Ebooks, Audobooks and Classical Music from Liber Liber
a b c d e f g h i j k l m n o p q r s t u v w x y z





Web - Amazon

We provide Linux to the World


We support WINRAR [What is this] - [Download .exe file(s) for Windows]

CLASSICISTRANIERI HOME PAGE - YOUTUBE CHANNEL
SITEMAP
Audiobooks by Valerio Di Stefano: Single Download - Complete Download [TAR] [WIM] [ZIP] [RAR] - Alphabetical Download  [TAR] [WIM] [ZIP] [RAR] - Download Instructions

Make a donation: IBAN: IT36M0708677020000000008016 - BIC/SWIFT:  ICRAITRRU60 - VALERIO DI STEFANO or
Privacy Policy Cookie Policy Terms and Conditions
Normandië - Wikipedia

Normandië

vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.

Normandië
Drapeau normand Blason
(Vlag van Normandië) (Wapen van Normandië)
Leuse : « Diex Aïe ! » - « Que Dieu nous aide ! »
Amptelike tale Frans, Engels
Ander dialekte Normandies en Jèrriais
Historiese hoofstad Rouen
Onafhanklikheid Frankryk ; Kanaaleilande
Oppervlak
 - Totaal
 - Vasteland

17 783 vk km
17 589 vk km
Bevolking
 - Totaal (2005)
 - Bevolkingsdigtheid

3 300 000
110 inw. / vk km

Normandië is 'n historiese provinsie in die noord-weste van Frankryk, wat van die riviervlaktes van die Seine (Haute-Normandie) tot by die skiereiland Cotentin (Basse-Normandie) en die Kanaaleilande strek. Terwyl die vasteland deel uitmaak van die Franse Republiek, is die Kanaaleilande sedert die middeleeue 'n Britse kroongebied.

In die huidige Frankryk verwys die term Normandië dikwels na die administratiewe geweste Haute-Normandie met die départements Seine-Maritime en Eure, en Basse-Normandie met die départements Calvados, Manche en Orne met 'n totale oppervlak van 29 906 vierkante kilometer en sowat 3,3 miljoen inwoners. 'n Aantal kantons, wat histories deel uitmaak van die ou provinsie Normandië, is tydens die Franse Rewolusie by die départements Eure-et-Loire, Mayenne en Sarthe ingelyf en maak nou deel uit van die geweste Centre en Pays de Loire.

'n Nimmereindigende stryd teen natuurkragte het net soos die avontuurlus van hulle Wiking-voorvaders die karakter van die mense in Normandië gevorm, wat dikwels as eiesinnig, koppig en terughoudend beskryf word.

Inhoud

[wysig] Geografie en klimaat

[wysig] Die kontinentale Normandië

Rotskus naby Etretat
Vergroot
Rotskus naby Etretat

Normandië vorm geen geografiese eenheid nie, maar word deur twee groot natuurlike landskappe van Noord-Frankryk gekenmerk: Die Paryse Bekken en die Armorikaanse massief. Hierdie indeling stem nie met die grense van die twee Normandiese geweste op die vasteland ooreen nie, en die grenslyn tussen die twee geologiese formasies loop eerder in noord-suidelike rigting deur die départements Calvados en Orne.

Die geologiese verskeidenheid word deur 'n aantal verskillende landskapsvorme weerspieël, wat egter almal in dieselfde gematigde en vogtige klimaatsone lê. Grasvlaktes en bebosde gebiede kom - naas 'n aantal unieke landskapsvorme wat op klein gebiede beperk is - dwarsoor Normandië voor.

Die kuslyn bevat 'n verskeidenheid landskapsvorme. Bo-oor die klippiestrande van die Alabasterkus (Frans: Côte d'Albâtre) in die Pays de Caux verrys hoë krytrotse, wat sowat 200 miljoen jare gelede gevorm het en tot by die Seinemonding strek, die département Calvados spog in die Pays d'Auge et Bessin met uitgestrekte sandstrande langs die Côte Fleurie en die Côte de Nacre, terwyl die kuslandskappe van Manche verskillende gebiede bevat: Die steile kristalliene rotspunte van Kaap de La Hague in die noorde van die skiereiland Cotentin en die laer kusstreke met hulle tipiese sandstrande in die omgewing van Saint-Vaast en Mont-Saint-Michel.

Normandië se maritieme klimaat lei tot gematigde temperature dwarsdeur die jaar. Die weer langs die kusgebiede van die Engelse Kanaal word gekenmerk deur die sogenaamde Atlantiese versteurings, wat gereeld optree en windige weer met die berugte sombere tot donkergrys lig saam bring. Die suidwestelike winde waai steeds.

[wysig] Die Kanaaleilande

Jersey: Noirmont met St. Aubin's Fort
Vergroot
Jersey: Noirmont met St. Aubin's Fort

Tot by die Noormanne-invalle is die Kanaaleilande deur Bretone bewoon. Die eilandgroep maak in die tydperk tussen 933 en 1204 deel uit van die Hertogdom Normandië. Teen die einde van die Honderdjarige Oorlog met Engeland misluk 'n Franse poging om die eilande weer by Frankryk in te lyf.

Die Kanaaleilande bly gevolglik 'n deel van die Hertogdom Normandië en 'n selfregerende Britse Kroongebied, aangesien die Engelse monarg gelyktydig ook as Hertog van Normandië fungeer. Die eilande bewaar talle ou tradisies soos die Normandiese regstelsel en maak nóg deel uit van die Verenigde Koninkryk nóg van die Europese Unie nie.

Slegs die hoofeilande Jersey, Guernsey, Alderney, Sark en Herm en die kleiner eilande Jethou, Brecqhou en Lihou is bewoon. Die klein Minquiers-rotsbank en Ecréhous het geen permanente bevolking nie.

Die eilande het danksy die invloed van die Golfstroom 'n baie gematigde klimaat. Die see se getye skep 'n ongewone natuurskouspel, wanneer tydens eb 'n uitgestrekte seelandskap ringsom die eilande droog lê.

[wysig] Geskiedenis

[wysig] Die prehistoriese tydperk

Argeologiese vondse uit die steentydperk, wat veral in Eure en Calvados opgegrawe is, lewer bewys van prehistoriese menslike nedersettings in Normandië. In die grot van Gouy naby Rouen is rotstekeninge teen die grotwande geskilder, wat as die mees noordelike in Europa beskou word. Daarnaas is 'n groot aantal megaliete volgens sekere patrone dwarsoor Normandië opgerig.

[wysig] Normandië voor die Romeinse verowering

Omtrent die Keltiese geskiedenis van Normandië is nou baie besonderhede bekend, veral danksy 'n groot aantal aregeologiese bronne, waarvan die ouderdom noukeurig bepaal kan word. Plaaslike geleerdes soos die geestelike Cochet en Léon Coutil het die argeologiese vondse van veral Haute-Normandie sedert die 19de eeu ondersoek en hulle opgrawings en vondse in wetenskaplike standaardwerke gepubliseer.

Van die belangrikste Keltiese objekte, wat in Normandië opgegrawe is, is die goue Galliese helm van Amfreville-la-Mi-Voie (4de eeu v.C.); die ysterhelm, wat nou in die museum van Louviers vertoon word en die groot nekropool van Pîtres (Eure) met sy Keltiese urnegrafte, waarin swaarde en die oorblyfsels van 'n lykwa ontdek is.

Die Keltiese volk van die Belgae vestig hulle in opeenvolgende immigrasiegolwe tussen die 4de en 3de eeu v.C. in Normandië. Die huidige kennis oor die verskillende Galliese stamme is grootliks te danke aan Gaius Julius Caesar se noukeurige beskrywings in sy boeke oor die Galliese Oorlog (De bello Gallico). Ná die Galliese neerlaag naby Alesia bied die plaaslike stamme in Normandië nog 'n tyd lank weerstand teen die Romeinse veroweraars, tog het die Romeine in 51 v.C. hulle gesag oor Gallië uiteindelik gevestig.

[wysig] Die Romeinse tydperk

Orfeus-mosaïek uit Lillebonne (Rouen, Musée des Antiquités)
Vergroot
Orfeus-mosaïek uit Lillebonne (Rouen, Musée des Antiquités)

Met keiser Augustus sy administratiewe hervormings van die jaar 27 v.C. word die Normandiese gebiede 'n deel van die Galliese provinsie Lugdunensis. Soos elders in die weste van die ryk, word die Romanisering van die plaaslike bevolking deur die bou van paaie en verstedeliking bevorder.

Romeinse borsbeeld uit Lillebonne
Vergroot
Romeinse borsbeeld uit Lillebonne

In die Normandiese gebiede oorheers egter die sogenaamde villa-kultuur, waarby 'n groot plattelandse bevolking outarke landgoedere bewoon.

In die tweede derde van die 3de eeu word talle dorpe en stede in Normandië deur barbare-invalle verwoes, en die kusgebiede is deur Saksiese seerowers bedreig. Spore van brande en skatte en geld, wat bewoners haastig ingegrawe het om dit teen plunderaars te beskerm, getuig nog steeds van daardie onrustige tye in Noord-Gallië.

As gevolg van Diocletianus (285-305) se administratiewe hervormings word die Normandiese gebiede van die huidige Bretagne geskei en vorm die gebied Lugdunensis Secunda. Teen hierdie tydperk begin ook die kerstening van Normandië, en die eerste biskop word in Rouen geordonneer.

Sedert 406 word die Wes-Romeinse gebiede deur Germaanse stamme oorstroom. Die Sakse vestig hulle langs die Normandiese kus. Die gesag van die Romeinse keisers begin vinnig daal, en Normandië staan weer onder sy ou naam Armorika bekend. Die plattelandse villas is ontruim en vervolgens verwoes, terwyl die stadsbewoners hulle agter hulle versterkings verskans. Nog voor die amptelike einde van die Wes-Romeinse Ryk in die jaar 476 vestig talle barbare-groepe hulle as Romeinse bondgenote in Gallië, wat veral uit die toponimie blyk.

[wysig] Die Hoë Middeleeue

In 486 kom die Galliese gebiede tussen Somme en Loire onder die heerskappy van die Frankiese koning Clovis. Die Frankiese verowering lei nie tot 'n grootskaalse vestiging van Franke in Normandië nie, tog getuig talle plekname met die eindings -ville en -court en die administratiewe en militêre verdeling in graafskappe van die Frankiese invloed.

Daarenteen het die kerstening 'n diepgaande invloed op Normandië. In die grootste stede word katedrale opgerig, terwyl kerke op die platteland aan heiliges gewy word. Langs die paaie word kapelle opgerig, en in die Karolingiese tydperk lê dorpsbewoners hulle begraafplase meesal ringsom hulle parogiale kerke aan. Sedert die 6de eeu begin die Normandiese kloosterlewe - dikwels volgens die reëls van die heilige Benedictus - veral in afgeleë gebiede van die weste ontwikkel.

[wysig] Die Skandinawiese invalle

Teen die einde van die eerste millenium begin die strooptogte van Skandinawiese Wikings in 'n groot aantal Europese gebiede. Daar is twee golwe van invalle, met die eerste in die tydperk tussen 790 en 930 en die tweede tussen 980 en 1030. Die Wikings staan bekend onder hulle gelatiniseerde naam Northmanorum of "Manne uit die noorde". Die naam van Normandië is van afgelei van die Skandinawiese krygers.

Normandië in die 10de en 11de eeu. Die grafiek wys die uitbreiding van die Normandiese gebied en die aandeel van Skandinawiese setlaars
Vergroot
Normandië in die 10de en 11de eeu. Die grafiek wys die uitbreiding van die Normandiese gebied en die aandeel van Skandinawiese setlaars

Tussen 790 en 800 onderneem die Noormanne hulle eerste strooptogte langs die kusgebiede van die westelike Gallië, en onder die heerskappy van Lodewyk die Vrome (814-840) val hulle vir die eerste keer stede in die huidige Normandië aan. Die inval van die jaar 841 berokken groot skade in Rouen en Jumièges. Net soos by hulle eerste strooptog op die Britse kloostereiland Lindisfarne teen die einde van die 8de eeu spits die Wikingers hulle op sagte teikens soos kloosters toe. Die Skandinawiërs val hulle teikens meesal tydens die somer aan, om daarna met hulle prooi na die noorde terug te keer en daar te oorwinter. Met die ekspedisie van 845 seil hulle die Seine rivier-op en plunder Parys.

Sedert 851 bly die Noormanne tydens die winter in Basse-Seine (wat meer of min ooreenkom met die huidige Haute-Normandie) en verwoes 'n aantal kloosters. Die Karolingiese heersers se beleid teenoor die Noormanne is soms vol teenstrydighede, maar meesal eerder swak. In 867 oorhandig Karel die Kale die graafskap Cotentin aan die Bretonse hoof Salomon, onder die voorwaarde dat hy die eed van getrouheid aan die koning aflê om voortaan sy bystand by die afweer van Skandinawiese invalle aan die Frankiese owerhede te verleen.

Die graf van Rollo, hertog van Normandië, in die katedraal van Rouen
Vergroot
Die graf van Rollo, hertog van Normandië, in die katedraal van Rouen

Desondanks onderteken koning Karel die Simpele in 911 'n ooreenkoms met die Noorse hoof Rollo. Onder die voorwaarde dat Rollo die eed van getrouheid sal aflê (wat hy uiteindelik in 940 doen) en hom laat doop, staan die koning die gebied van Basse-Seine aan hom af. Verder is Rollo verplig om die riviermonding van die Seine en Rouen teen Wiking-aanvalle te beskerm.

Die gebied onder Normandiese heerskappy word deur 'n aantal verowerings nog vergroot; in 924 is Hiémois en Bessin en in 933 die skiereiland Cotentin en Avranchin by die Normandiese gewes ingelyf. Willem die Veroweraar slaag daarin om die gebied in 1050 nog verder af te rond.

Die vestiging van Skandinawiërs in die gebied is allesbehalwe 'n grootskaalse immigrasie. Die Deense setlaars verteenwoordig die grootste deel van die Skandinawiese bevolking in Normandië, maar daar is ook 'n groot aantal Noorse immigrante en klein groepe Swede. Sommige streke met 'n groter Skandinawiese bevolkingsdigtheid soos die Pays de Caux en die noorde van die skiereiland Cotentin wys 'n groter aandeel Skandinawiese plekname.

Die vermenging van Skandinawiese elemente met die inheemse bevolking staan aan die beginpunt van die ontwikkeling van die magtigste feodale staat in Europa. Met hulle dinamisme en hulle uitstekende tegniese vernuf, veral op die gebied van die skeepsbou, is hulle in staat om vervolgens Engeland, Suid-Italië, Sisilië en tydens die kruistogte ook die Levant te verower.

[wysig] Die Hertogdom Normandië

Die kripta van die katedraal van Bayeux (11de eeu)
Vergroot
Die kripta van die katedraal van Bayeux (11de eeu)

Die opvolgers van Rollo dra - tot by Richard II - aanvanklik die titel "graaf van Normandië"; hulle het die reg om mense onder ban te plaas, maar erken die Franse koning as hul leenheer. In die praktyk geniet die destydse hertoë en grawe egter politieke en finansiële onafhanklikheid: Hulle slaan hulle eie munte, oefen die plaaslike regspraak uit, hef hul eie belasting, benoem prelate en beskik oor hul eie leërs.

Daarnaas onderhou die Normandiese heersers betrekkinge met buitelandse vorste, veral met die Engelse koningshuis. Belangrike poste is hoofsaaklik deur lede van die vorstelike familie gevul, en die gesag van die landelike adel bly - anders as in die res van Noord-Frankryk - steeds beperk ten gunste van die vorstehuis. Ander voorregte van die Normandiese vorstehuis is uit die Skandinawiese regstelsel oorgeërf en in Normandië nog steeds toegepas, soos ballingskap, die seereg en die konkubinaat.

Die adel, die sogenaamde Grands de Normandie, is in hierdie tydperk hoofsaaklik van Frankiese afkoms, met net enkele Skandinawiese families soos die lyn van die Harcourt. Aan die begin van die 11de eeu vermeng die adellike Normandiese gesinne ook met Bretonse elemente (veral in die weste) en met adellikes uit Anjou en Duitsland.

'n Aantal Normandiese adellikes, wat hulle in Suid-Italië en veral in Sisilië vestig, waar hulle 'n nuwe dinastie stig, speel 'n belangrike rol in die geskiedenis van die Bisantynse Ryk en die kruistogte.

[wysig] Willem die Veroweraar

Die Tapyt van Bayeux beeld die Normandiese verowering van Engeland uit
Vergroot
Die Tapyt van Bayeux beeld die Normandiese verowering van Engeland uit
Willem die Veroweraar in die Museum van Bayeux
Vergroot
Willem die Veroweraar in die Museum van Bayeux

Die Normandiese geskiedenis bereik 'n nuwe hoogtepunt met Willem die Veroweraar. Sedert 1050 vra die Engelse koning Willem om sy bystand teen sy opposisie in die Engelse adel. Aangesien Edward sonder erfgenaam gebly het, wek hy die indruk dat Willem 'n moontlike opvolger op die troon sou kon wees. Ná Edward se dood op 5 Januarie 1066 word egter sy skoonbroeder Harold Godwinson in Westminster as Engelse koning gesalf.

Willem besluit om sy erfdeel met geweld te neem en seil met sy leër na Engeland. Die Engelse leër veg op hierdie tydstip al teen die Noorse koning Harald Hardraada, wat self aanspraak maak op die Engelse troon. Ná die oorwinning oor die Noorse invallers in die slag van Stamford Bridge staan die Engelse leër naby Hastings teenoor Willem se strydmag. In die slag op 14 Oktober 1066 is Harold dodelik gewond.

Willem die Veroweraar is op 25 Desember 1066 in die abdy van Westminster as Engelse koning gesalf.

Met sy nuwe koninklike titel en die nuwe rykdom het Willem se magsbasis aansienlik vergroot, en die Normandiese aristokrasie begin sy gebiede op die vasteland uitbrei. Weens Willem se sukses is daar nou ernstige wantroue tussen die Normandiese vorstehuis en die Franse koning, en ná Willem se dood bestaan daar ernstige verskille tussen sy erfgename en die Normandiese adellikes.

[wysig] Die 12de eeu en die Franse verowering van Normandië

Ná die dood van Geoffroy Plantagenêt, stamvader van die Anglo-Normandiese huis Plantagenêt, erf sy seun Hendrik II Normandië. Hy vergroot sy besittings deur sy huwelik met Aliénor van Akwitanië in 1154. Normandië maak nou deel uit van die magtige Plantagenêt-ryk, wat van Skotland tot by die Pireneë strek. Sy seun en kleinseun, Richard Cœur de Lion (Richard die Leeuhart) en Johan sonder Land, het reeds moeite om die ekspansionistiese beleid van die Franse koning Philippe Auguste af te weer.

Richard die Leeuhart sterf in 1199. Johan sonder Land is op 25 Mei 1199 in Rouen as Hertog van Normandië bekroon. In die middeleeue staan hy bekend vir die belastingdruk, wat hy op sy onderdane plaas, en daar word selfs beweer dat hy van die duiwel besete is. Hy erken die Franse koning as leenheer van Normandië, maar trou met Isabelle Taillefer, wat eintlik as bruid aan Hugo IX van Lusignan, 'n leenman van koning Philippe Auguste, belowe is. Op versoek van Hugo pas die Franse koning die feodale reg toe en konfiskeer Johan se land. Hy gee dit aan Arthur I van Bretagne, 'n neef van Geoffroy Plantagenêt - met die uitsondering van Normandië, wat hy self wil oorneem. In die somer van 1202 beset Philippe Auguste die Pays de Bray. Johan probeer sy posisie te red en laat Arthur vermoor, tog laat die Normandiese adel, wat reeds onder Franse invloed gekom het, hom in die steek. Franse troepe verower op 21 Mei 1204 die stad Caen en op 24 Junie ook Rouen. As gevolg van die Franse verowering word Normandië by die kroondomein ingelyf.

[wysig] Normandië onder Franse heerskappy

Die beleid van koning Philippe II Auguste is daarop gemik om die Normandiese adel met die Franse heerskappy te versoen. Die Normandiese besonderhede en voorregte word deur die Franse kroon nie aangetas nie. Die 13de eeu word deur 'n ekonomiese opswaai gekenmerk, en veral die landbou en handel ontwikkel vinnig. Koopmanne uit Rouen voer wyn en graan na Engeland uit en voorsien die Franse markte van Engelse tin, wol en lakens.

In die eerste helfte van die 13de eeu ontwikkel ook die Normandiese argitektuur sy eie styl en oorneem daarna die Franse gotiese boustyl. Die Franse koningshuis en die Grands van Normandië bevorder die oprigting van pragtige geboue, en koning Philippe Auguste lewer 'n bydrae vir een van die mees ambisieuse projekte, die "Wonder van Mont-Saint-Michel".

Die Normandiese adel en burgery slaag daarin om hulle voorregte ook tydens die politieke en ekonomiese krisis van die laat 13de eeu te handhaaf.

[wysig] Die Honderdjarige Oorlog

In 1348 word Normandië deur 'n uitbreek van die swart pes geteister. Saam met die verwoestings van die oorlog tussen Engeland en Frankryk en die hongersnode wat daaruit voortvloei, ervaar die Normandiese bevolking hierdie tydperk as een van die rampspoedigste in die geskiedenis. In 1382 kom die inwoners van Rouen in opstand teen die Franse belastingbeleid.

Frankryk in die jaar 1435
Vergroot
Frankryk in die jaar 1435
Fort de la Hougue (Cotentin)
Vergroot
Fort de la Hougue (Cotentin)

Ná 'n tydperk van lae intensiteit hervat die oorlogspartye hulle offensiewe teen die begin van die 15de eeu, en Normandië is nou meer as tevore die toneel van krygshandelinge.

Hendrik V, koning van Engeland, onderneem in Augustus 1415 'n poging om Frankryk te verower. Hy beleër Harfleur, behaal naby Azincourt 'n oorwinning oor die Franse troepe en verower die hele Normandië. In 1419 neem hy Rouen in. Die Engelse kontroleer nou 'n groot deel van Frankryk.

As gevolg van die verdrag van Troyes, wat in 1420 onderteken is, trou Hendrik V met Catherine, die dogter van die Franse koning Karel VI. Met die dood van laasgenoemde sou Hendrik V of sy seun koning van sowel Engeland asook Frankryk word. In die jaar 1422 sterf Hendrik V en Karel VI. Aangesien Hendrik VI nog 'n baba is, regeer die hertog van Bedford in sy naam. Hy stig in 1432 die universiteit van Caen en beywer hom vir die bewaring van die Normandiese voorregte. Sy belastingbeleid lei egter tot groot ontsteltenis.

Bedford steun ook die doodsvonnis wat oor Johanna van Arkel uitgspreek sou word. Nadat sy tydens die beleg van Compiègne gevange geneem is, word sy op 30 Mei 1431 aan die Engelse "verkoop" en ná 'n lang verhoor in Rouen lewendig verbrand. Haar as is in die Seine gestrooi.

In 1434 lei die belsting, wat deur die Engelse gehef word, orals in Normandië tot politieke onrus. Die offensiewe van die Franse koning Karel VII in die lente van 1449 op die skiereiland Cotentin, in Basse-Seine en Sentraal-Normandië lui die begin van die bevryding in. Met die slag van Formigny in die huidige département Calvados word 'n einde aan die Engelse besetting gemaak. Cherbourg is as die laaste Normandiese stad in die somer van 1450 bevry.

[wysig] Die renaissance

Met die einde van die Honderdjarige Oorlog begin Normandië geleidelik herstel van sy demografiese en ekonomiese neergang. Ná die rampspoedige tydperk tussen 1337 en 1450 bereik Normandië in 1530 weer sy bevolkingsyfer van voor die oorlog. Koning Frans I stig in 1517 die hawestad Le Havre.

Bureau des Finances in Rouen (1510)
Vergroot
Bureau des Finances in Rouen (1510)

In Rouen beleef die lakennywerheid 'n ongekende opswaai. Normandiese vissers onderneem vaarte na die Oossee en na Newfoundland om haring en kabeljou te vis. Hulle vervoer sout uit Guérande. Tot by die jaar 1570 is die Engelse Kanaal 'n belangrike seestraat vir handelskepe op pad na Londen of Antwerpen. Normandiese handelaars voer produkte soos wol, tin en leer van die Britse eilande, sout en aluin uit die suide in. Hulle lê gereeld besoek aan die Antwerpse hawe af, terwyl Harfleur 'n gunstelinghawe van Spaanse handelaars word.

Normandië lewer 'n groot bydrae tot die ontdekkingsreise. In 1503 seil Binot Paulmier de Gonneville vanuit Honfleur na Brasilië. Jean Denis, 'n boorling van Honfleur, lê in 1506 besoek af aan Newfoundland en die monding van die Sint-Laurensrivier. Ook 'n ekspedisie onder die leiding van Samuel de Champlain, wat tot die stigting van die stad Québec lei, neem in 1608 sy aanvang in Normandië.

Tydens die heerskappy van Frans I seil die reder Jehan Ango, 'n boorling van Dieppe, met sy skepe na Soematra, Brasilië en Kanada. Dieppe is ook die setel van 'n kartografiese en hidrografiese skool onder die leiding van Pierre Desceliers. Die burgers van Rouen stuur Giovanni da Verrazano uit om die tropiese woude van Brasilië te verken. Ter ere van 'n besoek deur koning Hendrik II van Frankryk in 1550 is in Rouen 'n Brasiliaanse fees op die Seine georganiseer.

'n Groot aantal herehuise en paleise, wat in die plattelandse en stedelike gebiede van Normandië opgerig is, getuig van die dinamisme en welvaart van hierdie tydperk. Uiteindelik skep die ekonomiese vooruitgang in Normandië 'n gunstige klimaat vir die uitbreiding van die Protestantisme en sy etiek.

[wysig] Die tydperk van die reformasie

Caen: Hôtel d'Escoville (16de eeu)
Vergroot
Caen: Hôtel d'Escoville (16de eeu)

Veral die stedelike bevolking in Normandië bekeer hulle taamlik vroeg tot die Protestantisme. Die eerste stad, wat die Calvinistiese lewensbeskouing in die dertigerjare van die 16de eeu aanvaar, is Alençon, wat vinnig tot 'n sentrum van die reformasie ontwikkel. Van hier brei die nuwe geloof uit na die landelike gebiede van die Pays de Caux, die Seinevallei en Bessin. Daarenteen word die Protestantisme op die skiereiland Cotentin eers later, in die tweede helfte van die 16de eeu, aanvaar: Pierre de Comprond, sieur de la Mare, is hier vir sy godsdienstige oortuigings lewendig verbrand.

Die aflaathandel en die klein aantal geestelikes in die gebied word as die hoofredes vir die vinnige uitbreiding van die protestantisme aangevoer. Normandië is in vergelyking met ander gebiede welvarend en geletterd en danksy sy handelsbetrekkinge bly dit ook steeds oop vir nuwe invloede. Rouen is in hierdie tydperk die derde grootste sentrum van die uitgewersbedryf in Frankryk, en ook Caen beskik oor 'n groot aantal boekdrukkers.

Die herehuis van Senneville (Eure)
Vergroot
Die herehuis van Senneville (Eure)

Dit is veral die adel, die burgerstand van Caen en ambagsmanne van die tekstielbedryf wat by die reformatoriese beweging aansluit.

Met die begin van die godsdienstige oorloë in 1562 breek die beeldestorm ook in Normandiese stede soos Alençon, Rouen, Caen, Coutances en Bayeux uit. In Oktober van dieselfde jaar is Rouen beleër en vervolgens geplunder.

Soos elders in Frankryk is daar sterk verset teen die uitbreiding van die Protestantisme, veral van die kant van die owerhede. In die sogenaamde slagting van die Bartolomeüs-nag is ook in Rouen 'n groot aantal Protestante vermoor. Terwyl die reformasie se invloed teen die einde van die 16de eeu orals in Normandië begin afneem, bly Caen en Alençon nog steeds vestings van die nuwe geloof.

Kort voor die herroeping van die Edik van Nantes deur koning Lodewyk XIV in 1685 is Normandië se protestantse bevolking die grootste in Noord-Frankryk met sowat 200 000 mense. As gevolg van die herroeping besluit 184 000 Calvinistiese Normandiërs of 92 persent van die Protestantse bevolking om die provinsie te verlaat en hulle voorlopig in Engeland en Nederland te vestig - twee lande, waarmee hulle al lank nou handelsbetrekkinge het. Normandië verloor danksy die massa-emigrasie 'n groot aantal goed opgeleide burgers en vakmense, hele nywerhede en talle belangrike handelsbetrekkinge en inkomste wat daaruit voortgevloei het. Sowat 80 000 Normandiese burgers vestig hulle permanent in Engeland, Nederland en Pruise.

[wysig] Die tydperk van die Sonkoning Lodewyk XIV

Die rebellie van die sogenaamde Nu-Pieds ("Kaalvoete") breek in Augustus 1639 in die grootste stede van Normandië uit, kort na Lodewyk XIII se besluit om die belasting op sout orals in Frankryk in te voer.

In 1667 stig Jean-Baptiste Colbert die koninklike lakennywerheid van Elbeuf. 'n Kort tydperk van welvaart begin in Normandië, en die owerhede verlaag die belasting. Die boukuns van die tydperk word deur kastele in die klassieke styl soos in Balleroy, Beaumesnil, Cany en Flamamville oorheers.

Maar sedert 1689 voer Frankryk weer oorlog teen Engeland, en die Normandiese kusgebiede word verskeie kere deur Engelse troepe aangeval. Die Franse vloot ly in 1692 naby La Hougue (Cotentin) 'n verpletterende neerlaag, en in 1694 bombardeer die Engelse Le Havre en Dieppe.

Tegelykertyd verstewig die betrekkinge met Amerika. Normandiese seevaarders gaan voort met die verkenning van die Nuwe Wêreld: René Robert Cavelier de La Salle, 'n boorling van Rouen, lei 'n ekspedisie na die gebied van die Groot Mere in die huidige Verenigde State en Kanada en later na die Mississippirivier. Hy ontdek daarnaas die gebiede tussen Québec en die Mississippidelta, wat vervolgens as Frans-Louisiana bekend staan. Honfleur en Le Havre dien as hawens vir die slawehandel met Amerika. 'n Groot aantal van die oudste gesinne in die Franse provinsie Québec is afkomstig uit Normandië, veral die gebied van Basse-Normandie.

[wysig] Die tydperk van die Verligting

'n Linneveld in die Pays de Caux
Vergroot
'n Linneveld in die Pays de Caux

Die slawehandel beeik sy hoogtepunt in die 18de eeu, en dit is veral burgers uit Le Havre, Rouen en Honfleur wat voordeel trek uit die groeiende driehoekshandel. In die Wes-Normandiese stede begin die katoennywerheid ontwikkel en lê ook die grondslag vir die Industriële Rewolusie in die gebied, terwyl die ooste minder sterk deur die groeiende seehandel geraak word.

Dieppe: Grande Rue
Vergroot
Dieppe: Grande Rue

Die landbou lewer steeds 'n belangrike bydrae, met graan uit die Pays de Caux, Vexin en die omgewing van Neubourg, Caen en Argentan; melkboerdery in die Pays de Bray en Bessin; en vleisboerdery in die Pays d'Auge. Terwyl die wynbou vinnig afneem, word appels vir die siderproduksie al hoe belangriker.

Die spin- en weefbedryf en die linnegoedvervaardiging ontwikkel as die vernaamste nywerhede in die plattelandse gebiede. Die omgewing van Alençon, die bosgebiede van Ouche en die oostelike Normandië spits hulle op metallurgie toe. Terwyl in Villedieu-les-Poêles kopergereedskap vervaardig word, is Rouen die sentrum van die glas-, keramiek-, porselein- en uitgewersbedryf. Skeepswerwe word in Le Havre, Cherbourg, Caen, Rouen, Villequier en Dieppedalle opgerig. Die Seinevallei is die middelpunt van die chemiese bedryf, wat aanvanklik veral uit suikerraffinaderye bestaan.

Desondanks word ook Normandië deur die ekonomiese en politieke krisis in die tagtigerjare van die 18de eeu geraak, wat uiteindelik tot die Franse Rewolusie lei.

In 1790 word Normandië in administratiewe opsig in vyf départements verdeel. Die Normandiërs bied weerstand teen die algemene diensplig (levée en masse), wat tydens die Rewolusie ingevoer is.

[wysig] Die industrialisering in die 19de eeu

Op 3 Mei 1843 word die spoorwegverbinding tussen Parys en Rouen ingewy, vyf jaar later word dit verleng tot by Le Havre. Die slawehandel word afgeskaf. Die aantal skeepswerwe, tekstiel- en metallurgiese nywerhede neem sterk toe, veral in Seine-Maritime. Die meganisering van die tekstielbedryf en die gebruik van waterkrag versnel die industriële ontwikkeling. Die industriële rewolusie lei tot grootskaalse verstedeliking, die vorming van 'n stedelike proletariaat, toenemende werkloosheid en groeiende emigrasie na die Verenigde State.

[wysig] Die Tweede Wêreldoorlog

Die begraafplaas van Amerikaanse gesneuweldes in Colville-sur-Mer, Calvados
Vergroot
Die begraafplaas van Amerikaanse gesneuweldes in Colville-sur-Mer, Calvados
Die brug Pont de Normandie verbind Le Havre met Honfleur
Vergroot
Die brug Pont de Normandie verbind Le Havre met Honfleur

Normandië speel danksy die gealliëerde landing teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog 'n groot rol by die bevryding van Europa. Die "operasie Overlord", die grootste amfibiese operasie in die militêre geskiedenis, begin op 6 Junie 1944 met die landing van Amerikaanse, Britse, Kanadese en ander troepe langs die strande van Calvados en Manche. Dit is die begin van die slag van Normandië, wat met die kapitulasie van die Duitse garnisoen van Le Havre op 12 September eindig.

Militêre versterkings, wat van beton gemaak is, word nog steeds in Normandië aangetref. Hulle maak deel uit van die sogenaamde "Atlantiese wal", wat deur die Duitse troepe opgerig is.

Die Duitse besetting en die geallieerde bomaanvalle in 1944 het baie Normandiese stede verwoes. Die hawestad Le Havre is volledig in 'n puinhoop verander, en die Amerikaners het per ongeluk ook die ou stadskern van Rouen gebombardeer. Ook Caen en Lisieux is deur geallieerde bomme getref, terwyl Falaise, die geboortestad van Willem die Veroweraar, tydens die geallieerde beleg en verowering verwoes is.

Die Normandiese stede is ná die Tweede Oorlog in hulle historiese of 'n moderne argitektoniese styl herbou. Vandag is die toerisme een van die pilare van die Normandiese ekonomie, en behalwe vir die kusgebiede staan Normandië met sy gasvrye mense as 'n relatief goedkope reisbestemming bekend. Die vakansieoorde langs die kus steun veral op welgestelde Parysenaars, wat ook baie huise en woonstelle in stede soos Deauville besit.

Die ligging van Normandië, wat as 'n randgebied van die Europese Unie (EU) beskou moet word, het 'n nadelige effek op die plaaslike nywerhede, sodat werkloosheid nog steeds 'n groot probleem bly. Ondoeltreffende maatreëls van die EU het ook die Normandiese landbou benadeel.

[wysig] Kultuur

[wysig] Kookkuns

Die platteland van Normandië staan as 'n eersterangse landbougebied bekend, wat danksy die uitgestrekte weivelde groot hoeveelhede suiwelprodukte oplewer. Kaas uit Normandië is baie gewild en sluit beroemde soorte soos Camembert, Livarot, Pont l'Evêque, Boursin, Brillat-Savarin en Neufchâtel in. Ook Normandiese botter en room is hoog aangeslaan by fynproewers en speel 'n belangrike rol in die plaaslike kookkuns.

Teurgoule is 'n Normandiese ryspoeding, wat met kaneel verfyn en in 'n tradisionele skottel bedien word
Vergroot
Teurgoule is 'n Normandiese ryspoeding, wat met kaneel verfyn en in 'n tradisionele skottel bedien word
Camembert
Vergroot
Camembert

Die Normandiese appelboorde lewer die grondstof vir die sider-, pommeau- en calvados-produksie. Mense in Normandië hou nog steeds van die tradisionele trou Normand, 'n pouse tussen die gange van 'n maaltyd, waartydens 'n glasie calvados geniet word. Pommeau, die bekende Normandiese aperitief, is 'n mengsel van onvergiste sider (twee derdes) en calvados (een derde). 'n Ander aperitief, Kir normand, word van cassis en sider berei. Die stad Fécamp staan bekend vir sy likeur Bénédictine.

Appels is ook een van die hoofbestanddele van die Normandiese kookkuns, met bekende geregte soos moules à la normande (mossels wat met appels en room gekook word), bourdelots (appels in bladerdeeg) en Normandiese appeltert met crème fraîche. Normandiese gebak staan internasionaal bekend en sluit spesialiteite soos brioche (onder meer uit Évreux en Gisors), douillons (pere in bladerdeeg), fouaces ('n soort koekrolletjie, wat dikwels by 'n wynproe bedien word), fallues (botterbolletjies uit Lisieux), mirliton (amandelkoek) uit Rouen en sablés (beskuite, onder meer uit Bayeux en Lisieux). Tipiese Normandiese lekkergoed is sucre de pomme (appelkandy) en tammeletjies uit Isigny.

Normandiese vis- en seekosgeregte soos turbot en oesters van die Cotentin-skiereiland is orals in Frankryk gewilde spesialiteite. Normandië is die belangrikste verskaffer van oesters in die land.

Normandiese skaapvleis, eende, hoenders en kalkoene vorm die basis van 'n verskeidenheid Normandiese geregte.

Die beroemde kook van die Franse konings Karel V en Karel VI, Taillevent, is 'n boorling van Normandië, en sy hoofwerk, Le Viandier, is die oudste kookboek van Frankryk.

Our "Network":

Project Gutenberg
https://gutenberg.classicistranieri.com

Encyclopaedia Britannica 1911
https://encyclopaediabritannica.classicistranieri.com

Librivox Audiobooks
https://librivox.classicistranieri.com

Linux Distributions
https://old.classicistranieri.com

Magnatune (MP3 Music)
https://magnatune.classicistranieri.com

Static Wikipedia (June 2008)
https://wikipedia.classicistranieri.com

Static Wikipedia (March 2008)
https://wikipedia2007.classicistranieri.com/mar2008/

Static Wikipedia (2007)
https://wikipedia2007.classicistranieri.com

Static Wikipedia (2006)
https://wikipedia2006.classicistranieri.com

Liber Liber
https://liberliber.classicistranieri.com

ZIM Files for Kiwix
https://zim.classicistranieri.com


Other Websites:

Bach - Goldberg Variations
https://www.goldbergvariations.org

Lazarillo de Tormes
https://www.lazarillodetormes.org

Madame Bovary
https://www.madamebovary.org

Il Fu Mattia Pascal
https://www.mattiapascal.it

The Voice in the Desert
https://www.thevoiceinthedesert.org

Confessione d'un amore fascista
https://www.amorefascista.it

Malinverno
https://www.malinverno.org

Debito formativo
https://www.debitoformativo.it

Adina Spire
https://www.adinaspire.com