor die stad, wat in die twintigste eeu nog die nywerheidsentrum van Europa is, steeds meer van sy industriële basis. Terwyl daar in Duitsland sowat 70 nywerheidswerkers per 1 000 inwoners is, het hierdie getal in Berlyn tot sowat 30 gedaal. 'n Groot deel van Wes-Berlyn se nywerhede is ná die Tweede Wêreldoorlog, toe die stad as 'n kapitalistiese eiland in die hart van die DDR bestaan, deur subsidies aangemoedig om in die stad te bly.

Berlyn toon die laagste ekonomiese groeikoers van alle Duitse Bundesländer, en die werkloosheidsyfer is in Augustus 2006 17,4 persent. As gevolg van die herenigingsproses is daar 'n massiewe skuldlas opgehoop, wat die stad heel moontlik nooit meer self kan afbetaal nie.

[wysig] Regering

Die parlement van Berlyn (Abgeordnetenhaus) word elke vier jaar deur die bevolking gekies. In 2002 het 'n koalisie van SPD (Sosiaal-Demokratiese Party van Duitsland) en Die Linkspartei/PDS (Party van die Demokratiese Sosialisme) die regering (Senat) gevorm. Die burgemeester (Regierender Bürgermeister) is Klaus Wowereit (SPD).

[wysig] Universiteite

Vier universiteite en 'n aantal Fachhochschulen (technikons) — waaronder die Freie Universität Berlin, Technische Universität, Humboldt-Universität, Universität der Künste, Fachhochschule für Wirtschaft, Technische Fachhochschule en Fachhochschule für Technik und Wirtschaft — het altesaam 150 000 studente (2005).

[wysig] Openbare vervoer en lughawens

Die gekombineerde mol- en stadstreinstasie Friedrichstraße
Vergroot
Die gekombineerde mol- en stadstreinstasie Friedrichstraße
Die opening van die nuwe hoofstasie in Mei 2006
Vergroot
Die opening van die nuwe hoofstasie in Mei 2006

Berlyn beskik oor 5 334 kilometer se openbare strate en 1,44 miljoen geregistreerde voertuie. Moltrein, S-Bahn (stadstrein), trem, busse, nagbusse en snelbusse (X- en metrobusse) dek die hele stadsgebied met 2 286 kilometer se linies. Daar is ook fietspaaie dwarsoor die stad. Die internasionale lughawens is Berlin-Tegel Otto Lilienthal in die noordweste en Berlin-Schönefeld in die suidooste, met jaarliks 17 miljoen passasiers (2005). Die belangrikste internasionale lughawe in Duitsland is egter Frankfurt am Main. 'n Nuwe gemeenskaplike lughawe vir die deelstate Berlyn en Brandenburg word tans in Berlyn-Schönefeld gebou.

Die nuwe Berliner Hauptbahnhof (Berlynse hoofstasie) is op 26 Mei 2006 feestelik ingewy. Die stasie, wat volgens die Duitse Spoorweë Deutsche Bundesbahn die modernste ter wêreld is, is deur die Letties-gebore Duitse argitek Meinhard von Gerkan ontwerp en teen 'n koste van sowat 700 miljoen Euro opgerig. Die stasie verbind die tradisionele treinstasie-argitektuur met moderne konsepte en sal daagliks sowat 1 100 treine en 300 000 passasiers hanteer.

[wysig] Internasionale uitstallings en filmfeeste

Belangrike uitstallings waaraan ook Suid-Afrika deelneem is die Internationale Grüne Woche (vir landbou, tuinbou en kos; dit vind jaarliks in Januarie plaas) en die Internationale Tourismusbörse (reis- en toerisme-ekspo, jaarliks in Maart). Naas die Consumer Electronics Show (CES) in Las Vegas (Verenigde State) is die Internationale Funkausstellung die grootste uitstalling van elektroniese verbruikersware (soos televisie en hoëtroustelle) wat vanaf 2005 jaarliks plaasvind en – anders dan die CES – oop staan vir privaatbesoekers.

Februarie is die maand van die jaarlikse Berlinale, die internasionale filmfees van Berlyn.

Die nuwe Holocaust-monument
Vergroot
Die nuwe Holocaust-monument

[wysig] Love Parade, Karneval der Kulturen en Christopher Street Day-parade

Die Love Parade, wat in die jare negentig as 'n klein straatfees begin, het in sy hoogty meer as een miljoen jongmense gelok. Die reuse partytjie van dans en tegnomusiek het in Julie 2006 weer plaasgevind. In 2004 en 2005 is dit weens 'n gebrek aan fondse en borge gekanselleer. Die ander bekende feeste is die Karneval der Kulturen, 'n kleurryke fees met meer as 4 000 groepe en dansers van dwarsoor die wêreld, wat gedurende Pinkster plaasvind, en die Christopher Street Day-parade van die gay en lesbiese gemeenskap, wat in Junie gereeld meer as 'n halfmiljoen toeskouers lok.

[wysig] Toerisme

In 2004 het Berlyn meer as 5,9 miljoen besoekers gelok. Vir die 79 600 hotelbeddens is sowat 13,26 miljoen oornagtings geregistreer, en die stad is nou besig om een van die belangrikste reisbestemmings in Europa te word. Die toerismebedryf bied tans 170 000 werkgeleenthede. Welgestelde besoekers uit die Oekraïne, die Russiese Federasie en Oos-Asië is die vernaamste kliënte in Berlyn se luukse winkels. Die gemiddelde kamerprys in 'n vier- en vyfster-hotel is in 2004 sowat 130 Euro wat baie gunstig vergelyk met Parys (212 Euro) en Londen (300 Euro).

[wysig] Besienswaardighede

Deutscher Dom
Vergroot
Deutscher Dom
  • Die Kurfürstendamm met sy luukse winkels en die pragstraat Unter den Linden met talle historiese geboue is die belangrikste strate vir die besoeker.
  • Die KaDeWe (Kaufhaus des Westens) in die Tauentzienstrasse is die grootste afdelingswinkel op die Europese vasteland, en sy boonste verdieping bied kos en drank van dwarsoor die wêreld vir die fynproewer.
  • Argitekte van dwarsoor die wêreld het na die hereniging van Oos- en Wes-Berlyn begin om die nuwe Berlyn te skep. Die ou Potsdamer en Leipziger Platz wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog verwoes is, het nou herrys met die Sony-Center as sy besige middelpunt. Sy imposante dak lyk soos 'n klein weergawe van die heilige berg Foedjijama in Japan. Die Beisheim-Center is soos die Sony Center 'n klein stadsbuurt naby die Potsdamer Platz, en sy torings is in die styl van die New Yorkse Art Déco ontwerp. Die sentrum spog met twee vyfster-hotelle, die Marriott en The Ritz-Carlton. 'n Reusagtige muurskulptuur met sowat 28 000 ligdiodes verfraai en verlig die ontvangsaal van die Marriott-hotel. Die Leipziger Platz het nou weer die vorm van 'n agthoek. Voor die Tweede Wêreldoorlog was dit die adres van een van die grootste afdelingswinkels, maar intussen is daar nuwe, moderne geboue soos die Kanada-Haus, die nuwe ambassade van Kanada. Die ambassade, wat deel uitmaak van die Oktagon-gebouekompleks, spog met 'n daktuin wat die loop van die McKenzie-rivier versinnebeeld. Dit is die eerste diplomatieke gebou van die Noord-Amerikaanse land in Duitsland, wat Kanada teen 'n koste van sowat 50 miljoen Euro laat oprig. Kalksteen uit die provinsie van Manitoba en hout uit die provinsies van Québec en Ontario is as boumateriaal ingevoer. 'n Winkeldeurgang en 'n mediasentrum, wat inligting oor Kanada ter beskikking stel, gaan deel van die ambassade wees (Leipziger Platz 17).
Berlyn, Potsdamer Platz
Vergroot
Berlyn, Potsdamer Platz
  • Die historiese stadsentrum van Mitte lok met sy Museumsinsel (eiland met verskillende museums, hier word die beroemde Pergamon-altaar getoon), die Gendarmenmarkt met die Deutscher en Französischer Dom (Duitse en Franse Katedraal, laasgenoemde bied vanuit sy koepel 'n uitsig oor die hele stad), die Reichstag en Brandenburger Tor (Brandenburgse Poort). Die Ou Stadsaal van Berlyn (Rotes Rathaus) is die setel van die Berlynse Senaat. Die Ou Stadhuis (Altes Stadthaus) naby die Raadsaal is tussen 1902 en 1911 deur die argitek Ludwig Hoffmann opgerig. Van 1950 van 1990 dien die gebou as setel van die Raad van Ministers (Ministerrat) van die Duitse Demokratiese Republiek, en hier is in 1990 die Verdrag oor die Duitse Hereniging geformuleer. Die standbeeld van die Romeinse geluksgodin Fortuna op die koepel van die Stadhuis-toring, wat in 1951 verdwyn het en vermoedelik opgesmelt is, word in 2004 as deel van die historiese rekonstruksie van die gebou weer aangebring. Die figuur van sowat 3 meter is deur 'n plaaslike mesenas geborg. Die Stadhuis dien vandag as 'n stedelike administrasiegebou. Moderne argitektuur sluit die Neue Nationalgalerie, Staatsbibliothek, Philharmonie (hier speel die Berliner Philharmoniker) en die Televisietoring op die Alexanderplatz in.
  • Die Televisietoring is na 'n boutyd van 53 maande op 3 Oktober 1969 ingewy. Met 368 meter is dit die hoogste gebou in Duitsland en die vierde hoogste in Europa. Vyf hysbakke neem besoekers in 40 sekondes na die uitkykplek (203 meter bo-oor die grond) en die roterende restourant. Die kenmerkende silwerkoeël van die toring is deur die bekende DDR-argitek Herrmann Henselmann ontwerp en simboliseer die eerste mensgemaakte satelliet, die Sowjetse Sputnik. Die antennes en satellietskottels, wat op vyf verdiepings aangebring is, saai onder meer die digitale televisie- en radioprogramme volgens die DVB-T-standaard uit, terwyl ander deur ambassades gebruik word.
  • In die ou Diplomatebuurt is monumentale geboue uit die Nazi-era soos die Italiaanse en Japanse ambassades herstel; Suid-Afrika se missie het 'n nuwe gebou in die gebied opgerig.
  • Die nuwe Holocaust-monument van die Amerikaanse argitek Peter Eisenman, wat uit duisende steles bestaan, herinner aan die ses miljoen Joodse burgers van verskillende Europese lande wat in die konsentrasiekampe vermoor is. Sowat 'n derde van die Joodse bevolking van Duitsland was in 1933 in Berlyn woonagtig. Die besluit om Joodse burgers te vermoor is op 20 Januarie 1942 in die berugte Wannsee-villa geneem wat vandag ook 'n gedenkplaas is (Steglitz-Zehlendorf). Danksy immigrasie uit Rusland het die Joodse gemeente van Berlyn weer gegroei; naas die moderne Huis van die Joodse Gemeente van Berlyn met sy uitstekende restourant is die herstelde Ou Sinagoge in die Oosterse styl met sy goue dak een van die groot besienswaardighede.
  • Die Botaniese Tuin (Botanischer Garten) bestaan al meer as 300 jaar en is op een na die grootste wêreldwyd met 'n oppervlakte van meer as 43 hektaar en spog met 22 000 plantespesies (Königin-Luise-Strasse 6-8, Steglitz-Zehlendorf).
  • Die Zeiss-Planetarium in Treptow beskik oor die langste refraktor-teleskoop ter wêreld.
Neue Nationalgalerie
Vergroot
Neue Nationalgalerie
  • Die Museumsdorf Düppel in die buitewyk Dahlem is 'n namaaksel van die Middeleeuse dorpie wat omtrent 1170 in die gebied gestig word. Aan die begin van die jare sewentig word die nedersetting, wat oorspronklik uit 16 plase bestaan, heropgerig. Die museum vertoon ou plaasdiere en -plante, wat hier weer geteel word, en tradisionele ambagte soos die Middeleeuse skoenmakery en pottebakkery.
  • Die Hamburger Bahnhof is die oudste stasie in Berlyn en dien na sy renovasie as 'n museum vir moderne kuns. Kunswerke van onder meer Andy Warhol en Roy Lichtenstein is hier te sien. Saans word die gebou met blou lig bestraal (Mitte, Invalidenstrasse 50).
  • Die Grosser Wasserspeicher is 'n ou viskoelkamer wat vandag vir klankinstallasies gebruik word. Besoekers bereik die binneste van die toring via spiraalvormige wandelgange en kan 'n buitengewone mengsel van klank en kleure geniet (Belforter Strasse).
  • Die Pfaueninsel (Poumannetjieseiland) in die Havelmeer is as 'n soort kunsmatige Arkadië vir die Pruisiese prinsesse ontwerp. Daar is talle argitektoniese besonderhede wat 'n mens op sy speurtog kan ontdek. 'n Reusagtige volière (voëlpark) met eksotiese voëls en natuurlik poumannetjies bekoor voëlliefhebbers. Op die eiland mag nie gerook word nie, en ook motors word nie toegelaat nie.
  • Schwanenwerder lê soos die Pfaueninsel in die Havelmeer, in die weste van die stad. Die nyweraar Wilhelm Wessel koop die skiereiland in 1882 en laat dit in 'n pragtige landskaptuin omskep. Voor die Eerste Wêreldoorlog is die skiereiland 'n gewilde woonplek vir die rykste burgers van die stad. Na 1933 word baie Joodse eienaars gedwing om hul villa's teen 'n lae prys aan prominente lede van die Nasionaal-Sosialistiese Party te verkoop, waaronder die Minister van Propaganda, Joseph Goebbels, en die argitek Albert Speer.
  • Kladow en Gatow is voormalige boeredorpe aan die westelike oewer van die Havelmeer. Teen die jaar 1900 begin welgestelde burgers hier met die oprigting van 'n aantal somerhuise. Natuureservate langs die meer, baie klein baaie, parke en statige landhuise oorheers die gebied. Die Alte Dorfkirche Gatow (Ou Dorpskerk van Gatow) is een van die oudste geboue in die gebied en ontstaan vanaf die veertiende eeu; die skildery oor die altaar dateer uit die tydperk omtrent 1495 en is deur die Nürnbergse meester Michael Wolgemut geskilder.

[wysig] Kookkuns

Die dak van die Sony Center is 'n simboliese namaaksel van die Japanse berg Foedjijama
Vergroot
Die dak van die Sony Center is 'n simboliese namaaksel van die Japanse berg Foedjijama

Die gewildste geregte is moontlik die beroemde Berlynse kerriewors en die Turkse döner ('n met vleis en groente gevulde brood), wat albei by straatstalletjies verkoop word. Nietemin is daar ook sowat 6 000 restourante, waarvan die helfte tradisionele Duitse kookkuns bied. Byna alle lande het 'n restourant met hulle spesialiteite in die stad.

  • Angkor Wat (restourant): Kambodjaanse braaivleis (Tiergarten, Paulstrasse 22).
  • Der Blaue Engel (restourant/bistro): Soos die naam al aandui, is die spyskaart van hierdie bistro 'n versameling van Marlene Dietrich se gunstelingresepte. Die geboortehuis van hierdie groot Berlynse rolprentster is om die hoek, in die Leberstrasse (Schöneberg, Gotenstrasse 1).
  • Borchardt (restourant): Franse en internasionale kookkuns (Mitte, Französische Strasse 47).
  • Confiserie Melanie (lekkernye): 4 000 lekkernye soos seegraskonfyt en knoffelpralinees (Charlottenburg, Goethestrasse 4).
  • Facil (restourant): Die restourant in die vyfde verdieping van die Madison-hotel spog met 'n glasdak wat in die somer oop geskuif kan word - sodoende kry jy 'n opelug-eetsaal! (Tiergarten, Potsdamer Strasse 3).
  • KaDeWe (afdelingswinkel): Die delicatessen-afdeling van die KaDeWe is die grootste in Europa - sowat 7 000 m² met 400 verskillende soorte brood, 1 800 soorte kaas, vleis, vis, groente, vrugte, speserye, en van dwarsoor die wêreld word kos en drank ingevoer en hier verkoop (Schöneberg, Tauentzienstrasse 21-24).
  • Lutter & Wegner seit 1811 (restourant): Duits-Oostenrykse kookkuns (Charlottenburg, Schlüterstrasse 55).
  • Mao Thai (restourant): Thailand se kookkuns word hier 'n bietjie aangepas by die Europese smaak (Prenzlauer Berg, Wörther Strasse 30).
  • Merhaba (restourant): Turkse kookkuns (Kreuzberg, Hasenheide 39).

[wysig] Inkopies en vermaak

Berlyn-Treptow: 'n Bogrondse metrolyn ry oor die Oberbaum-brug
Vergroot
Berlyn-Treptow: 'n Bogrondse metrolyn ry oor die Oberbaum-brug
  • Ampelmann Galerie Shop: Oos-Berlyn het sy eie gewilde "mannetjie" op die robotte. Hierdie winkel verkoop alles van lampe tot by mode - met die "Ampelmännchen" daarop (Mitte, Hackesche Höfe V).
  • Conrad Electronic: Hoëtrou- en elektroniese artikels op drie verdiepings (Kreuzberg, Hasenheide 14-15).
  • Kaufhaus Schrill: Ongewone, grillige kleure en patrone? Indien jou modestyl dalk opvallend mag wees, het hierdie winkel iets vir jou! (Charlottenburg, Bleibtreustrasse 46).

[wysig] Kuns en kultuur

  • Akira Ikeda Gallery (kunsgalery): Hierdie galery met filiale in Japan en die Verenigde State toon van die beste kunstenaars (Prenzlauer Berg, Schönhauser Allee 176).
  • Berliner Philharmonie (konsertsaal): Die tuiste van die Berlynse Philharmoniese orkes het 2,400 sitplekke in die Philharmonie en 1,200 in die kamermusieksaal (Tiergarten, Herbert-von-Karajan-Strasse 1).
  • Camera Work (fotogalery): Die werk van die beste modefotograwe word hier getoon (Charlottenburg, Kantstrasse 149).
  • Deutsche Oper Berlin (operahuis): Opera in die weste van Berlyn (Charlottenburg, Bismarckstrasse 35).
  • Komische Oper (operahuis): Geopen in 1947 is dit die kleinste operahuis van Berlyn (Mitte, Behrenstrasse 55-57).
  • Konzerthaus am Gendarmenmarkt (konsertsaal): 'n Statige ou gebou van 1821 op die mooiste plein van die stad (Mitte, Gendarmenmarkt).
  • Staatsoper Unter den Linden (operahuis) Die oudste van Berlyn se drie operahuise wat in 1742 geopen is. Onder leiding van Daniel Barenboim (Musiekdirekteur-Generaal, Vladimir Malakhov (Direkteur Ballet) en Peter Mussbach (Regisseur, Direkteur) - (Mitte, Unter den Linden 7).
  • Wintergarten (varieté): Van die beste internasionale kunstenaars tree hier op (Tiergarten, Potsdamer Strasse 96)

[wysig] Museums

Museum für Naturkunde
Vergroot
Museum für Naturkunde
Die Ishtarpoort in die Pergamon-museum
Vergroot
Die Ishtarpoort in die Pergamon-museum
  • Ägyptisches Museum und Papyrussammlung: Hier word onder meer die borste van koningin Nofretete, Ou-Egiptiese kuns en ou papiri getoon (Charlottenburg, Schlossstrasse 70).
  • Alliiertenmuseum: Die geskiedenis van die Geallieerde Magte in Berlyn (Dahlem, Clayallee 135).
  • Alte Nationalgalerie: Skilderkuns uit die 19de eeu - romantiek, klassissisme, biedermeierstyl, impressionisme (Mitte, Bodestrasse 1-3).
  • Altes Museum: Klassieke Griekse en Romeinse kuns, in die styl van die Pantheon in Rome gebou (Mitte, Am Lustgarten).
  • Bauhaus-Archiv - Museum für Gestaltung: Die Bauhaus-styl en -argitektuur kan hier bewonder word. Die Bauhaus-winkel in die museum verkoop artikels wat in die Bauhaus-styl ontwerp is (Tiergarten, Klingelhöferstrasse 14).
  • 'n Pragtige klein villa huisves die Brücke-Museum, wat oor 'n unieke versameling kunswerke uit die tydperk van die Duitse ekspressionisme beskik (Grunewald, Bussardsteig 9).
  • Deutsches Historisches Museum: Duitse geskiedenis (Mitte, Unter den Linden 3).
  • Deutsches Technikmuseum: Een van die grootste tegniese museums van die wêreld (Kreuzberg, Trebbiner Strasse 9).
  • Ethnologisches Museum: 'n Half miljoen voorwerpe van dwarsoor die wêreld word hier getoon (Dahlem, Arnimallee 27).
  • Filmmuseum: Die tentoonstelling se klem val op die verhouding tussen Duitsland, Berlyn en Hollywood, die Duitse rolprentkuns van die dertiger- en veertigerjare, Marlene Dietrich (die beroemde Duitse aktrise wat in Berlyn gebore is) en spesiale rolprenteffekte ( Tiergarten, Potsdamer Strasse 2).
  • Forschungs- und Gedenkstätte Normannenstrasse: Die geskiedenis van die Duitse Demokratiese Republiek van 1949-89 en die geheimdiens Staatssicherheit kan hier in sy voormalige hoofkwartier bestudeer word (Lichtenberg, Normannenstrasse 22).
  • Jüdisches Museum: Een van die uitstekende voorbeelde van die Nuwe Berlyn se argitektuur is die Joodse Museum. Die gebou van Daniel Libeskind lyk soos 'n Dawidster wat gebars het. Binnenshuis is dit 'n soort doolhof met talle leë kamers wat die Joodse lewe, wat verdwyn het, simboliseer (Kreuzberg, Lindenstrasse 9-14).
  • Kupferstichkabinett: 35 000 tekeninge en sowat 400 000 prente van die middeleeue tot by vandag (Tiergarten, Matthäikirchplatz 8).
  • Museum für Naturkunde: Die natuurkundemuseum beslaan sowat 6 000 m² en behoort tot 'n klein aantaal museums wêreldwyd wat met 'n versameling van meer as 25 miljoen voorwerpe kan spog, waaronder geraamtes van dinosaurusse en meteoriete (Mitte, Invalidenstrasse 43).
  • Neue Nationalgalerie: Die gebou van staal en glas huisves moderne skilderye en beeldhoukuns (Tiergarten, Potsdamer Strasse 50).
  • Pergamon-Museum: Die Pergamon-altaar uit die tweede eeu v.C., die Ishtarpoort en die markpoort van Milet word hier getoon (Mitte, Am Kupfergraben).
  • Die Sammlung Berggruen vertoon kunswerke van Picasso, Miró en Matisse. Heinz Berggruen, 'n bekende kunsversamelaar, is 'n persoonlike vriend van Pablo Picasso en koop 'n aantal van sy vroeë werke (Schlossstrasse 1).
  • Schwules Museum: Die enigste museum wêreldwyd wat gay-liefde, -vriendskap, -seks, VIGS en die onderdrukking tydens die Nazi-heerskappy behandel (Kreuzberg, Mehringdamm 61)
  • Zille-Museum: Heinrich Zille het sowat 'n eeu gelede die lewe in Berlyn se arbeidersbuurte in sy tekeninge vasgevang (Mitte, Probststrasse 11).

[wysig] Eksterne skakels

Commons
Multimedia oor hierdie onderwerp is te vinde op Wikimedia Commons onder die titel:
Our "Network":

Project Gutenberg
https://gutenberg.classicistranieri.com

Encyclopaedia Britannica 1911
https://encyclopaediabritannica.classicistranieri.com

Librivox Audiobooks
https://librivox.classicistranieri.com

Linux Distributions
https://old.classicistranieri.com

Magnatune (MP3 Music)
https://magnatune.classicistranieri.com

Static Wikipedia (June 2008)
https://wikipedia.classicistranieri.com

Static Wikipedia (March 2008)
https://wikipedia2007.classicistranieri.com/mar2008/

Static Wikipedia (2007)
https://wikipedia2007.classicistranieri.com

Static Wikipedia (2006)
https://wikipedia2006.classicistranieri.com

Liber Liber
https://liberliber.classicistranieri.com

ZIM Files for Kiwix
https://zim.classicistranieri.com


Other Websites:

Bach - Goldberg Variations
https://www.goldbergvariations.org

Lazarillo de Tormes
https://www.lazarillodetormes.org

Madame Bovary
https://www.madamebovary.org

Il Fu Mattia Pascal
https://www.mattiapascal.it

The Voice in the Desert
https://www.thevoiceinthedesert.org

Confessione d'un amore fascista
https://www.amorefascista.it

Malinverno
https://www.malinverno.org

Debito formativo
https://www.debitoformativo.it

Adina Spire
https://www.adinaspire.com