Keulen
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Keulen / Köln | |
---|---|
![]() |
![]() |
Land: | ![]() |
Deelstaat: | ![]() |
Stigting: | 50 n.C. Romeinse colonia |
Koördinate: | 50° 56' N, 6° 57' O |
Oppervlakte: | 405,15 km² |
Bevolking: | 991 537 (31 Desember 2005) |
Bevolkingsdigtheid: | 2 447 / km² |
Hoogte: | 37,5-118 m bo seespieël |
Burgemeester: | Fritz Schramma |
Keulen (Duits: Köln, Frans en Engels: Cologne) is die vierde grootste stad van die Bondsrepubliek Duitsland en die grootste stad van die westelike deelstaat Noordryn-Wesfalen. Die stad aan die Ryn gaan terug op 'n Romeinse nedersetting en is met sy meer as 2 000-jarige geskiedenis een van die oudste stede in Duitsland. Vandag is die stad met naastenby een miljoen inwoners die ekonomiese, kulturele en geskiedkundige sentrum van die Rynland. Die Universiteit van Keulen en ander hoëronderwysinstellings het altesaam meer as 85 000 studente. Sy ligging aan die Ryn, die belangrikste Duitse rivier, en by die kruispunt van belangrike handelsroetes maak van Keulen ook 'n eersterangse Europese vervoersentrum.
Inhoud |
[wysig] Geskiedenis
[wysig] Die Romeinse tydperk
Oorspronklik woon 'n klein Germaanse volk met die Latynse naam Eburones op die linkeroewer van die Ryn. In die jaar 53 v.C. word hulle deur Gaius Julius Caesar verslaan en feitlik uitgewis. 'n Ander volk in die gebied, die Ubii, besluit om liewer geen weerstand teen die Romeinse verowering te bied nie en eerder 'n verbond met die Romeine te sluit. Die Romeinse veldheer Agrippa verskuif die Ubii se nedersetting van die regter- na die linkeroewer van die Ryn. Die versterkte nedersetting oppidum Ubiori, wat in 39 v.C. ontstaan, is die voorloper van die stad Keulen.
In 50 n.C. word die Romeinse keiser Claudius deur sy nig en eggenote Julia Agrippina, 'n boorling van Keulen en die moeder van Nero, oorreed om die stadstatus aan die nedersetting te verleen. Dit kry vervolgens die nuwe Latynse naam Colonia Claudia Ara Agrippinensium (wat dikwels met sy voorletters CCAA afgekort word). Die term colonia verwys na die Romeinse burgerreg, Claudia na die ontstaanstyd (gedurende keiser Claudius se heerskappy), ara na die feit dat 'n belangrike Romeinse altaar in die gebied opgerig is, en Agrippinensium na Agrippina, wat die aanleiding tot die stigting van die kolonie gegee het.
Die stad groei tot een van die belangrikstes in die Romeinse Ryk. Aanvanklik is dit veral 'n militêre voorpos met die laers van die 1ste en 20ste Romeinse legioen, maar dit lok vinnig sakemanne, veterane, kunstenaars en beamptes. Die stad het 'n oppervlakte van een vierkante kilometer en word met 'n verdedigingsmuur teen aanvalle beskerm. Strate word volgens 'n roosterpatroon aangelê, en 'n waterleiding voorsien die stad oor 'n afstand van 80 kilometer van vars water uit die Eifelgebergte. Ondergrondse kanale voer rioolwater af. Die stad spog met pragtige pleine, en die woonhuise se mure is deur kunstenaars versier.
Aangesien die stad op die kruispad van belangrike handelsroetes lê, word hier goedere van orals in die Romeinse Ryk aangebied. Die stad word een van die grootste Romeinse nywerheidsentrums vir glas en keramiek. Die nywerhede word weens die brandgevaar buite die stadsmuur aangelê. Langs die paaie, wat van die stad uitgaan, lê ook die begraafplase van die inwoners.
In die jaar 90 n.C. word CCAA as die hoofstad van die provinsie Germania Inferior (Neder-Germanië) aangewys.
Die neergang van die Romeinse stad begin met die rebellie van die Frankiese generaal Silvanus en die plundering en verwoesting deur Frankiese krygers in die jaar 355. Keiser Julianus laat die stad in 356 weer opbou, maar in 401 onttrek Rome sy troepe uit die Rynland. In 450 neem die Franke die stad oor, en Keulen word een van die residensies van die Frankiese konings, alhoewel dit in werklikheid eeue lank net 'n klein boeredorp bly.
[wysig] Die middeleeue
Onder die heerskappy van Karel die Grote begin 'n nuwe bloeitydperk vir Keulen. In 795 word die stad die setel van 'n aartsbiskop. Met Karel se oorwinning oor die Sakse beweeg Keulen van die periferie na die sentrum van die ryk en groei tot 'n belangrike godsdienstige en ekonomiese metropool en die grootste stad in Duitsland. Ondanks die teenstellings tussen die biskoppe en die welvarende burgery sedert die laat elfde eeu word Keulen gedurende die 12de eeu die grootste stad noord van die Alpe, met 'n oppervlak van sowat 400 hektaar binne sy stadsmuur en meer as 35 000 inwoners. 'n Aantal voorstede word by Keulen ingelyf, en daar is steeds omvangryke boubedrywighede. Net soos in Jerusalem is daar twaalf stadspoorte, terwyl langs die Ryn 'n bykomende dertig toegange gebou word.
In 1164 slaag aartsbiskop Rainald von Dassel daarin om die sterflike oorskot van die Heilige Drie Konings vanuit Milaan na Keulen te bring. Met hierdie relikwieë speel Sancta Colonia nou ook 'n belangrike rol as bedevaartsoord.
Danksy die bydraes van welvarende burgers word talle kerke en kloosters opgerig. In 1248 word die grondsteen van die gotiese katedraal gelê, die grootste kerkgebou wat ooit in Keulen opgerig is. Die katedraal word volgens die voorbeelde uit Frankryk ontwerp, tog word dit eers in die laat 19de eeu voltooi.
In die 13de eeu word Keulen een van die belangrikste Europese handelsentrums, en naas die Franse stad Bordeaux die grootste uitvoerhawe vir wyn, met Engeland as een van die vernaamste bestemmings. Ander belangrike goedere is sout, harings, wol, tekstiele, swaarde, juweliersware, basalt en leiklip. Die invoering van die sogenaamde stapelreg, waarvolgens uitheemse handelaars hulle ware eers op die plaaslike mark moet aanbied voordat hulle verder mag trek, bevorder die ekonomiese groei vanaf 1255 en wakker die politieke selfbewussyn van die Keulense burgery steeds verder aan. Met hulle neerlaag in die slag van Worringen op 5 Junie 1288 raak die klerus sy politieke leiersrol kwyt, en Keulen word feitlik 'n vrye ryksstad.
Die mag berus nou by vyftien patrisiërgesinne, wat van Keulen in die 14de en 15de eeu die rykste stad in die Duitse Ryk maak. Die universiteit van Keulen, wat deur die welgstelde burgery in 1388 gestig is, is die eerste wat sy ontstaan nie aan die keiser of 'n vors te danke het nie. Keulen sluit by die Hanse, die groot vereniging van Duitse handelstede, aan en brei sy handelsbetrekkinge dwarsoor Duitsland uit.
Naas die handelaars en koopmanne speel ook die Keulense kunstenaars en ambagsmanne 'n groot rol by die ekonomiese opbloei van die stad. Hulle stig hul eie gildes, waarvan die wewersgilde die mees invloedryke word. Teen die einde van die 14de eeu slaag hulle uiteindelik daarin om naas die lede van die koopmansgildes ook tot die stadsraad toegelaat te word.
In 1475 word Keulen deur keiser Frederik III amptelik tot Vrye Ryksstad verklaar.
[wysig] Ekonomiese neergang en Dertigjarige Oorlog
Die geleidelike ekonomiese neergang moet toegeskryf word an die vinnig veranderende ekonomiese toestande. Met die ontdekking van Amerika word die seehandel al hoe belangriker, terwyl ook die ambagsmanne en kunstenaars met die invoering van nuwe produkte en produksiemetodes groot moeilikhede ondervind.
Alhoewel die stadsregering daarin slaag om Keulen nie in die slagte van die Dertigjarige Oorlog te verwikkel nie en wapentuig, klere en voedsel aan die oorlogspartye verskaf, hou die ekonomiese agteruitgang steeds aan. Nepotisme en korrupsie word gedurende die 17de eeu 'n groot probleem.
[wysig] Franse Rewolusie en industrialisering
Op 6 Oktober 1794 word Keulen deur Franse troepe beset, en die ideale van die Franse Rewolusie maak 'n einde aan die erfenis van die middeleeue en die selfregerende status van die stad. Een van die belangrikste veranderings is die sekularisasie, waarby talle kloosters en kerke gesluit en onteien word.
Na sowat twintig jaar se Franse bewind word die linkeroewer van die Ryn tydens die Kongres van Wene in 1815 aan Pruise toegeken. Die Pruisiese owerhede begin met die versterking van Keulen. Terselfdertyd verander die vinnige industrialisering die ekonomiese basis van die stad, en die nuwe tekstiel- en metaalnywerhede, brouerye, suikersuiweringsfabrieke en ander industriële installasies maak van Keulen een van die leidende ekonomiese sentra in Duitsland.
Bekende nyweraars uit Keulen sluit Nikolaus August Otto (masjienbou en toerusting, Klöckner-Humboldt-Deutz), Theodor Felten en sy skoonseum Carl Guillaume (kabels, Felten & Guillaume), Franz Stollwerck (sjokolade, Stollwerck) en Carl Joest (suiker) in.
Met die inlywing van talle voorstede op 1 April 1888 word Keulen die grootste stad van Duitsland met 'n oppervlak van sowat 11 000 hektaar en meer as 260 000 inwoners. Die stad brei steeds verder uit; in 1910 smelt die stede Kalk en Vingst, in 1914 Mülheim en Merheim met Keulen saam. Aan die begin van die Eerste Wêreldoorlog woon meer as 630 000 mense in die stadsgebied van 20 000 hektaar.
[wysig] Konrad Adenauer
Konrad Adenauer (1876-1967) word in 1917 burgemeester van Keulen. Alhoewel die stad na die einde van die oorlog tot 1926 deur Britse troepe beset word, slaag Adenauer daarin om sy politieke doelwitte te bereik, waaronder die heropening van die universiteit, een van die grootstes in Duitsland, in die jaar 1919 en die oprigting van die Müngersdorf-stadion, die grootste in Europa, vanaf 1921. Ander groot projekte in dié tyd is die bou van 'n industriële hawe, die handelskouterrein in Deutz en die inlywing van die voorstad Worringen.
Die Nasionaal-Sosialistiese Party NSDAP wen sowat veertig persent van die stemme in die munisipale verkiesing van die jaar 1933 en behaal 'n oorwinning in die politieke magstryd wat volg. Konrad Adenauer is in dieselfde jaar afgedank.
[wysig] Die Tweede Wêreldoorlog
Op 31 Mei 1942 word Keulen vir die eerste keer deur die bomme van 'n gealliëerde lugaanval getref, en teen die einde van die oorlog is meer as 90 persent van die stad se woonhuise en alle brûe oor die Ryn verwoes. Van die driekwart miljoen inwoners sterf meer as 20 000 as gevolg van die bombardemente, en honderdduisende word geëvakueer of vlug na die plattelandse gebiede van die omgewing. In Mei 1945 is daar nog net 40 000 Keulenaars in die stad.
In die tydperk van Januarie tot Maart 1945 is sowat 1 800 Duitse en buitelandse lede van weerstandsbewegings in Keulen vermoor.
[wysig] Heropbou en ekonomiese groei na die Tweede Wêreldoorlog
Kort na die einde van die Tweede Wêreldoorlog het reeds sowat 400 000 Keulenaars na hulle stad teruggekeer, en met die invoering van die nuwe geldstelsel in die jaar 1948 begin die grootskaalse heropbou van die stad se historiese geboue.
Die moderne Keulen is 'n sentrum van die Duitse motornywerheid, maar ook talle chemiese en versekeringmaatskappye het hulle hoofkwartiere in die stad.
Met die inlywing van 'n aantal voorstede in 1975 oorskry Keulen se inwonertal vir 'n tyd lank die een-miljoen-kerf.
[wysig] Ekonomie
Die metropolitaanse gebied van Keulen is met sowat 2,5 miljoen inwoners die derde grootste nywerheidsentrum van Duitsland. In die laaste jare handhaaf ook die dienstesektor 'n stewige en bestendige groeikoers.
Die motorbedryf bly die belangrikste nywerheid, en reeds in 1930 kies die Amerikaanse motorpionier Henry Ford Keulen met sy uitstekende infrastruktuur en vervoergeriewe as die mees geskikte stad vir die oprigting van 'n Duitse Ford-fabriek. Later volg Franse motorvervaardigers soos Citroën en Renault en Japanse soos Toyota en Mazda. Daarnaas word ook trekkers en ander landboumasjiene in Keulen vervaardig.
Met die Ryn as een van die belangrikste Europese waterweë, die lughawe Keulen-Bonn as die tweede grootste lugvragsentrum in Duitsland, 'n spoorwegnet met honderde daaglikse treinverbindings en 'n snelwegnet, wat twaalf grootpaaie insluit, behoort Keulen tot die leidende ekonomiese metropole in Europa.
Chemiese en petrochemiese nywerhede met dosyne raffinaderye lê soos 'n gordel ringsom die stad. Ander belangrike nywerhede is masjienbou, elektriese apparate, enjins, voedselverwerking (onder meer sjokolade en suiker), brouerye en kosmetiek (met onder meer die beroemde Eau de Cologne).
Tientalle versekeringsmaatskappye het hulle hoofkwartiere in Keulen en maak van die stad 'n eersterangse sentrum van hierdie bedryf. Sedert die middeleue is Keulen 'n finansiële sentrum met talle bankmaatskappye.
Die mediabedryf met die grootste publieke Duitse uitsaaikorporasie, die Westdeutscher Rundfunk, en 'n aantal private korporasies maak van Keulen 'n eersterangse sentrum vir televisie-, radio- en rolprentproduksies. Honderde ondernemings uit die persbedryf en drukkerye het hulle hoofkwartiere in Keulen.
Internasionale handelskoue en vele besienswaardighede is die ekonomiese basis vir die plaaslike toerismebedryf.