Asterix
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Asterix (Frans: Astérix) is 'n strokiesprentkarakter, wat in 1959 as die held van die Franse strokiesverhale 'n Avontuur van Asterix, die Galliër, geskep is deur René Goscinny (die skrywer) en Albert Uderzo (die illustreerder). Ná die dood van Goscinny in 1977, het Uderzo voortgegaan met die reeks.
Die 33 hoofboeke (een is 'n samestelling van kortverhale) is in meer as 'n honderd tale vertaal. Die tale wissel van Afrikaans tot Wallies en sluit selfs Latyn en antieke Grieks in. Dié verhale is waarskynlik die mees gewilde Franse strokiesverhale in die wêreld, en baie bekend veral aan al die Europeërs. Die sleutel tot die sukses van die boeke is dat daar humor is vir alle ouderdomme: kinders hou van die visuele aksie, soos vuisgevegte, en volwassenes waardeer weer die intelligensie van die verwysings en woordspelings wat die teks kenmerk.
(Die Afrikaanse name wat in dié artikel gebruik word, is gebaseer op die vertaalwerk van E.P. du Plessis en Ludwig Visser vir die uitgewer Human en Rousseau).
Verskeie boeke is in films verwerk, waarvan sommige animasierolprente was en ander werklike akteurs gebruik het.
Inhoud |
[wysig] Hoofkarakter en agtergrond
Asterix is 'n klein outjie, maar vreesloos en slim, altyd reg vir 'n nuwe avontuur. Hy woon in 'n fiktiewe dorpie in noordwes-Armorika, ('n gebied van Gallië wat rofweg korrespondeer met die huidige Bretagne) in die jaar 50 VC. Die dorpie is die enigste deel van Gallië wat nog nie deur Julius Caesar en sy Romeinse legioene verower is nie. Die inwoners van die dorpie verkry bomenslike krag wanneer hulle 'n towerdrankie drink. Dié drankie word gemaak deur die plaaslike druïde Abracadabrix. Die dorpie word omring deur die oseaan aan die een kant, en vier ongelukkige Romeinse garnisoene -- wat veronderstel is om 'n ogie te hou oor die Galliërs om seker te maak dat hulle nie streke aanvang nie -- aan die ander kant.
Asterix is 'n geswore oujongkêrel en is ook een van die slimmer (en meer geestesgesonde) van die dorpie. Om dié rede word hy dikwels gekies om gevaarlike, belangrike en eksotiese sendings aan te pak. Hy is, anders as die res van die dorpelinge, nie iemand wat moeilikheid soek vir die plesier daarvan nie, alhoewel hy nie omgee om te baklei as daar 'n goeie rede is nie. Hy gebruik baie selde iets anders as sy vuiste in 'n geveg. Hy het dieselfde verjaarsdag as sy beste vriend Obelix. Sy helm, met vlerke wat sy gesigsuitdrukking na-aap, is 'n baie karakteristieke deel van sy voorkoms.
[wysig] Humor
Die humor van die Asterix-strokiesverhale is tipies Frans: dit sentreer op woordspeling, karikature en satiriese tong-in-die-kies stereotipering. Voorts is daar 'n sterk band met die kultuur van die 20ste eeu. Asterix en Obelix loop oral waarheen hulle reis, mense en voorwerpe teë wat verleen is aan dié tydperk. Só word die Britte uitgebeeld as beleefd en flegmaties, of binne tipiese kulturele verband, byvoorbeeld waar hulle warm water met 'n druppeltjie melk drink (dit was nog voordat tee daardie land getref het).
Voorts verwys die stories ook na belangrike kunswerke (soos byvoorbeeld Pieter Bruegel se Werkerstroue en Théodore Géricault se Die vlot van Medusa), sowel as na historiese persone (soos Napoleon en Koning Louis XIV van Frankryk), en befaamde plekke en standbeelde (soos Bethlehem en die Vryheidstandbeeld).
Aan die ander kant reflekteer die reeks die lewe in die eerste eeu voor Christus redelik akkuraat: die woonstelle in Rome word byvoorbeeld as veelvlakkig aangetoon. Die teks maak gereeld gebruik van egte Latynse frases, en van sinspelings na Oor die Galliese oorlog, 'n boek deur Julius Caesar oor die verowering van Gallië, insluitende grappe oor Caesar se gebruik om na homself in die derde persoon te verwys. Dié werklike boek is vir jare gebruik as 'n bekendstellingswerk aan Latyn.
[wysig] Woordspelings in name
'n Sleutelkenmerk van die Asterix-boeke is die konstante woordspeling met name. Die name van die twee protagoniste kom van asterisk en obelisk, waar Asterix die ster van die boeke is (Latyn: aster — afgelei van die Griekse woord αστήρ (astir) [ster] en die Keltiese taal: rix [koning], 'n kognaat van die Latynse rex, Sanskritiese raj, Duitse Reich, Engelse rich, ens.), en Obelix (Latyn: obeliscus 'n [gedenknaald]) 'n menhirafleweringsman. Daar is 'n dubble woordspeling ter sprake: 'n asterisk is die tipografiese simbool waarmee die eerste voetnota op 'n bladsy aangewys word (*), en 'n obelisk kan verwys na die tipografiese dolk (†) wat gebruik word om die tweede voetnota op 'n bladsy aan te toon.
[wysig] Afrikaanse vertalings
- Asterix die gladiator (Human en Rousseau, 1975)
- Asterix en die Noormanne (Human en Rousseau, 1975)
- Asterix en Cleopatra (Human en Rousseau, 1997)
- Asterix en die Olimpiese Spele (Human en Rousseau, 1997)
[wysig] Eksterne skakels
[wysig] Bron
Vertaal vanaf die Engelse Wikipedia. Die artikel is Asterix