Louisiana
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
|
|||||
Bynaam: Pelican State | |||||
Ander VSA-deelstate | |||||
Hoofstad | Baton Rouge | ||||
Grootste stad | New Orleans | ||||
Goewerneur | Kathleen Blanco (D) | ||||
Amptelike tale | Geen; Engels en Frans de facto | ||||
Oppervlakte | 134 382 km² (31ste) | ||||
- Land | 112 927 km² | ||||
- Water | 21 455 km² (16%) | ||||
Bevolking (2000) | |||||
- Bevolking | 4 468 976 (22ste) | ||||
- Bevolkingsdigtheid | 39,61 /km² (22ste) | ||||
Toelating tot die Unie | |||||
- Datum | 30 April 1812 | ||||
- Rangorde | 18de | ||||
Tydsone | Sentrale Standaardtyd: UTC -6 / Somertyd -5 | ||||
Breedtegraad | 29°N tot 33°N | ||||
Lengtegraad | 89°W tot 94°W | ||||
Wydte | 210 km | ||||
Lengte | 610 km | ||||
Hoogte | |||||
- Hoogste punt | 163 m | ||||
- Gem. hoogte | 30 m | ||||
- Laagste punt | -2.5 m | ||||
Afkortings | |||||
- VSA-poskantoor | LA | ||||
- ISO 3166-2 | US-LA | ||||
Webwerf | www.louisiana.gov |
Louisiana is 'n deelstaat in die suide van die Verenigde State van Amerika. Louisiana word in die weste deur die deelstaat Texas, in die ooste deur die deelstaat Mississippi en in die suide deur die Golf van Meksiko begrens. Die staat lê in die subtropiese klimaatsone met lang en baie warm somers en milde winters. Die gebied word dikwels deur verwoestende orkane getref.
Louisiana is danksy die erfenis van die Franse koloniale tydperk uniek onder die Amerikaanse deelstate. Terwyl daar geen amptelike taal is nie, erken sy regstelsel sowel Engels asook Frans. Engels is vandag die omgangstaal van die oorgrote meerderheid van die bevolking. Tog word oorblyfsels van die Franse taal in die plaaslike dialekte en talle plekname bewaar en praat ongeveer 210 000 inwoners Frans as moedertaal.
Inhoud |
[wysig] Geskiedenis
Louisiana is lankal voor die aankoms van die eerste Europeërs die tuiste van stamme van die Eerste Nasies, en 'n aantal plekname verwys na die Indiaanse oorspronge van die staat.
Die eerste Europese ontdekkers is 'n Spaanse ekspedisie onder die leiding van Panfilo de Narvaez, wat in die jaar 1528 die monding van die Missisippirivier verken. Sowat dertien jaar later deurkruis die ekspedisie van Hernando de Soto die gebied. Die Spaanse owerhede stel min belang in die gebied, en dit is Franse ontdekkers wat die streek vervolgens verken. René Robert Cavelier de La Salle noem die gebied in 1682 ter ere van koning Lodewyk XIV van Frankryk Louisiana. Die eerste Franse nedersetting wod in 1699 deur Pierre Le Moyne d'Iberville gestig.
Die Franse kolonie Louisiana maak aanvanklik aanspraak op 'n groot gebied langs die oewers van die Mississippi wat tot Kanada in die noorde strek. Die nedersettings, wat ontstaan, is meesal langs die oewers van die Mississippi en sy takriviere geleë, terwyl 'n aantal handelsposte en sendingstasies ook in die gebied van die huidige Illinois en in die omgewing van Saint Louis (Missouri) gestig word.
Mobile in Alabama en Biloxi in Mississippi dien aanvanklik as hoofstede van die kolonie, tog word die setel van die regering in 1722 na New Orleans verskuif.
In die oorloë teen die Britte en Indiane verloor Frankryk die grootste gedeelte van sy gebiede oos van die Mississippi, met die uitsondering van die omgewing van New Orleans en die parogieë ringsom die Pontchartrainmeer. Die res van Louisiana word volgens die Verdrag van Fontainebleau in 1762 'n kolonie van Spanje.
Onder die Spaanse heerskappy maak enkele duisend Franstalige vlugtelinge, wat deur die Britte uit Akadië verdryf is, Louisiana hulle nuwe tuiste. Die Akadiërs vestig hulle veral in die gebied van die suidwestelike bayous en staan later as die Cajuns bekend.
Napoléon Bonaparte koop in 1800 met die Verdrag van San Ildefonso Louisiana van Spanje terug, alhoewel die transaksie twee jaar lank geheim gehou word.
Drie jaar later koop die Verenigde State die Franse provinsie van Louisiana en verdeel dit in twee gebiede: Die Orleans-gebied, wat in 1812 die deelstaat Louisiana vorm, en die distrik van Louisiana met alle geweste buite die Orleans-gebied. Die Florida-parogieë word deur 'n proklamasie van president James Madison in die jaar 1810 van die Spanse Wes-Florida geannekseer. Die westelike grenslyn tussen Louisiana en die Spaanse Texas bly tot met die Adams-Onis-verdrag van 1819 omstrede. Die vrystaat Sabine dien tussentyds as 'n buffersone en toevlugsoord vir misdadigers.
As 'n oorblyfsel van sy verlede as Franse besitting handhaaf die deelstaat Louisiana nog steeds 'n burgerlike wetboek, wat op die Code Civil van Louisiana baseer en meer of min met Frankryk se wetboek, die Code Napoléon, vergelyk kan word. Anders as die ander deelstate is Louisiana nie in counties onderverdeel nie, maar gebruik die uit die Franse tydperk oorgeërfde term parogieë. Daar is 64 parogieë.
In 1849 word die setel va die staatsregering van New Orleans na Baton Rouge verskuif.
Tydens die Amerikaanse Burgeroorlog skei Louisiana op 26 Januarie 1861 van die Unie af. Federale troepe verower die stad New Orleans op 25 April 1862.
[wysig] Regstelsel en regering
Die hoofstad van Louisiana is Baton Rouge, sy goewerneur is Kathleen Babineaux Blanco van die Demokratiese Party. Die twee senatore is Mary Landrieu (Demokrate) en David Vitter (Republikeinse Party). Louisiana beskik oor sewe lede in die Amerikaanse Kongres, warvan vyf Republikeine en twee Demokrate is.
Louisiana is die enigste deelstaat van die VSA, wat 'n regstelsel op die grondslag van die Romeinse, Spaanse en Franse reg het - in teenstelling met die Engelse common law van ander deelstate.
[wysig] Ekonomie
Die staat se bruto geografiese produk beloop in 2003 140 biljoen VSA-dollar. Die per capita-inkomste is VSA-$26 312, die 33ste hoogste van alle VSA-deelstate.
Louisiana se belangrikste grondstowwe is swawel, ru-olie en ystererts.
Die plaaslike landbousektor trek voordeel uit die subtropiese klimaat. Louisiana se hoofsaaklike landbou- en visseryprodukte is kreef (die staat is die grootste kreefprodusent ter wêreld en lewer sowat 30 persent van die VSA se totale visvangste op), katoen, sojabone, mielies, soetpatats, vee, suikerriet, pluimvee en eiers, suiwelprodukte en rys. Sy hoofnywerhede sluit chemiese produkte, ruolie- en koolprodukte, voedselverwerking, vervoertoerusting, papierprodukte en toerisme in.
[wysig] Demografie
Louisiana het in die jaar 2003 4 496 334 inwoners, waarvan sowat 215 000 Frans as huistaal praat. 62,5 persent van die bevolking is blankes, 32,5 persent swartmense, 2,4 persent is van Spaanse afkoms, 1,2 van Asiatiese en 1,1 persent van gemengde afkoms. 0,6 persent behoort tot die Eerste Nasies.
32,5 persent van die bevolking het Afrikaans-Amerikaanse voorvaders, 16,2 persent Frans-Kanadese, 10,1 persent Amerikaanse, 7,1 persent Duitse en 7 persent Ierse.
Swart Amerikaners, wat vir 'n lange tyd die meerderheid van die bevolking vorm, is die belangrikste demografiese groep in die suidoostelike, sentrale en noordelike gedeelte van die staat, veral in die parogieë langs die vallei van die Mississippirivier. Kreole van Franse afkoms en Cajuns met Frans-Kanadese voorvaders oorheers 'n groot gedeelte van die suidelike Louisiana (veral ringsom die stad Lafayette), terwyl blankes van Amerikaanse afkoms hulle veral in die bergagtige noorde gevestig het.
In die jaar 2000 praat 91,2 persent van die inwoners, wat vyf jaar of ouer is, Engels as huistaal en 4,8 persent Frans. Die derde grootste taalgroep is Spaans met 2,5 persent. Vietnamees is die huistaal vir 0,6 persent en Duits vir 0,2 persent.
Louisiana het geen amptelike taal nie. Voor die Amerikaanse Burgeroorlog is amptelike dokumente gewoonlik sowel in Engels asook in Frans uitgereik, en die tweetalige status van Louisiana is in die grondwet van die jaar 1845 en 'n wet van die jaar 1847 veranker.
Naas die frankofone inwoners vorm die Isleños, nasate van immigrante wat tydens die 18de eeu vanuit die Kanariese Eilande na Louisiana gekom het, 'n tweede belangrike minderheid.