Republiek van Ierland
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
|
|||||
Nasionale leuse: Geen | |||||
Volkslied: Amhrán na bhFiann ("Die Lied van die Soldaat") |
|||||
Hoofstad | Dublin (Baile Átha Cliath) 53°26′N 6°15′W |
||||
Grootste stad | Dublin (Baile Átha Cliath) | ||||
Amptelike tale | Iers, Engels | ||||
Regering
President van Ierland
Taoiseach |
Parlementêre demokrasie Mary McAleese Bertie Ahern |
||||
Onafhanklikheid
Van Verenigde Koninkryk
Verdrag oor die Regering van Ierland |
21 Januarie 1919 6 Desember 1922 |
||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
70 273 vk km (117de) 27 133 vk myl 2,0 |
||||
Bevolking - 2005 skatting - 2002 sensus - Digtheid |
4 148 000 (122ste) 3 917 203 57 / vk km 147,6 / vk myl |
||||
BBP (PPP) - Totaal - Per kapita |
2005 skatting $167,9 miljard (50ste) |
||||
HDI | 0,946 (8ste) — hoog | ||||
Geldeenheid | Euro (€) (EUR ) |
||||
Tydsone - Somertyd |
GMT (UTC+0) Ierse Somertyd (UTC+1) |
||||
Internet TLD | .ie | ||||
Skakelkode | +353 |
Die Republiek van Ierland (Iers: Poblacht na hÉireann) is 'n onafhanklike staat in die noord-weste van Europa, wat met 70 273 vierkante kilometer sowat vier vyfdes van die eiland Ierland beslaan. Noord-Ierland, die gebied in die noord-ooste van Ierland, is een van die deelstate van die Verenigde Koninkryk. Die Republiek van Ierland het 4,1 miljoen inwoners.
Die amptelike simbool van die republiek is die Keltiese harp, wat ook op die Ierse Euromunte uitgebeeld word. Dikwels word egter die klawer gebruik, onder meer deur die Republiek van Ierland se nasionale rugby-span.
Die Republiek van Ierland is sedert 1973 'n lidstaat van die Europese Unie en beskik oor 'n hoogs ontwikkelde ekonomie, wat immigrante uit ander Europese en oorsese lande lok.
Inhoud |
[wysig] Naam
Die Ierse grondwet bepaal dat die naam van die staat Éire is, of, in Engels, Ireland. Desondanks word na die onafhanklike staat Ierland soms ook as Republiek van Ierland verwys om dit te onderskei van die eiland Ierland.
Die Ierse staat het al meer as een amptelike titel gehad. Die rewolusionêre staat, wat deur Ierse nasionaliste in 1919 gestig is, het as die Ierse Republiek bekend gestaan. Die Paasfees-Proklamasie van die jaar 1916 gebruik reeds die Ierse term Poblacht na hÉireann ("Republiek van Ierland"). Nadat die staat in 1922 ook de jure onafhanklik geword het, het dit as die Ierse Vrystaat bekend gestaan (Iers: Saorstát Éireann). Hierdie naam is tot 1937 bybehou.
Die term Republiek van Ierland het gebruiklik geword, nadat die Wet van die Republiek van Ierland dit in 1949 as die amptelike benaming van die staat gedefinieer het. Die wet sou verduidelik dat die staat 'n republiek was en geen konstitusionele monargie nie. Dit is ook die gebruiklike naam in die Verenigde Koninkryk sedert die Ierland-Wet daar in 1949 in krag geraak het. Alhoewel die term Republiek van Ierland aanvaarbaar is, word die naam Ierland vir amptelike doeleindes soos internasionale ooreenkomste, regerings- en regsdokumente en die lidmaatskap in internasionale organisasies gebruik. Slegs indien daar 'n onderskeiding gemaak moet word tussen die onafhanklike republiek en Noord-Ierland, soos byvoorbeeld op die gebied van sport, waar Ierse en Noord-Ierse spanne bestaan, of by verwysings na die "grens tussen Noord-Ierland en die Republiek van Ierland", is dit ook vir die amptelike taalgebruik noodsaaklik om aan hierdie naam die voorkeur te gee.
In Engels staan Ierland onder meer ook bekend as Éire, Die Vrystaat (The Freestate) en die Ses-en-twintig Graafskappe (Twenty-six Counties). Weens die negatiewe historiese konnotasies van die naam Éire word dit tans nie meer dikwels gebruik nie.
[wysig] Demografie
Die Ierse bevolking is hoofsaaklik afstammelinge van die oorspronklike Keltiese bewoners van die eiland, Skandinawiese setlaars en Anglo-Noormanne.
Die amptelike tale is Iers en Engels. Iers is as nasionale taal 'n verpligte skoolvak in Ierland, tog bly die sogenaamde Gaeltacht-gebiede, waar Iers nog deur enkele tienduisend mense as omgangstaal gepraat word, beperk tot die uiterste weste van die eiland. Met die Wet oor die Amptelike Tale (Official Languages Act) van 2005 is die name van 'n aantal stede en dorpe van Engelse na Ierse weergawes gewysig.
Meer as 90 persent van die bevolking is Rooms-Katolieke. Daar is 'n Protestantse minderheid van Anglikane en ander groepe. Naas die klein Joodse gemeenskap is daar 'n groeiende Islamitiese bevolking, veral immigrante.
Ierland lok baie immigrante uit die nuwe lidstate van die Europese Unie soos Pole (120 000 immigrante), Litaue, die Tsjeggiese Republiek en Letland. Ander belangrike groepe van onlangse immigrante sluit Roemene, Sjinese en Nigeriërs in.
[wysig] Geskiedenis
Die geskiedenis van Ierland neem 'n aanvang met die eerste menslike nedersettings in die steentydperk. Ierland was sowat 8 000 jaar gelede nog met die eiland van Groot-Brittanje verbonde, en die eerste bewoners het waarskynlik vanaf die Europese vasteland gekom. Toe die eerste Gaelies-Keltiese setlaars die eiland in die 4de eeu v.C. bereik, bestaan daar reeds 'n ander Keltiese kultuur, die Iverners. Die huidige Ierse volk het dus verskillende etniese oorspronge.
In die Romeinse tydperk staan Ierland as Hibernia bekend. Die eiland is nooit deur die Romeine verower nie, en daar bestaan 'n aantal onafhanklike Ierse koninkryke en vorstedomme.
Britse slawe, waaronder ook die nasionale beskermheilige Sint Patrick, speel 'n groot rol by die kerstening van Ierland omtrent 430. Saam met die Christelike godsdiens word ook die Latynse alfabet ingevoer, wat in Ierland tot die Ogham-alfabet ontwikkel word. Die eerste historiese dokumente in die Iers-Gaeliese taal ontstaan in die 5de eeu n.C.
In die laat 6de eeu vestig Ierse setlars hulle ook in Skotland, in Wallis en op die eiland Man. Iers ontwikkel tot die algemene omgangstaal van Skotland en Man, maar verdwyn weer in Wallis.
Die eerste Ierse bloeitydperk eindig met die Angel-Saksiese en Wiking-invalle tussen die 7de en 10de eeu. In 1169 begin die Anglo-Normandiese heersers van Engeland met die verowering van die eiland. Die Normandiërs lê beslag op Ierse landgoedere, maak 'n einde aan die Ierse lakenbedryf en verdryf baie Iere na die onvrugbare weste van die eiland. Die inheemse bevolking verkeer in 'n toestand van armoede en regteloosheid.
Nogtans oorheers die Normandiërs net 'n gedeelte van Ierland. Eeue lank bly Dublin en sy omgewing die enigste gebied wat werklik verengels het. In die 16de eeu onderneem die Engelse Tudor-dinastie 'n nuwe poging om die Engelse heerskappy in Ierland te vestig. Engelse adellikes is uitgenooi om hulle in landelike gebiede van die eiland te vestig, en Mary Tudor en haar eggenoot Filips van Spanje stig die sogenaamde Queen's and King's County in die huidige Laois en Offaly.
Die sogenaamde Engelse volksplantings (Plantations) van Protestantse landeienaars en setlaars gaan voort onder koningin Elizabeth I (1558-1603), en vanaf 1609 stig die London Livery Companies stede en dorpe in die noordooste van Ierland. Derry ontwikkel tot een van die Protestantse sentrums in Noord-Ierland.
Die beleid van die Engelse landeienaars lei tot die groot Ierse hongersnood van die jare 1845 tot 1847. Maatreëls, wat die hongersnood sou kon bestry het, is deur die Britse owerhede doelbewus vertraag. 1,5 miljoen Iere verhonger, en baie inwoners emigreer na die Verenigde State.
Ná 'n reeks onluste kry Ierland op 6 Desember 1921 Dominium-status, wat 'n groter mate van selfregering aan die land toestaan. Ses graafskappe in die noordelike provinsie Ulster met 'n oorwegend Protestantse bevolking bly egter Britse gebied. Die vraagstuk van Noord-Ierland se politieke toekoms bly dekades lank 'n ernstige geskilpunt tussen die Ierse en Britse regerings. Ná meer as drie eeue onder Engelse heerskappy word Ierland op 18 April 1949 'n republiek buite die Britse Gemenebes. Die Republiek van Ierland maak tans geen aanspraak meer op Noord-Ierland, en danksy die Goeievrydag-ooreenkoms, wat in 1998 tussen Ierland en die Verenigde Koninkryk gesluit is, het die politieke klimaat stabiel geword.
Ierland word in 1955 'n lidstaat van die Verenigde Nasies en in 1973 van die Europese Ekonomiese Gemeenskap.
[wysig] Politiek en administrasie
Ierland is 'n parlementêre republiek. Die President van Ierland fungeer as die staatshoof en word vir 'n ampstermyn van sewe jaar gekies. Die President mag vir 'n tweede ampstermyn herverkies word. Die staatshoof voer oorwegend seremoniële pligte uit, maar het desondanks - saam met die Staatsraad as raadgewende orgaan - sekere grondwetlike bevoeghede en funksies.
Die Eerste Minister (Iers: Taoiseach) word deur die parlement genomineer en deur die Staatspresident benoem. Dit is gewoonlik die voorsitter van die party wat die meeste setels in die algemene verkiesing gewen het. Dikwels word die Ierse regering deur 'n koalisie van twee partye gevorm.
Die Oireachtas, die tweekamerparlement van Ierland, bestaan uit die Senaat (Iers: Seanad Éireann) en die laer-huis (Dáil Éireann). Die Senaat het sestig lede, waarvan elf deur die Taoiseach benoem en ses deur twee universiteite gekies word. 43 senatore word deur afgevaardigdes uit 'n naamlys van kandidate gekies, waarby die kandidatelys volgens beroepsgroepe saamgestel word.
Die Dáil het 166 lede (Teachtai Dála), wat volgens die beginsel van representatiewe verteenwoordiging elke vyf jaar in die kiesafdelings gekies word.
Die grondwet beperk die regering tot vyftien lede. Hoogstens twee kabinetsministers mag uit die Senaat gekies word, en die Taoiseach, Tánaiste (Adjunkpremier) en Minister van Finansies moet lede van die Dáil wees. Die huidige koalisieregering word deur twee partye gevorm - Fianna Fáil ("Soldate van die Lot") onder die leiding van Taoiseach Bertie Ahern en die Progressiewe Demokrate onder die leiding van Tánaiste Mary Harney.
Die hoofopposisie in die Dáil word tans deur Fine Gael ("Familie van die Iere") en die Arbeidersparty gevorm. Daar is ook kleiner partye in die Dáil verteenwoordig, soos die Groen Party, Sinn Féin en die Sosialistiese Party.
Voor die vorming van die Republiek van Ierland, was die eiland van Ierland opgedeel in 32 graafskappe (counties). Die graafskappe wat deel van die Republiek vorm is Carlow, Cavan, Clare, Cork, Donegal, Dublin, Galway, Kerry, Kildare, Kilkenny, Laois, Leitrim, Limerick, Longford, Louth, Mayo, Meath, Monaghan, Offaly, Roscommon, Sligo, Tipperary, Waterford, Westmeath, Wexford en Wicklow. Ses graafskappe vorm tans deel van Noord-Ierland naamlik Antrim, Armagh, Derry, Down, Fermanagh en Tyrone. Die eiland van Ierland is ook tradisioneel in vier provinsies opgedeel naamlik Leinster, Munster, Connacht en Ulster. Die provinsies het egter nie streeksregerings nie. In Noord-Ierland is die Noordelike Raad (Northern Assembly) op die been gebring in lyn met die Goeie Vrydag Ooreenkoms. Die Raad administreer egter net ses uit die nege graafskappe wat oorspronklik die provinsie van Ulster gevorm het. In die Republiek is die administratiewe grense van plaaslike regering geleidelik besig om te verander weg van die tradisionele graafskapgrense in lyn met bevolkingspatrone. So byvoorbeeld is Dublin nou vier administratiewe gebiede naamlik Dublin Stad, Dún Laoghaire-Rathdown, Fingal en Suid-Dublin. Tipperary is opgedeel in twee administratiewe gebiede naamlik Noord en Suid Tipperary. Die stede van Cork, Galway, Limerick en Waterford het elk hul eie plaaslike regering, terwyl die omliggende gebiede in die graafskappe van Cork, Galway, Limerick en Waterford steeds hul eie plaaslike regering het. Verskeie groot dorpe soos Arklow, Athlone, Bray, Dundalk, Enniscorthy, Gorey, Killarney, Letterkenny, Mullingar en Navan wat geskiedkundige markdorpe is, het hul eie munisipaliteite (town councils).
[wysig] Ekonomie
Ierland was vroeër een van die armste lidstate van die Europese Unie (EU), maar het ná 'n aantal jare met hoë groeikoerse tot een van sy welvarendste ontwikkel. Danksy die vryhandelsooreenkoms met die Verenigde Koninkryk, wat in 1965 gesluit is, bereik die land geleidelik die industriële ontwikkelingspeil van Wes-Europa. Die inflasie-aangepaste per-capita-inkomste in Ierland is tans die tweede hoogste in die EU (en die vierde hoogste ter wêreld) en sowat 30 persent hoër as dié van Duitsland.
Weens die goeie ekonomiese ontwikkeling word daar soms na Ierland as die "Keltiese Tier" verwys. Danksy die wettelike minimumloon beloop die maandelike inkomste van 'n voltydse werknemer nie minder as 1 183 € (R10 100) nie.
Ierland se ekonomie het in die afgelope jare van sy agrariese fokus wegbeweeg na 'n ekonomie, wat oorwegend op handel, nywerhede en beleggings steun. Alhoewel dit in vergelyking met sy Europese buurstate nog taamlik klein is, het dit in die tydperk tussen 1995 en 2000 met 'n jaarlikse koers van 10 persent gegroei. Tussen 1995 en 2004 is die gemiddelde groeisyfer sewe persent. Die nywerhede het die landbou as die belangrikste ekonomiese sektor vervang en lewer 46 persent van die bruto binnelandse produk en 80 persent van die uitvoere op. Die industriële sektor bied 29 persent van die land se werkgeleenthede.
Uitvoere het 'n beduidende rol by die vinnige groei van die Ierse ekonomie gespeel, tog trek die land ook voordeel uit die verhoogde verbruikerbesteding, bouaktiwiteite en beleggings wat daarmee gepaard gaan. Volgens die statistieke is Ierland die grootste uitvoerder van sagteware-gebaseerde goedere en dienste ter wêreld. In werklikheid word egter groot hoeveelhede buitelandse sagteware - en ook musiek - vanaf Ierland uitgevoer om voordeel te trek uit die plaaslike belastingvryheid op inkomste van kopieregbeskermde goedere.
Een rede vir die land se ekonomiese opswaai is moontlik ook die feit dat die regering hier 'n aktiewe rol gespeel het. 'n Aantal staatlike programme is ingevoer, wat vraagstukke soos die hoë inflasiekoers (wat nog steeds veral die bewoners van die hoofstad Dublin pla), hoë belastingtariewe, staatsuitgawes, buitelandse beleggings in prestige-projekte en die gebrek aan voldoende beroepsopleiding aangepak het.
Ierland se ekonomiese beleid word ook deur die sogenaamde Social Partnership gekenmerk, waarby die regering, werkgewers en vakbonde saamgespan het om op vrywillige basis loon- en salarisverhogings vir tydperke van drie jare vooraf vas te lê.
Ierland was een van elf EU-lidstate wat in Januarie 1999 die Euro as gemeenskaplike geldeenheid ingevoer het. Ierland se oorspronklike geldeenheid was die Ierse Pond.
Nogtans leef sowat tien persent van Ierland se bevolking onder die broodlyn, en volgens UNICEF-statistieke is Ierland se kinderarmoedesyfer van 16,8 persent die sesde hoogste van die ontwikkelde lande.
|
|
---|---|
België | Ciprus | Denemarke | Duitsland | Estland | Finland | Frankryk | Griekeland | Hongarye | Ierland | Italië | Letland | Litaue | Luxemburg | Malta | Nederland | Oostenryk | Pole | Portugal | Slowakye | Slowenië | Spanje | Swede | Tsjeggië | Verenigde Koninkryk |
Lande in Europa |
---|
Albanië | Andorra | Armenië1 | Azerbeidjan1 | België | Bosnië-Herzegowina | Bulgarye | Kroasië | Ciprus2 | Denemarke | Estland | Finland | Frankryk | Duitsland | Georgia1 | Griekeland | Hongarye | Ysland3 | Ierland | Italië | Letland | Liechtenstein | Litaue | Luxemburg | Macedonië | Malta | Moldawië | Monaco | Montenegro | Nederland | Noorweë | Oostenryk | Pole | Portugal | Roemenië | Rusland1 | San Marino | Serwië | Slowakye | Slowenië | Spanje | Swede | Switserland | Tsjeggië | Turkye1 | Oekraïne | Verenigde Koninkryk | Vatikaanstad | Wit Rusland |
Afhanklikhede: Akrotiri and Dhekelia2 | Faroëreilande | Gibraltar | Guernsey | Jan Mayen | Jersey | Eiland Man | Svalbard |
1. Land deels in Asië. 2. Geografies in Asië , maar gereeld beskou as deel van Europa agv kulturele en historiese oorwegings. 3. Land deels in Noord-Amerika |