Concorde
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Concorde | ||
---|---|---|
Tipe | Passasiersvliegtuig | |
Bemanning | 3 tegniese en 6 kommersiële vlieëniers | |
Eerste vlug | 2 Maart 1969 | |
Vervaardigers | Aérospatiale British Aircraft Corporation |
|
Afmetings | ||
Lengte | 62 m | |
Vlerkspan | 26 m | |
Hoogte | 11,40 m | |
Vlerkoppervlak | 328 m² | |
Massa en kapasiteit | ||
Leë gewig | 92 080 kg | |
Maksimale opstyggewig | 185 070 kg | |
Passasiers | 100 passasiers | |
Bagasies | 4 347 kg maksimum | |
Kragbron | ||
Enjins | 4 Rolls-Royce/Snecma Olympus 593-enjins | |
Werkverrigting | 4 X 17 260 Kgp of 69 040 Kgp totaal | |
Snelheid | ||
Kruissnelheid | Mach 2,04 (2 519,4 km/h) | |
Maksimale snelheid | Mach 2,23 (omtrent 2 754 km/h) rekord opgestel op 26 Maart 1974 | |
Afstand | 6 300 km | |
Vlieghoogte | 20 000 m | |
Snelheid tydens opstyging | 5 500 tot 6 500 m/min |
Die Concorde is 'n supersoniese vliegtuig, wat deur die Franse en Britse lugvaartnywerhede gemeenskaplik vervaardig is. Naas die Russiese Tupolev-144 is dit een van slegs twee supersoniese passasiersvliegtuie wat ooit vervaardig en in diens geneem is. Die vliegtuig, wat die tegniese naam Aérospatiale-BAC Concorde 101/102 dra, is volgens die ooreenkoms van 29 November 1962 tussen die Franse en Britse regerings oor 'n tydperk van 15 jaar ontwikkel en deur die Franse maatskappy Aérospatiale (tans EADS) en die Britse British Aircraft Corporation (tans BAE Systems) gebou.
Die besluit om 'n nuwe supersoniese vliegtuig te ontwikkel kom op 'n kritieke tydstip vir die Britse lugvaartnywerheid, nadat alle ontwikkelingsprogramme van militêre supersoniese vliegtuie gestaak is. Die Concorde-projek lewer 'n belangrike bydrae tot die behoud van supersoniese navorsing en is een van die voorlopers van Europa se nuwe Tornado-vegvliegtuig, wat gebruik maak van Concorde se deltavlerke-ontwerp tydens supersoniese snelhede.
Die kruissnelheid van die Concorde is 2,04 Mach teen 'n vlieghoogte van tussen 15 650 en 18 000 meter. Dit beskik net soos die Franse Dassault Mirage 2000-vegvliegtuig oor deltavormige vlerke en nabrander-enjins, wat oorspronklik vir die Britse Avro Vulcan-bomwerper ontwikkel is. Die Concorde was ook die eerste passasiersvliegtuig voor die Airbus, wat van elektroniese vliegtoerusting voorsien is.
Die eerste kommersiële dienste van British Airways en Air France op die Transatlantiese roete is op 21 Januarie 1976 ingestel, en die vliegtyd vanaf Parys en Londen na New York is verkort tot tussen drie en drie en 'n half uur. Ná 'n noodlottige ramp naby die Paryse lughawe, waarin 113 mense sterf, is alle Concorde-vlugte op 31 Mei (Air France) en 24 Oktober 2003 (British Airways) gestaak. Die ramp, wat deur die bandbreuk van 'n Amerikaanse vliegtuig veroorsaak is, was die eerste in 27 jaar se diens.
[wysig] Geskiedenis
In die ekonomiese bloeitydperk van die sestigerjare stel 'n groot aantal lugdienste belang in Concorde, sodat Frankryk en die Verenigde Koninkryk die besluit neem om die projek gemeenskaplik aan te pak. Belangrike internasionale lugdienste soos Pan American Airways, British Overseas Airwys Corporation en Air France het ses masjiene elk bestel; ander dienste soos Panair do Brasil, Japan Airlines, Lufthansa, American Airlines, United Airlines, Air Canada, Braniff, Iran Air, Qantas, CAAC, Middle East Airlines en Trans World Airlines sluit by hulle aan, en uiteindelik is daar meer as 100 vliegtuie op die bestelboek. Die Concorde is uitsluitlik in Toulouse (Frankryk) en Filton (Verenigde Koninkryk) gebou.
Op 2 Maart 1969 word die eerste toetsvlug van 29 minute oor die Franse stad Toulouse onderneem. In Oktober van dieselfde jaar vind die eerste supersoniese vlug plaas, en een jaar later word 'n snelheid van Mach 2 bereik. Alle toetse van die prototipe 001 is suksesvol, en die nuwe vliegtuig word op 4 September 1971 aan die publiek bekend gestel. 'n Tweede prototipe 002 is op 2 Junie 1972 in die Middel- en Verre Ooste getoets.
Die Verenigde State het hul eie supersoniese projek, wat in 1971 aangepak is, later gekanselleer. Twee modelle is oorspronklik beplan: Die Lockheed L-2000, wat baie ooreenkomste met die Concorde getoon het, maar ten gunste van die projek Boeing 2707 gestaak is. Die Boeing-model was 'n hoogs gesofistikeerde ontwerp met 'n kapasiteit van driehonderd passasiers en sou 'n groter snelheid as die Concorde bereik het. Sy opvallendste kenmerk was die veranderlike geometrie van sy vlerke.
Die Amerikaanse regering het Frankryk en die Verenigde Koninkryk probeer oorreed om die Boeing-projek gemeenskaplik aan te pak en na besware van Amerikaanse burgers teen die Concorde se moontlike geraasbesoedeling verwys. Inderwaarheid was die Amerikaners gekant teen die idee van 'n Europese supersoniese vliegtuig en die mededinging van Europese vervaardigers op die internasionale mark, wat destyds nog deur Amerikaanse maatskappye oorheers is. Nogtans het die Amerikaners nie werklik oor 'n alternatief beskik nie.
Met die veranderde ekonomiese situasie ná die oliekrisis van 1973 en as gevolg van 'n ongeluk met die Russiese supersoniese straler Tupolev TU-144 begin baie lugdienste hulle supersoniese planne egter heroorweeg, en uiteindelik is alle bestellings weens die hoë bedryfskoste van supersoniese vlugte gekanselleer. Net Air France en British Airways was verplig om Concorde-vliegtuie in gebruik te neem.
Belangrike prestasies van Concorde:
2 Maart 1969 | Die eerste toetsvlug van die prototipe 001 vind in Toulouse plaas |
1 Oktober 1969 | Mach 1 word vir die eerste keer oorskry |
4 November 1970 | Die Concorde bereik 'n snelheid van Mach 2 en vlieg 53 minute lank teen hierdie spoed |
21 Januarie 1976 | Die eerste twee kommersiële roetes word tegelykertyd deur twee Concordes bedien (*) |
(*) Parys – Dakar – Rio de Janeiro en Londen – Bahrain
Ten die einde van die sewentigerjare bedien ook Singapore Airlines en Braniff International in samewerking met British Airways twee lugvaartroetes met Concorde-vliegtuie. Die bou van Concorde-masjiene is egter in 1979 gestaak, nadat twee prototipes, twee toetsmodelle en sestien vliegtuie vir kommersiële gebruik vervaardig is.
Aanvanklik word ook roetes na Rio de Janeiro en Singapoer met Concorde-vliegtuie bedien, tog bly die reikwydte van die supersoniese straler met sowat 6 000 kilometer te klein vir die meeste oorsese bestemmings en maak tussenlandings noodsaaklik. In baie gevalle is ook geen landingsregte vir Concorde-vliegtuie verkry nie, aangesien die geraas van sy enjins met 119,5 dB dié van gewone stralers duidelik oorskry het. Naas geskeduleerde internasionale vlugte is nogtans 'n groot aantal huurvlugte na oorsese bestemmings aangebied. By die Paryse ramp in 2000 sterf sowat 100 Duitse toeriste, wat vir 'n vakansiehuurvlug vertrek het.
Supersoniese vlugte met Concorde bly beperk tot die luukse-mark van Transatlantiese roetes, en die verbindings tussen Parys en Londen en New York, wat uitsluitlik aangebied is, is tot by die ramp van die jaar 2000 selfs winsgewend.
Die Concorde-passasiersdiens is in Oktober 2004 gestaak. Diensvliegtuie is in museums regoor die wêreld geplaas om hierdie merkwaardige vliegtuig te bewaar.
[wysig] Lys van bestemmings wat deur die Concorde bedien is
(AF) verwys na Air France-vlugte (soos in 1998)
Verenigde Koninkryk | ||
Aberdeen |
Fairford |
Liverpool |
Afrika | ||
Abidjan |
Djerba (AF) |
Marrakesh |
Amerika | ||
Abbotsford |
Denver |
Moncton (AF) |
Oseanië | ||
Auckland |
Easter Island (AF) |
Learmonth |
Europa en Middel-Ooste | ||
Aarhus (AF) Dijon (AF) |
Genève |
Munster |
Asië | ||
Bali |
Dacca (AF) |
Kuala Lumpur |
Lughawens waarna vlugte kon uitwyk | |
Atlantic City |
Halifax, Nova Scotia |