Luxemburg (stad)
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Luxemburg (stad) | |
---|---|
Land: | Luxemburg |
Distrik / Kanton: | Luxemburg |
Stigting: | 963 |
Koördinate: | 49° 36' N, 6° 08' O |
Oppervlakte: | 51,73 km² |
Bevolking: | 83 800 (2004) |
Bevolkingsdigtheid: | 1 620 / km² |
Hoogte: | 232-408 m bo seespieël |
Burgemeester: | Paul Helminger (1999-) |
Luxemburg (Luxemburgs: Lëtzebuerg, Frans: Luxembourg, Duits: Luxemburg) is een van die 112 Luxemburgse munisipaliteite (gemengen), een van die 12 Luxemburgse stede (stied) en die hoofstad van die gelyknamige Groothertogdom met 'n oppervlakte van 51,73 km² en 83 800 inwoners (2004).
Vandag is Luxemburg die enigste stad in die munisipaliteit. Aan die begin van die jaar 1900 is die voormalige dorpe Eech, Hollerech en Dummeldeng by die stad Luxemburg ingelyf.
Luxemburg is die setel van 'n universiteit, Radio Tele Luxembourg en verskeie instellings van die Europese Unie, insluitende die Europese Geregshof en die Europese Beleggingsbank. Die stad is ook 'n internasionale finansiële sentrum. 'n Aantal bekende banke het takke in die stadswyk Kirchberg. Luxemburg dien as 'n belastinghawe vir Europese burgers.
[wysig] Geskiedenis
In die Romeinse tydperk loop twee konsulêre strate in die gebied van die huidige stad. In 963 verkry graaf Siegfried 'n klein kasteel wat by die kruising van dié strate opgerig is, van die abdy Sint Maximinus in Trier. Siegfried, 'n familielid van die konings van Frankryk en die Duitse keisers van die tyd, laat hier op die sogenaamde "Bokkerots" sy burg oprig, wat die naam "Lucilinburhuc" (Klein Kasteel) dra.
Teen die einde van die 11de eeu het die burg 'n woontoring, en in 1083 stig die grawe hulle eie klooster, die Münsterabdy, wat ook die plaaslike skool en grafkelder van die Luxemburgse heersers huisves. Rondom die burg ontstaan 'n mark en geleidelik die dorp Luxemburg, wat in 1244 stadstatus verkry.
Tydens die heerskappy van Johan die Blinde, omtrent 1340, word die stad met 'n groot ringmuur versterk, wat die bostad tot by die 19de eeu van die omgewing skei.
Boergondiese troepe onder die bevel van Filips die Goeie verower die stad in die jaar 1443. Luxemburg word deel van die Boergondiese, later van die Spaanse en Oostenrykse Nederlande. Vanaf die 16de eeu word die stad massief versterk en staan vervolgens as die "Gibraltar van die Noorde" bekend. Boergondiërs, Spanjaarde, Franses, Oostenrykers en Pruise verower herhaaldelik die vesting en gebruik dit as 'n bolwerk om vyandelike troepe af te weer. In die 17de eeu word bogrondse skuilings tot 23 kilometer diep in die rots uitgebreek.
Op die Kongres van Wene in 1815 word Luxemburg tot 'n onafhanklike groothertogdom verklaar, waarby die Koning van Nederland gelyktydig as Groothertog van Luxemburg erken word. Die stad dien eweneens as vesting van die Duitse Ryk en kry 'n Pruisiese garnisoen. Die Konferensie van Londen, wat in 1867 plaasvind, bepaal dat Luxemburg neutraal moet wees en die Pruisiese troepe moet onttrek. Luxemburg se neutraliteit word tydens die Eerste en Tweede Wêreldoorlog nog twee keer deur Duitse troepe geskend. Amerikaanse troepe bevry die stad in September 1944.
[wysig] Besienswaardighede
- Die katedraal Notre-Dame is 'n voorbeeld van die laat-Gotiese argitektuur. Die bevolking vier die jaarlikse Octave, 'n bedevaart ter ere van die Moeder Gods, wat ook as beskermvrou van die stad vereer word. In 1994 is die oorblyfsels van die versterking en die ou stadskern deur die UNESCO tot wêrelderfenisgebied verklaar. Die kasematte staan in die somer oop vir besoekers.
- Die nuwe Philharmonie Luxemburg word op 26 Junie 2005 ingewy. Die gebou van die argitek Christian de Portzamparc, wat ook die Paryse Cité de la Musique ontwerp het, bied na gelang van die benodigde toneelgrootte sitplekke vir tussen 1 200 en 1 500 konsertgangers.
- Die Amerikaanse militêre begraafplaas en monument vir die gesneuweldes van die Tweede Wêreldoorlog lê binne die stadsgrense van Luxemburg. Hier lê 5 076 soldate begrawe, waaronder ook generaal George S. Patton. 'n Monument herdenk 371 Amerikaanse soldate, waarvan die stoflike oorskot nooit gevind of geïdentifiseer is nie.