Ebooks, Audobooks and Classical Music from Liber Liber
a b c d e f g h i j k l m n o p q r s t u v w x y z





Web - Amazon

We provide Linux to the World


We support WINRAR [What is this] - [Download .exe file(s) for Windows]

CLASSICISTRANIERI HOME PAGE - YOUTUBE CHANNEL
SITEMAP
Audiobooks by Valerio Di Stefano: Single Download - Complete Download [TAR] [WIM] [ZIP] [RAR] - Alphabetical Download  [TAR] [WIM] [ZIP] [RAR] - Download Instructions

Make a donation: IBAN: IT36M0708677020000000008016 - BIC/SWIFT:  ICRAITRRU60 - VALERIO DI STEFANO or
Privacy Policy Cookie Policy Terms and Conditions
Bretagne - Wikipedia

Bretagne

vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.

Bretagne (Breizh)

Beeld:Bretagne map.png
Départements Côtes-d'Armor (22)
Finistère (29)
Ille-et-Vilaine (35)
Morbihan (56)
Prefektuur Rennes (Roazhon)
Bevolking 2 977 732 inw.
(2003)
Bevolkingsdigtheid 109 inw./vk km
Oppervlakte 27 208 vk km
Arrondissemente 17
Kantons 204
Munisipaliteite 1 268
President van
Gewestelike Raad
Jean-Yves Le Drian (PS)

Bretagne (Bretons: Breizh) is 'n administratiewe streek (Frans: région) in die noordweste van Frankryk, wat uit die départements Côtes-d'Armor (Bretons: Aodoù-an-Arvor), Finistère (Bretons: Penn-ar-Bed), Ille-et-Vilaine (Bretons: Il-ha-Gwilen) en Morbihan (Bretons: Mor-bihan) bestaan. Die administratiewe hoofstad is Rennes (Bretons: Roazhon).

Die wilde kus van Belle-Île
Vergroot
Die wilde kus van Belle-Île

Die naam Bretagne verwys naas die administratiewe gebied ook na die historiese provinsie Bretagne, waarvan tans net vier vyfdes deel uitmaak van die gelyknamige Franse région. Die oorblywende gebied, die département Loire-Atlantique met sy prefektuur Nantes (een van die voormalige hoofstede van die hertogdom Bretagne) is nou deel van die région Pays-de-la-Loire.

Die oorspronklike Gallies-Keltiese bevolking noem die land Armorika of Aremorica (Bretons: Arvorig) of "Land voor die See".

Die geskiedenis van die huidige Bretonse volk neem 'n aanvang met die invalle van die Angel-Sakse en ander Germaanse volke in Brittanje. Onder die leiding van hulle stamhoofde en monnike vlug 'n deel van die Keltiese bevolking vanuit Cornwall na die noordweste van Frankryk, waar hulle hul taal en tradisies bewaar het. Die name van hul oorspronklike tuislande, Brittanje en Cornwall, leef voort as Bretagne (die Franse benaming vir "Brittanje") en Cornouaille.

Onder die regering van die State van Bretagne, 'n jaarlikse parlementêre vergadering, ontwikkel Bretagne tot 'n welvarende land met 'n bloeiende kunslewe en 'n buitengewone sosiale stabiliteit. Sy handelsvloot behoort tot die magtigstes in Europa.

Teen die einde van die 15de eeu begin die Bretonse heersers voor die oormagtige buurstaat Frankryk swig, en in 1532 word die hertogdom uiteindelik by die Koninkryk Frankryk ingelyf.

Alhoewel Bretagne dekades lank as een van die armste gebiede van Frankryk bekend gestaan en meer as een miljoen jongmense die gebied in die tydperk tussen 1860 en 1960 verlaat het om elders in die land werk te vind, beleef dit nou 'n ekonomiese opbloei. Baie emigrante begin na hul geboorteland terugkeer, en die jaarlikse bevolkingsaanwas is bo die gemiddelde vir Frankryk. In 2004 het Bretagne se bevolking weer die getal van drie miljoen mense oorskry.

Die historiese stadskern van Rennes
Vergroot
Die historiese stadskern van Rennes

Inhoud

[wysig] Geografie

Bretagne is die grootste skiereiland van Frankryk en vorm die mees westelike uitloper van die Franse vasteland. Die noordkus word deur die Engelse Kanaal (Bretons: Mor Breizh) begrens, die suid- en weskus deur die Atlantiese Oseaan. Die Bretone verdeel hulle tuisland tradisioneel in Armor, wat deur die kuslyn en eilande langs die kus gevorm word, en Argoat, die bebosde binneland.

Sononder naby Pleumeur-Bodou
Vergroot
Sononder naby Pleumeur-Bodou
Granietrotse van die Roc'h Trézével (Finistère)
Vergroot
Granietrotse van die Roc'h Trézével (Finistère)

Die landmassa van Bretagne bestaan in geologiese opsig grotendeels uit baie ou en harde gesteentes, met 'n onstuimige, rotsagtige kuslyn. Die granietrotswande van Cap Frehel verrys sewentig meter hoog uit die Atlantiese Oseaan. Die binnelandse landskap word deur heuwels oorheers, met die Roc'h Trézével in die Monts d'Arrée (Bretons: Menez Are) as die hoogste bergspits van 384 meter.

Bretagne was oorspronklik 'n uitgestrekte bosgebied, wat van die voormalige Forêt de Scissy naby die huidige Mont-Saint-Michel tot by die huidige woud Brocéliande (Bretons: Brekilien) strek. Brocéliande, die towerwoud van Paimpont en die bosgebied naby Huelgoat in die département Finistère is net oorblyfsels hiervan.

Sedert die middeleeue is die grootste deel van die gebied vir landbou gebruik, en groot beukeboom- en eikebosse is beperk tot die binneland. Groen weivelde en akkers oorheers die landskap met hulle kenmerkende omheinings en steenmure.

[wysig] Klimaat

Bretagne het danksy die maritieme invloed van die Atlantiese Oseaan 'n gematigde, vogtige klimaat met aangename temperature dwarsdeur die jaar. Danksy die warm Golfstroom vorm Bretagne 'n mikroklimaatsone, wat tydens die winter dikwels min of meer dieselfde temperature het as die Côte d'Azur in die suide van Frankryk. Uitheemse plante soos yuccas, mimosas en kamelias is volop in die parke en privaat tuine van Bretagne.

[wysig] Geskiedenis

[wysig] Die Steentydperk

Die talle grotte van Bretagne is uitstekende skuilplekke vir die steentydmense. Met die ystydperk en sy ingrypende klimaatverandering begin die vroeë mense om permanente nedersettings te stig.

Die prehistoriese steenlane van Carnac
Vergroot
Die prehistoriese steenlane van Carnac

Omtrent 4000 v.C. vestig stamme, wat vermoedelik oorspronklik uit Asië kom, hulle in die gebied van die huidige Bretagne. Hulle is die stigters van die raaiselagtige megalietkultuur.

[wysig] Die Keltiese tydperk

Die Keltiese veroweraars het danksy hulle ysterwapens 'n maklike oorwinning oor die oorspronklike bewoners. Die eerste Keltiese nedersettings in Bretagne dateer uit die tydperk omtrent 500 v.C.; die Galliërs noem die huidige Bretagne Armorika (Latyn: Aremorica).

Son en reën naby Loscolo-punt, Pélestin (département Morbihan)
Vergroot
Son en reën naby Loscolo-punt, Pélestin (département Morbihan)

Die Kelte beskik oor 'n hoogs ontwikkelde kultuur en maatskaplike orde, alhoewel hulle gewoonlik geen state stig nie. Die Druïdes, die Keltiese priesters, staan danksy hulle godsdienstige rol en hulle kennis van die astrologie en geneeskunde aan die spits van die maatskappy. Net die druïdes het die reg om misteltakke, wat as artsenymiddel gewild is, tydens 'n besondere ritueel af te sny. Die natuurlike magte van byvoorbeeld die lig en die water is as godhede vereer; om hulle gunstig te stem, is selfs mense geoffer.

Die druïdes plaas 'n verbod op die neerskryf van baie tradisies, en net die Keltiese sangers, die barde, bewaar die legendes van die gode en helde in hulle liedere.

In die 2de eeu v.C. is daar vyf Keltiese stamme in die gebied: Die magtige Veneters, wat veral op die seehandel steun, in die suide, in die omgewing van die huidige Vannes; die Osimiërs in die noordweste; die Redoners in die ooste, in die gebied van die huidige Rennes; die Coriosoliters in die noorde en die Namneters in die suidooste, in die omgewing van die huidige Nantes. Die Veneters oorheers vanaf die 1ste eeu v.C. die ander stamme en speel ook 'n leidende rol in die bond van Keltiese stamme, wat die Romeinse veroweraars vanaf 58 v.C. die hoof probeer bied.

[wysig] Die Romeinse tydperk

Vuurtoring op die eiland Île d'Ouessant
Vergroot
Vuurtoring op die eiland Île d'Ouessant

In 56 v.C. vernietig Gaius Iulius Caesar die vloot van die Veneters en grootste deel van die Keltiese leër van Armorika in 'n seegeveg. Talle Keltiese stamme wyk uit na Brittanje, terwyl Armorika geleidelik geromaniseer word. Die weerstand van die plaaslike bevolking word onder meer deur die stelselmatige uitwissing van die druïdes gebreek. Teen die einde van die antieke tydperk het die Keltiese taal - met die uitsondering van 'n aantal plattelandse gebiede - byna volledig verdwyn en is die proses van romanisering feitlik afgesluit.

[wysig] Britanniese immigrasie

Onder die heerskappy van die Romeinse keiser Honorius sluit die hoofde en stede van Armorika aan die begin van die 5de eeu 'n bond, wat tot by die Frankiese verowering van die land onder Clovis I bestaan.

Met die neergang van die Romeinse Ryk begin in 450 met die landing van die eerste Bretonse setlaars in die gebied van die huidige Finistère die tweehonderdjarige tydperk van die Britanniese immigrasie. Christelike Kelte uit die suidweste van Brittanje vestig hulle in groot getalle op die Bretonse skiereiland, nadat hulle eie tuisland deur heidense Angel-Sakse en Jute verower is. As gevolg word Armorika 'n Christelike gebied, en die Bretone verdring die Galloromeinse taal en kultuur. Orals in Bretagne word kloosters en parogieë gestig. Teen die jaar 580 oorheers die Kelties-Bretonse bevolking Bretagne.

Die digte woude van Maine vorm 'n natuurlike skeiding tussen die Franke en die Bretone, sodat laasgenoemde ongestoord hulle eie taal en kultuur kan handhaaf. Tog bly die kerk tot in die 8ste eeu die enigste band tussen die verskillende Bretonse stamme.

[wysig] Koninkryk, Karolingers, Hertogdom Bretagne

'n Tipiese plaashuis op die skiereiland Crozon (Finistère)
Vergroot
'n Tipiese plaashuis op die skiereiland Crozon (Finistère)

Omtrent die jaar 600 stig die Bretone hul eie koninkryk, wat tweehonderd jaar lank bestaan en eers deur Karel die Grote in 799 vernietig is.

Nominoë (Bretons: Nevenoe), die graaf van Vannes, word in 826 as die Bretonse hertog verkies. Hy word veral as 'n geskikte leier in die stryd teen die Noormanne beskou, wat in hierdie tydperk dikwels Bretonse stede aanval.

Kaart van die historiese Bretagne
Vergroot
Kaart van die historiese Bretagne

In 845 verslaan hertog Nominoë die Franse koning Karel die Kale in die slag van Ballon, verower 'n groot deel van die Frankiese Neustrië en maak van Bretagne 'n onafhanklike koninkryk, wat deur die pous erken word. Vanaf 851 sluit die Bretagne naas sy huidige vier départements ook die gebied van Loire-Atlantique in - die Karolingers moet in die Verdrag van Angers Rennes en Nantes aan die Hertogdom Bretagne afstaan en Nominoë se seun, Erispoë, as Bretonse koning erken. Die Bretonse koninkryk bestaan vir 'n tydperk van eenhonderd jaar, wat deur 'n antal Normandiese invalle oorskadu word. Eers die laaste koning van die Bretone, Alain Barbetorte, slaag in 937 daarin om die Noormanne uiteindelik te verdryf.

Voortgesette broedertwis lei tot die einde van die koninkryk omtrent die jaar 1000; 'n aantal nuutgestigte kleiner hertogdomme begin om die voormag mee te ding. Die voortdurende Noormanne-invalle tydens die 11de eeu lei tot die val van die Nominoë-dinastie.

Fougères: Huisfasade met 'n klein standbeeld van die Moeder Gods
Vergroot
Fougères: Huisfasade met 'n klein standbeeld van die Moeder Gods

Desondanks handhaaf die Hertogdom Bretagne sy onafhanklikheid in die magstryd teen Noormanne en Franse tot in die 15de eeu. Tog kom die gebied danksy die strategies belangrike ligging herhaaldelik onder Franse en Engelse invloed en bly een van die hoofskouplekke van die Honderdjarige Oorlog (1337-1453). Bretagne is tydens die Bretonse opvolgingsoorlog, wat teen die middel van die 14de eeu sowat twintig jaar lank woed, selfs die sentrum van die Frans-Engelse magstryd.

[wysig] Middeleeue en Franse feodalisme

Johan V, 'n gunsteling van Engeland, slaag uiteindelik daarin om die Bretonse magstryd te wen en hertog van Bretagne te word. Sy heerskappy maak 'n voorlopige einde aan die Bretonse broedertwis en staan bekend as 'n politieke en ekonomiese bloeitydperk.

'n Nuwe veldtog, wat hertog Frans II aan die einde van die 15de eeu teen Frankryk begin, het egter rampspoedige gevolge. Benewens die neerlaag op die slagveld kom Bretagne nou onder die invloed van Frankryk. Anne de Bretagne (1477-1514), Frans II se dogter, is die laaste onafhanklike Bretonse heerseres. Sy trou met twee Franse konings - Karel VIII (in 1490) en sy opvolger Lodewyk XII (in 1499). Om die suksessie te verseker, baar Anne die eerste van haar elf kinders reeds op 'n vroeë leeftyd. Net drie van hulle oorleef hulle derde verjaardag. Haar dogter Claude van Frankryk trou met Frans I, wat in 1532 tydens 'n vergadering van die Bretonse state in die Suid-Bretonse stad Vannes die amptelike "inlywing" van Bretagne proklameer. Die regmatigheid van hierdie inlywing word deur sommige Bretone nog steeds bevraagteken; Bretonse separatiste blaas byvoorbeld in 1932 die verenigingsmonument in Rennes op.

[wysig] Die tydperk tussen 1532 en 1914

As 'n Franse provinsie word aan Bretagne die reg op sy eie statevergadering toegestaan, wat sy setel in die stad Rennes het en tot by die Franse Rewolusie bestaan.

Die hawestad Saint-Malo
Vergroot
Die hawestad Saint-Malo

Die inlywing by Frankryk lei tot die vinnige groei van die kusgebied en sy stede, terwyl die plattelandse gebiede 'n minder bevoorregte streek bly.

Die strand van Le Val-André
Vergroot
Die strand van Le Val-André

Vanaf 1700 begin die ontwikkeling van die Nieu-Bretonse taal, veral as die resultaat van toegewyde wetenskaplike navorsing. Tog word die bewaring van die Bretonse taal en kultuur ná die Franse Rewolusie 'n groot probleem. Die rewolusionêre magte tree sowel teen die gebruik van die Bretonse taal asook teen die Rooms-Katolieke Kerk op, en Bretagne verloor selfs sy voorregte uit die Verdrag van Vannes. Net danksy die feit dat die oorgrote meerderheid van die bevolking die taal steeds besig en danksy die bestaan van 'n sterk onafhanklikheidsbeweging kan pogings om die inheemse Keltiese taal uit te wis, gekeer word. Die destydse weerstandsbeweging, die Chouannerie, slaag nie daarin om die sentralistiese regering in Parys tot onderhandelings te dwing nie, en duisendes sneuwel in die gevegte met regeringsmagte. Bretagne word in vyf départements verdeel en bly in die volgende dekades een van die armste gebiede in Frankryk.

Vrese dat die Franse taal 'n nadelige uitwerking op die Bretonse taal sou hê, lei tot die stigting van die Union Régionaliste Bretonne, wat hom vir 'n onafhanklike Bretagne beywer. Die Fédération Régionaliste de Bretagne, wat in 1911 gestig is, bevorder die idee van die Bretonse outonomie en gee die Bretonse koerant Breiz Dishual (Vrye Bretagne) uit. Albei verenigings word gedwing om hulle aktiwiteite tydens die Eerste Wêreldoorlog te staak.

[wysig] Die Eerste Wêreldoorlog

Die Eerste Wêreldoorlog eis 'n ongewoon groot aantal Bretonse slagoffers. Elke vierde Bretonse soldaat sneuwel op die slagvelde, en die verlies van 240 000 menselewens verteenwoordig tien persent van die destydse bevolking. In teenstelling met die hoë Bretonse verliese is die gemiddelde Franse verliese net 'n agtste van alle soldate. 'n Rede vir die groot aantal Bretonse sterfgevalle is die feit dat Bretonse soldate tydens 'n aanval dikwels in die voorste linies moet veg. Ander mans is deur Franse troepe geskiet, aangesien hulle die Franse taal nie magtig is nie en verdag is om spioene te wees.

[wysig] Die tydperk tussen die oorloë

Die hawe van Lomener teen sononder
Vergroot
Die hawe van Lomener teen sononder

Die swaar Bretonse verliese gee die onafhanklikheidsbeweging 'n verdere hupstoot. Regse intellektueles bevorder met hulle koerant Breiz Atao (Bretagne vir altyd) 'n vrye Bretagne in 'n Europa sonder grense, terwyl die linkse outonomiste van die Nasionalistiese Bretonse Party 'n ondergrondse beweging stig. Sy naam Gwenn ha du (Wit en swart) is afgelei van die kleure van die Bretonse vlag. Gwenn ha du beywer hom vir 'n gewapende bevrydingstryd.

[wysig] Die Tweede Wêreldoorlog

Die Tweede Wêreldoorlog maak 'n einde aan die ekonomiese groei van die dertigerjare. Duitse troepe verower Bretagne en rig langs die kus 'n groot aantal versterkings op, wat later 'n teiken vir gealliëerde bomwerpers is. Tydens hierdie bomaanvalle word ook die meeste kusstede verwoes.

Ondanks die verwoestings beskou sommige Bretone die samewerking met die Duitse besetters as 'n moontlikheid om uiteindelik onafhanklike status te kry. Die radikale nasionaliste van die Gwenn ha du-beweging en die Nasionalistiese Bretonse Party is by hierdie samewerking betrokke.

Die régime van Vichy, die Franse marionetregering tydens die Duitse besetting, besluit in 1941 om die département Loire-Atlantique van Bretagne af te splits.

[wysig] Die tydperk na 1945

Die kollaborateurs ontvlug na die oorlog die verantwoordelikheid, terwyl die liberale politieke groepe die Bretonse taal en kultuur laat herleef. President Charles de Gaulle roep in 1951 'n komitee in die lewe wat die belange van Bretagne en sy taal en kultuur bevorder. Hierdie amptelike bystand lei tot 'n vinnige ekonomiese groei en keer die voortgesette binnelandse emigrasie van opgeleide jong Bretone.

Bretagne is vandag een van die belangrikste Franse boerderygebiede en die gewildste toeristebestemming na die Côte d'Azur.

[wysig] Kultuur

Tradisionele Bretonse volkspele en kleredrag
Vergroot
Tradisionele Bretonse volkspele en kleredrag

Die tradisionele Bretonse kultuur herleef sedert die jare sewentig van die 20ste eeu. Veral die Bretonse musiek is nou selfs internasionaal gewild. Die Bretonse musikant Alan Stivell laat die Keltiese harpmusiek herlewe, terwyl folkrockgroupe soos Tri Yann, Sonerien Du ("die swart musikante") en ander die weg baan vir talle jong groepe, wat tradisionele Bretonse klanke met rock, rap en dansmusiek vermeng.

Die coiffe is die tradisionele Bretonse hooftooisel
Vergroot
Die coiffe is die tradisionele Bretonse hooftooisel

Die fest-noz (Bretons: "fees van die nag") is vandag een die belangrikste instellings in die kulturele lewe van Bretagne. Dit het uit die oorspronklike byeenkomste tydens 'n huwelik of na die werk op die velde ontstaan, maar raak veral sedert die vyftigerjare van die 20ste eeu baie gewild en word nou veral op naweke orals in Bretagne gevier. Tradisionele Bretonse musiek en die kan ha diskan, die kenmerkende Bretonse wisselsang, begelei die gewilde ketting- en rondedanse, waaraan jonk en oud - en dikwels honderde of selfs duisende mense - deelneem. Die festoù-noz behoort nie net tot die gewildste Bretonse feeste nie, maar hulle word ook steeds deur nuwe musikale stromings verryk. Elektroniese musiek en die Cyber fest-noz, wat op die internet uitgesaai word, het deel van die tradisie geword. Die grootste van die Bretonse feeste is die Festival Inter-Celtique van Lorient, terwyl die stad Quimper met die Festival de Cornouaille die oudste kulturele fees van Bretagne huisves.

Feeste met rock- en popmusiek sluit die Festival des Vieilles Charrues in Carhaix (Finistère), die Route du Rock in Saint-Malo en die Transmusicales in Rennes in.

Geïnspireer deur die tradisionele Skotse doedelsakmusiek, word Bretonse doedelsakgroepe - die bagadoù - in die tweede helfte van die 20ste eeu baie gewild. Die inheemse binious (doedelsakke), bombardes en slagwerk weerklink nou tydens alle Bretonse feeste en plegtighede. Een van die gewildste Bretonse bagadoù, die Bagad de Lann-Bihoué, maak deel uit van die Franse Vloot.

'n Bretonse bagad tydens die Festival interceltique in Lorient
Vergroot
'n Bretonse bagad tydens die Festival interceltique in Lorient

Die tradisionele Bretonse hooftooisels, die coiffes, is volop by die vroulike deelnemers van feeste. Die Bretonse kleredrag is oorwegend swart en wit en gee ook die aanleiding vir die samestelling van die Bretonse vlag. Die bigouden, die bekendste Bretonse hooftooisel, is soms meer as een meter hoog.

[wysig] Taal

Frans, die amptelike taal van die Franse Republiek, word vandag dwarsoor Bretagne gepraat. Die inheemse Bretons ('n Keltiese taal, wat nou verwant is aan Wallies) is nou 'n streektaal in die westelike Bretagne (Breizh-Isel of Neder-Bretagne), alhoewel dit orals in Bretagne gebruik word, terwyl Gallo, wat tot die Oïl-taalgroep behoort, as omgangstaal in die oostelike gebiede (die pays Gallo of Bo-Bretagne) gepraat word. Frans het egter al lank die huistaal van die stedelike bevolking geword.

Bretons en Gallo geniet nie die erkenning van die Franse staat nie, tog word albei in ooreenstemming met die grondwet deur die plaaslike owerhede gebruik op tweetalige straatborde en vir ander kennisgewings.

[wysig] Simbole

Die historiese vlag van die hertogdom Bretagne
Vergroot
Die historiese vlag van die hertogdom Bretagne
Gwenn ha Du, die Bretonse vlag
Vergroot
Gwenn ha Du, die Bretonse vlag

Gwenn ha Du is sedert die jaar 1923 die swart-en-wit vlag van Bretagne. Daar is nege strepies - die vyf swart strepies versinnebeeld die vyf voormalige "lande" of bisdomme van die Opper-Bretagne of die Pays Gallo (Dolois, Nantais, Rennais, Penthièvre en Malouin).

Die vier wit strepies is die simbole van die vier voormalige "lande" of bisdomme van die Neder-Bretagne, les Pays Bretonnants (Cornouaille, Léon, Trégor en Vannetais). Die reghoek links bo bevat elf gestileerde swart hermeliene op 'n wit agtergrond.

Die hermelien was vroeër 'n gewilde Europese wapendier. In Bretagne gebruik aanvanklik net die hertoë van Montfort die hermelien, maar later word dit Bretagne se nasionale wapendier. Die vlag van Bretagne maak gebruik van 'n gestiliseerde uitbeelding met 'n kruis en drie spitse wat na benede wys.

[wysig] Keltiese legendes

Die kasteel Fort la Latte (13de eeu)
Vergroot
Die kasteel Fort la Latte (13de eeu)

Die mistieke landskap van Bretagne gee die aanleiding vir 'n groot aantal legendes. Dit is die magtige getye, wat die landskap langs die kuslyn twee keer per dag dramaties verander; die donkergrys hemel en wisselvallige lig; die misbanke en verlate heidevelde en heuwels, wat van Bretagne skynbaar 'n poort na 'n ander wêreld maak. Die Bretonse legendes berig van drake, wat bogrondse skatte bewaak; "wit dames" en ander spoke; die afgryslike "wasvroue van die nag" en ander mitiese wesens.

Sononder in Port-Navalo (Morbihan)
Vergroot
Sononder in Port-Navalo (Morbihan)

Die mere en woude, fonteine en valleie van Bretagne is die tuiste van die Kerrigans, klein kabouters, wat graag probeer om die eensame reisiger of wandelaar na hul rondedans te lok.

Die heuwels van die Monts d'Arrée is volgens die Keltiese tradisies die poort na die hiernamaals. In die Christelike tydperk is beweer dat Youdig, die poort na die hel, op die berg lê.

Ankoù, die Dood se helper, neem die siele van die oorledenes op sy ou wa na hierdie mistieke landskap. Siele, wat deur die veerman nie na die "Eilande van die Gelukkiges", 'n paradysagtige wêreld anderkant die horison, geneem is nie, dwaal deur die "koue hel" van verlate valleie en woude.

Met die verhaal van koning Artus en die Heilige Graal maak die middeleeuse Franse digter Chrétien de Troyes in sy epiek 'n deel van die Matière de Bretagne, die "Bretonse literêre stof", tot onsterflike literêre motiewe.

[wysig] Nywerhede

Die plaaslike nywerhede verskaf sowat 'n vyfde van die werkgeleenthede in Bretagne. Die industrialisering het taamlik laat begin, en die verskillende nywerheidsektore is in bepaalde stede gekonsentreer. Rennes is die sentrum van die motornywerheid met Citroën as die belangrikste werkgewer; Brest is die hoofkwartier van die elektroniese nywerheid; Lannion het hom op telekommunikasie toegespits; Saint-Nazaire beskik oor belangrike skeepswerwe; en La Gacilly staan vir sy kosmetiese produkte bekend.

Danksy die goed ontwikkelde landbou en visserybedryf bly voedselverwerking die grootste nywerheidsektor. Daarnaas speel ook dienste en navorsing 'n groot rol in die Bretonse ekonomie.

[wysig] Vissery, landbou en kookkuns

Bretagne met sy tradisionele vissershawens Lorient, Saint-Malo, Le Guilvinec, Cocarneau en Douarnenez is Frankryk se belangrikste verskaffer van gewilde seekosse soos kreef, garnale, oesters en die beroemde coquilles Saint-Jacques (Sint-Jakobsmossels). Laasgenoemdes kom veral uit die Noord-Bretonse hawestad Erquy. Met 'n jaarlikse vangs van sowat 130 000 ton lewer Bretagne byna die helfte van Frankryk se seekos-verbruik. Die plaaslike restourante bied met die tradisionele plateau de fruits de mer 'n gereg met verskeie soorte seekos aan.

'n Oopgerolde crêpe wys sy vulsel
Vergroot
'n Oopgerolde crêpe wys sy vulsel

Forel en salm is die gewildste soorte vis, wat vroeër nog volop in die Bretonse riviere voorgekom het. Deesdae het hulle - net soos seekos - weens oorontginning van die visbronne skaars geraak.

Die landbou in Bretagne, veral in die noordelike Finistère, vaar beter as die vissery. Belangrike produkte, wat orals in Frankryk en elders in Europa bemark word, is onder meer artisjokke (Bretagne lewer 87 persent van die totale jaarlikse oes in Frankryk), blomkool (76 persent), salotte (75 persent), aartappels (30 persent), groenbone (28 persent) en aarbeie. Die plaaslike appels word hoofsaaklik vir sidervervaardiging verbou.

'n Bretonse artisjokkeveld naby Morlaix
Vergroot
'n Bretonse artisjokkeveld naby Morlaix

Gesoute botter is een van die belangrikste bestanddele van die Bretonse kookkuns. Die groen weivelde van Bretagne en seesout sorg vir die kenmerkende smaak en romerige tekstuur van die plaaslike produk. Sowat dertig persent van die jaarlikse botterproduksie in Frankryk kom uit Bretagne. Bretonse botter word saam met die meeste geregte bedien en verfyn die gewilde plaaslike gebakspesialiteite, wat wêreldwyd bemark word.

Een van die Bretonse spesialiteite, die crêpe ('n soort dun pannekoek), word tradisioneel van boekweitmeel gemaak en op 'n besondere stoofplaat, die sogenaamde galletière, gebak. Oorspronklik is dit die stapelvoedsel van die arm landelike bevolking, wat in plaas van witmeel slegs die donker boekweitmeel kon bekostig. Dit is met suiker, botter, kaas of ham belê.

Far Breton, die Bretonse melktert, is 'n gewilde nagereg, wat koud of warm geniet word.

Die Bretonse crêperies (pannekoekbakkerye) bied crêpes met 'n verskeidenheid snoeperye soos roomys, heuning, sjokolade of konfyt aan. Die galette is die pikante weergawe van die crêpe, wat volgens seisoen met vulsels van ham, sampioene, artisjokke of seekos bedien word. Een van die gewildste variasies, die galette saucisse, word saam met braaiwors geniet.

Die belangrikste drank in Bretagne is sider (Bretons: chistr), wat saam met die crêpes geniet word. Maar ook bier, wat sedert die 17de eeu in Bretagne gebrou word, raak nou weer gewild nadat 'n aantal jong Bretonse brouers hierdie tradisie laat herleef het. Die bekendste Bretonse biersoorte is Cervoise Lancelot, Coreff uit Morlaix en Telenn Du, 'n bier wat van boekweit gemaak word. Chouchen, die tradisionele Keltiese heuningwyn, wat van water en gefermenteerde heuning gemaak word en as "godedrank" bekend staan, is nog steeds 'n gewilde aperitief en digestief. Volgens ou legendes maak dit die gode dronk en verleen aan mense onsterflikheid.

[wysig] Eksterne skakel


Die administratiewe gebiede van Frankryk Flag of France
Elsas | Aquitaine | Auvergne | Bourgogne | Bretagne | Centre | Champagne-Ardenne | Korsika | Franche-Comté | Île-de-France | Languedoc-Roussillon | Limousin | Lorraine | Midi-Pyrénées | Nord-Pas-de-Calais | Basse-Normandie | Haute-Normandie | Pays-de-la-Loire | Picardie | Poitou-Charentes | Provence-Alpes-Côte d'Azur | Rhône-Alpes
Oorsese gebiede:
Frans-Guayana | Guadeloupe | Martinique | Réunion


Keltiese gebiede in Europa

Bretagne | Ierland | Wallis | Cornwall | Man | Skotland

Our "Network":

Project Gutenberg
https://gutenberg.classicistranieri.com

Encyclopaedia Britannica 1911
https://encyclopaediabritannica.classicistranieri.com

Librivox Audiobooks
https://librivox.classicistranieri.com

Linux Distributions
https://old.classicistranieri.com

Magnatune (MP3 Music)
https://magnatune.classicistranieri.com

Static Wikipedia (June 2008)
https://wikipedia.classicistranieri.com

Static Wikipedia (March 2008)
https://wikipedia2007.classicistranieri.com/mar2008/

Static Wikipedia (2007)
https://wikipedia2007.classicistranieri.com

Static Wikipedia (2006)
https://wikipedia2006.classicistranieri.com

Liber Liber
https://liberliber.classicistranieri.com

ZIM Files for Kiwix
https://zim.classicistranieri.com


Other Websites:

Bach - Goldberg Variations
https://www.goldbergvariations.org

Lazarillo de Tormes
https://www.lazarillodetormes.org

Madame Bovary
https://www.madamebovary.org

Il Fu Mattia Pascal
https://www.mattiapascal.it

The Voice in the Desert
https://www.thevoiceinthedesert.org

Confessione d'un amore fascista
https://www.amorefascista.it

Malinverno
https://www.malinverno.org

Debito formativo
https://www.debitoformativo.it

Adina Spire
https://www.adinaspire.com