Ebooks, Audobooks and Classical Music from Liber Liber
a b c d e f g h i j k l m n o p q r s t u v w x y z





Web - Amazon

We provide Linux to the World


We support WINRAR [What is this] - [Download .exe file(s) for Windows]

CLASSICISTRANIERI HOME PAGE - YOUTUBE CHANNEL
SITEMAP
Audiobooks by Valerio Di Stefano: Single Download - Complete Download [TAR] [WIM] [ZIP] [RAR] - Alphabetical Download  [TAR] [WIM] [ZIP] [RAR] - Download Instructions

Make a donation: IBAN: IT36M0708677020000000008016 - BIC/SWIFT:  ICRAITRRU60 - VALERIO DI STEFANO or
Privacy Policy Cookie Policy Terms and Conditions
Gallië - Wikipedia

Gallië

vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.

Gallië in die tydperk van Caesar (58 v.C.), verdeel in die provinsies  Gallia Belgica, Gallia Celtica, Aquitania, Gallia Narbonensis (destyds 'n Romeinse provinsie) en Gallia cisalpina
Vergroot
Gallië in die tydperk van Caesar (58 v.C.), verdeel in die provinsies Gallia Belgica, Gallia Celtica, Aquitania, Gallia Narbonensis (destyds 'n Romeinse provinsie) en Gallia cisalpina

Die term Gallië (Latyn: Gallia) verwys na die geografiese gebied tussen die Ryn in die ooste, die Alpe en die Middellandse See in die suide, die Pireneë en die Atlantiese Oseaan in die weste en noorde, wat sedert die 7de en 6de eeu v.C. deur Kelte (Latyn: Galli) bewoon is. Die sowat sestig Galliese stamme in hierdie gebied, wat ongeveer die huidige Frankryk, België, westelike Switserland en Noord-Italië beslaan, moet eerder as 'n kulturele en waarskynlik ook ekonomiese eenheid beskou word. Voor die Romeinse verowering is hulle nooit in een ryk verenig nie.

Inhoud

[wysig] Geografiese ligging

Die Romeine reken ook die Noord-Italiaanse Po-vlakte met sy Keltiese bevolking by Gallië en noem dit Gallia cisalpina (of Cisalpynse Gallië). Die huidige gebruik beperk Gallië meesal op die Romeinse Gallia transalpina (of Transalpynse Gallië), die Galliese gebiede oorkant die Alpe.

[wysig] Geskiedenis

[wysig] Die Keltiese tydperk

Argeologiese opgrawings staak die teorie dat die Galliese gebiede van die huidige Frankryk reeds voor die aankoms van die eerste Keltiese setlaars deur 'n aantal verskillende volkere bewoon is. Sedert 700 tot 600 v.C. neem die immigrasie van Keltiese stamme 'n aanvang. Hulle praat 'n aantal Gallies-Keltiese dialekte. Die nie-Keltiese bevolking, veral die Iberiërs noord van die Pireneë en die Liguriërs in die kusgebiede van die Middellandse See word aanvanklik nie deur die vestiging van Keltiese stamme geraak nie en bly hulle onafhanklikheid handhaaf.

Teen die jaar 600 v.C. stig Griekse setlaars uit Ionië naby die monding van die Rhône die kolonie Massilia (die huidige Marseille), wat mettertyd 'n groot kulturele en ekonomiese invloed op sy omgewing begin uitoefen.

Die gebied van die Po-vlakte, wat deur die Gallies-Keltiese stamme van die Cenomane, Insubriërs en Boiërs bewoon is, kom omtrent 200 v.C. onder Romeinse heerskappy en word onder die naam Gallia cisalpina 'n provinsie van die Romeinse Ryk.

[wysig] Die Romeinse verowering

Oorblyfsels van die Romeinse grootpad Via Domitia in Narbonne
Vergroot
Oorblyfsels van die Romeinse grootpad Via Domitia in Narbonne

Sedert 125 v.C. begin die Romeine met die verowering van die kusgebiede langs die Middellandse See en die Rhônevallei. Die stad Aquae Sextiae (die huidige Aix-en-Provence) word in 122 v.C. as 'n Romeinse kolonie gestig. Een jaar later word die suidoostelike Gallië as 'n provinsie onder die naam Gallia Narbonensis by die Romeinse Ryk ingelyf. Narbo (die huidige Narbonne) ontstaan in 118 v.C. as sy administratiewe sentrum.

Die inwyding van die Vecingetorix-standbeeld in Clermont-Ferrand
Vergroot
Die inwyding van die Vecingetorix-standbeeld in Clermont-Ferrand

Die inval van die Kimbers en Teutone in Suid-Gallië en Noord-Italië blyk in die jaar 113 v.C. 'n ernstige bedreiging vir Rome te wees. Die twee Germaanse volkere is moontlik deur 'n springvloed in hul Skandinawiese tuisland (vermoedelik die huidige Jutland in Denemarke) gedwing om na ander geweste te verhuis. Later sluit ander Germaanse stamme by hulle trek aan. Die Germane verslaan verskeie kere groot Romeinse leërs, onder meer naby Noreia in die huidige Oostenryk en in 105 v.C. naby Arausio (die huidige Orange) in Suid-Gallië. Twee Romeinse leërs slaan in die jaar 105 v.C. daarin om die twee Germaanse stamme na die Rhône terug te dryf. Die Romeinse veldheer Gaius Marius verslaan die Teutone in 102 v.C. naby Aquae Sextiae en een jaar later ook die Kimbers naby Vercellae in Noord-Italië. Die oorlewende vroue pleeg in die laers saam met hulle kinders selfmoord om nie die Romeinse slawerny te moet verduur nie.

Romeinse berigte wat die getalle van die Germaanse stamme van die Kimbers en Teutone op meer as 300 000 beraam, is vermoedelik oordrewe. Danksy hulle vreemde en skrikwekkende voorkoms, byvoorbeeld hulle blonde hare en blou oë, en hulle barbaarse godsdiens, waarin vroulike priesters met grys hare en wit tabberds 'n groot speel (hulle gebruik volgens oorlewerings die ingewande van menslike slagoffers, veral oorlogsgevangenes, om die toekoms te voorspel), lei die nuus van hulle invalle tot groot paniek in Rome.

Die herinnering aan hierdie barbaarse krygers uit die onbekende noordelike geweste bly dekades lank lewendig. Met sy slim verwysings na hierdie moontlike gevaar uit die noorde regverdig Julius Caesar later op 'n hoogs geskikte manier sy veldtog teen die Keltiese stamme.

In die tydperk tussen 58 en 51 v.C. verower Gaius Julius Caesar die res van Gallië en beskryf die veldtog in sy beroemde boek De bello Gallico. Die gemeenskaplike opstand onder die leiding van die Galliese hoof Vercingetorix in 52 v.C. is die laaste vergeefse poging van die inheemse stamme om die Romeine uit Gallië te verdryf. Met sy oorwinning naby Alesia in dieselfde jaar slaag Caesar daarin om alle verset teen die Romeine plat te vee.

[wysig] Die Romanisering

Die Galliese provinsies Narbonensis, Aquitania, Lugdunensis en Belgica in die tydperk van keiser Augustus
Vergroot
Die Galliese provinsies Narbonensis, Aquitania, Lugdunensis en Belgica in die tydperk van keiser Augustus

As deel van die Romanisering van die nuwe provinsies word die Romeinse administratiewe en regstelsel ook in Gallië ingevoer, met Latyn as amptelike taal. As Vulgêrlatyn vorm die taal van die Romeine ook die basis vir die ontwikkeling van die moderne Franse taal. Ondanks hulle nederlaag ervaar baie Galliërs die Romeinse heerskappy, wat ook die gesofistikeerde Mediterreense leefwyse na hulle geweste bring, as 'n verbetering van hulle lewensomstandighede. Geen ander Barbaarse volk pas beter by die Romeinse kultuur aan as die Galliërs nie.

Die Romeinse teater in Arausio (die huidige Orange)
Vergroot
Die Romeinse teater in Arausio (die huidige Orange)

Daarnaas maak die Romeine ook 'n einde aan die voortgesette stamgevegte, en Gallië geleidelik ontwikkel tot een van die welvarenste gebiede in die Romeinse Ryk. Die Provincia (die huidige Provence) word danksy 'n golf van Romeinse immigrante, veral veterane van die Romeinse leër, een van die mees geromaniseerde gebiede, wat ook vandag oor die rykste Romeinse erfenis in Frankryk beskik, met die antieke Nemausus (die huidige Nîmes) en Arles as sentrums van die Romeinse boukuns.

Die inwoners van die Galliese provinsie kom sedert 50 v.C. (volgens ander bronne sedert 69 n.C.) in aanmerking vir Romeinse burgerskap, mits hulle aan bepaalde voorwaardes voldoen. Beheersing van die Latynse taal is gewoonlik 'n voorvereiste vir die verlening van die ius Latinum, wat byna dieselfde burgerregte behels as die burgerskap van die stad Rome. Die beleid om die Romanisering op 'n vrywillige manier te bevorder, blyk in die geval van Gallië hoogs suksesvol te wees. Onder die heerskappy van keiser Claudius is byvoorbeeld die stamhoofde van die Aedui as lede van die Romeinse senaat aanvaar. Gallië bly tot by die neergang van die Romeinse Ryk in die 5de eeu 'n belangrike steunpilaar van die Romeinse heerskappy in Wes-Europa en speel 'n groot rol by die bewaring van die Romeins-Christelike kultuur.

[wysig] Die laat antieke tydperk

Die kerstening van Gallië neem teen die einde van die 2de eeu 'n aanvang. Die opgradering van baie versterkings omtrent die jaar 300 verwys reeds na die bedreiging deur Germaanse stamme. Die Romeinse keisers beklemtoon egter die belangrikheid van die Galliese provinsies en maak van Lutetia, die huidige Parys, 'n keiserlike residensie.

Die volksverhuising, wat teen die einde van die 4de eeu begin, maak 'n einde aan Gallië se vreedsame ontwikkeling en welvaart as 'n deel van die Romeinse Ryk. Germaanse stamme (Vandale, Alamanne, Wes-Gote, Boergondiërs en Franke val in Gallië in. Ná die jaar 410 kom groot dele van Armorica en Sentraal-Gallië onder die heerskappy van opstandelinge, die sogenaamde Bacaudae, en plaaslike barbaarse heersers.

Gedurende die 5de eeu vestig die Franke, Boergondiërs en Wes-Gote hulle heerskappy oor groot Galliese gebiede, aanvanklik as Romeinse bondgenote, later as selfstandige heersers. Die vestiging van barbaarse setlaars in Gallië, veral in die gebied van die provinsie Aquitania secunda, vind ingevolge die ius hospitalitatis ("Reg van Gasvryheid") plaas, wat die verdeling van land tussen die Romeinse landeienaars en die Germaanse "gaste".

Die Gallies-Romeinse adel en veral die kerk slaag 'n tyd lank daarin om die Romeinse kultuur te bewaar, met Gregorius van Tours en Sidonius Apollinaris as die invloedrykste van die Gallies-Romeinse persoonlikhede in hierdie oorgangstydperk. 'n Aantal briewe, wat Sidonius Apollinaris tydens die tweede helfte van die 5de eeu geskryf het, is bewaar en getuig van die gereelde onderlinge kontak tussen lede van die Gallies-Romeinse adel. Mense soos Pontius Leontius, 'n adellike burger uit die gebied van Burdigala (Bordeaux), handhaaf op hulle landgoedere en in hulle villas die Romeinse leefwyse. Sidonius se versterkte landgoed, wat hy burgus ("burg") genoem het, is 'n tipiese voorbeeld van hierdie soort Christelik-Galliese argitektuur, met kenmerkende torings, mure, kolonnades met Christelike muurskilderye, magasyne en 'n kapel.

Ook die Frankiese en Wes-Gotiese koninkryke sluit by die Romeinse tradisies aan. Nogtans stel mense met die ondergang van die Romeinse keiserlike hof min belang in 'n klassieke opleiding, wat vroeër 'n voorvereiste vir 'n loopbaan as beampte was. Die onderwysinstellings, wat in die Romeinse tyd onder meer deur die stedelike administrasies aangebied is, is gesluit, en slegs die kerk verskaf in hierdie tydperk nog 'n basiese opleiding. Uiteindelik begin in die laat antieke tydperk die onvermydelike neergang van die Gallies-Romeinse kultuur, en met die middel van die 6de eeu neem die vroeë middeleeuse tydperk 'n aanvang.

[wysig] Administrasie

Die Romeinse arena van Nemausus (die huidige Nîmes)
Vergroot
Die Romeinse arena van Nemausus (die huidige Nîmes)

Die gebiede noord van die ou Provincia Narbonensis, wat deur Caesar verower is, word in drie administratiewe gebiede verdeel: Aquitania in die suidweste; Lugdunensis met die Sentraal-Galliese gebiede tussen die Loire en die Seine en die huidige Bretagne; en Belgica in die noorde. Lugdunum (die huidige Lyon) dien as 'n soort federale hoofstad en is ook die setel van die Galliese munt, wat in die keisertydperk goue geldstukke van eersterangse gehalte munt.

Gallia Narbonensis as die oudste Galliese provinsie oorkant die Alpe verskil in baie opsigte van die drie ander gebiede. Gaius Julius Caesar bevorder die stigting van 'n aantal Romeinse stede saam met die Romeinse volksplanting in hierdie suidoostelike gewes. Die Italiese stelsel van stedelike gemeenskappe vervang hier gou die ou kantonale stelsel van die Kelte. Die huidige Franse plekname weerspieël nog steeds die unieke karakter van Narbonensis. Terwyl die plekname hier die ou name van die plaaslike stamme verdring het en name soos Arlete (die huidige Arles) en Vienna (die huidige Vienne) bewaar is, raak die plekname in die noorde in vergetelheid en word uiteindelik deur die name van die plaaslike stamme vervang: Lutetia Parisiorum ("Lutetia van die Parysers") staan dus vandag nie as *Lutèce bekend nie, maar as Paris (Parys).

[wysig] Godsdiens en maatskappy

Hierdie borsbeeld van 'n Romeinse godheid uit Lillebonne is van brons gemaak
Vergroot
Hierdie borsbeeld van 'n Romeinse godheid uit Lillebonne is van brons gemaak

Die Galliese stede is die belangrikste smeltkroes van die Gallies-Romeinse maatskappy, en van hier begin die Romanisering en die gebruik van die Latynse taal ook geleidelik na die plattelandse gebiede uitbrei. Die Romeine tas nie die oorheersende rol van die landelike Galliese adel aan, wat een van die mees betroubare bondgenote by die vestiging van die Romeinse heerskappy blyk te wees. Adellike seuns word in die Latynse skole van die stede opgelei en kom sodoende in noue aanraking met die Mediterreense kultuur en leefwyse.

Op godsdienstige gebied kan daar - in teenstelling met die Romeinse praktyk in ander geweste - geen sprake van verdraagsaamheid teenoor die Keltiese tradisies wees nie. Alhoewel die Keltiese godsdiens aanvanklik nog geduld word, verander die Romeinse beleid onder die heerskappy van keiser Claudius. Danksy hulle oorheersende stelling in die Keltiese maatskappy word die Galliese priestersklas, die Druïdes, as 'n moontlike bedreiging vir Rome beskou en gevolglik genadeloos uitgeroei.

Daarenteen is die aanbidding van plaaslike Keltiese godhede soms bevorder, en keiser Augustus rig selfs 'n altaar vir 'n aantal Galliese godhede op. Tegelykertyd word die vergoddeliking van Rome en sy heersers ingevoer om sodoende die Romeinse heerskappy te vestig. Veral in die stedelike gebiede van Gallië bevorder die Romeinse owerhede die aanbidding van die Romeinse godhede en keisers. Ook hier is dit veral die adellike Galliërs wat die voortou neem by die aanvaarding van die nuwe godsdiens.

Die bevolking van Gallië ontwikkel 'n gemengde Gallies-Romeinse kultuur, waarin die Romeinse elemente weliswaar oorheers, maar geleidelik begin afneem in die ver afgeleë geweste van Noord- en Wes-Gallië, waar baie van die Keltiese tradisies steeds bewaar is.

[wysig] Ekonomie

Gallië bestaan in demografiese en ekonomiese opsig rofweg uit drie heeltemaal verskillende gebiede:

  • die verstedelikte suide van Gallia Narbonensis, wat al vroeg met die Griekse en Romeinse beskawing in aanraking kom en oor hoogs ontwikkelde sentrums soos Massilia (Marseille) en Antipolis (Antibes) beskik;
  • die gebiede van Sentraal-Gallië, wat as Gallia comata (letterlik die "langharige", dit wil sê barbaarse Gallië) bekend staan en uiters geskik is vir grootskaalse landbou, maar in plaas van groot stede eerder deur sogenaamde villae, ekonomies outarke landgoedere, gekenmerk is; en
  • die militêre sone teen die Ryn, wat oor 'n groter Romeinse bevolking van veral voormalige soldate beskik en sodoende sterk geromaniseer is.

Danksy die Pax Romana, die Romeinse vrede, begin met die Romeinse heerskappy 'n ongestoorde ekonomiese opbloei van die Galliese stede en hulle onmiddellike omgewing. Plaaslike nywerhede soos die tekstiel-, glas- en keramiekvervaardiging is hoogs ontwikkeld en voer hulle produkte na ander gebiede van die Romeinse Ryk en na Germanië uit, waar hulle die plaaslike markte vinnig begin oorheers.

Die Pont du Gard, een van die belangrikste Romeinse waterleidings in Gallië
Vergroot
Die Pont du Gard, een van die belangrikste Romeinse waterleidings in Gallië

In Gallië word onder meer die wynbou en veeteelt bevorder, en Galliese uitvoere van landbouprodukte sluit onder meer ganse, ham en kaas in. Die landbou trek voordeel uit die toepassing van nuwe tegnologie en kundigheid, onder meer op die gebied van hidrotegnologie (waterkrag). Veral in die groot vlaktes van Noord-Gallië is eenvoudige, maar doeltreffende landboumasjiene ontwikkel. Volgens argeologiese navorsing word hierdie gebied deur 'n buitengewoon groot bevolkingsdigtheid gekenmerk.

In hoeverre die uitbou van die infrastruktuur, veral die Romeinse grootpaaie dwarsdeur die land, 'n rol by die ontwikkeling van die Galliese ekonomie gespeel het, bly aanvanklik onder geskiedkundiges hoogs omstrede. In sy grondleggende publikasie oor die antieke ekonomie1 beweer die Amerikaanse navorser Moses I. Finley dat die Romeinse straatbou veral uit militêre en politieke oorwegings bevorder is en nie om ekonomiese redes nie. Desondanks het onlangse navorsing oor die Romeinse vervoerstelsel die stelling gesteun dat die plaaslike ekonomieë wél voordeel uit die landpaaie getrek het en nie beperk was op die waterweë nie, soos deur Finley aangedui is.

Die Galliese kar- en wamakery byvoorbeeld was hoogs ontwikkeld, en selfs die Latynse woord carrus is oorspronklik uit die Gallies-Keltiese taal ontleen. Die Galliërs het die tegnologie van hulle waens voortdurend verbeter, en Romeinse reliëfs dui aan dat daar wél grootskaalse vervoer op die Romeinse paaie plaasgevind het. Lugdunum, wat aanvanklik net as klein Galliese dorpie bestaan, is 'n belangrike voorbeeld vir die snelle ekonomiese vooruitgang in Gallië. Dit ontwikkel tot 'n administratiewe sentrum en danksy sy handelmaatskappye, wat graan, hout, wyn en olie net soos plaaslik vervaardigde verbruiksgoedere na ander dele van die land, Germanië en Brittanje begin uitvoer, ook tot die grootste en welvarendste stad in Gallië.

[wysig] Bronne

  • Tim Cornell en John Matthews: Rome. Oxford: Andromeda Ltd., 1991
  • 1 Moses I. Finley: The Ancient Ecnomy. Berkeley en Los Angeles: University of California Press, 1973
  • Meraviglie dell'Archeologia: Gli Etruschi e i Romani. Uitgegee deur die redaksie van Grandi Opere dell'Istituto Geografico DeAgostini. Novara: Istituto Geografico DeAgostini S.p.A., 1998
  • Hellmuth Schneider: Einführung in die antike Technikgeschichte. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft, 1992
Our "Network":

Project Gutenberg
https://gutenberg.classicistranieri.com

Encyclopaedia Britannica 1911
https://encyclopaediabritannica.classicistranieri.com

Librivox Audiobooks
https://librivox.classicistranieri.com

Linux Distributions
https://old.classicistranieri.com

Magnatune (MP3 Music)
https://magnatune.classicistranieri.com

Static Wikipedia (June 2008)
https://wikipedia.classicistranieri.com

Static Wikipedia (March 2008)
https://wikipedia2007.classicistranieri.com/mar2008/

Static Wikipedia (2007)
https://wikipedia2007.classicistranieri.com

Static Wikipedia (2006)
https://wikipedia2006.classicistranieri.com

Liber Liber
https://liberliber.classicistranieri.com

ZIM Files for Kiwix
https://zim.classicistranieri.com


Other Websites:

Bach - Goldberg Variations
https://www.goldbergvariations.org

Lazarillo de Tormes
https://www.lazarillodetormes.org

Madame Bovary
https://www.madamebovary.org

Il Fu Mattia Pascal
https://www.mattiapascal.it

The Voice in the Desert
https://www.thevoiceinthedesert.org

Confessione d'un amore fascista
https://www.amorefascista.it

Malinverno
https://www.malinverno.org

Debito formativo
https://www.debitoformativo.it

Adina Spire
https://www.adinaspire.com