Franke
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Die Franke was 'n Germaanse volk wat sover bekend vanaf die begin van huidige jaartelling in die huidige Duitsland gewoon het. Hulle kultuur, taal en daaglikse lewens was soortgelyk aan die van verwante Germaanse volke. Daar word aangeneem dat die Franke oorspronklik ontstaan het as 'n vereniging van diverse Germaanse stamme (Latyns: Usipeti, Tencteri, Sugambri en Bructeri) wat die Rynvallei en gebiede direk oos daarvan bewoon het. Gregorius van Tours wat rond 570 'n geskiedenis van die Franke geskryf het, sê dat koning Clovis 'n 'Sicamber' genoem word.
[wysig] Oorname van die Romeinse gesag
Die (Saliese) Franke dring vanaf 290 oor die grens van die Romeinse Ryk, die Ryn. In 355 verkry hulle van die Romeinse keiser toestemming om as 'bondgenote' op Romeinse gebied in die Skeldevallei en tussen die groot riviere te vestig, om daarna die hele Nederland-benede-die-riviere plus die huidige Vlaandere in besit te neem. Soos later Engeland verloor die gebied so sy Latynse karakter.
In die vyfde eeu n.C. stort die Romeinse gesag in Wes-Europa in duie. In die noordelike Europese streke beteken dit dat die beskawing grotendeels 'n terugval in die prehistorie beleef. Daarom is daar maar weinig betroubare inligtingsbronne oor hierdie tydperk. In 486 -tien jaar na die aftreë van die laaste Wes-Romeinse keiser- verslaan die Frankiese koning Clovis die laaste Romeinse generaal, Syagrius, by Parys. Hulle rig hulle uitbreiding vervolgens op die welvarende suide en van hieruit verower hulle eerstens geleidelik Gallië. Gallië kry die naam Frankryk (die ryk van die Franke), na aanleiding van hulle nuwe heersers.
In die 6de tot 8ste eeu verower hulle geleidelik ook die Germaanse stamlande oor die Ryn en Donau, rofweg die gebiede van die huidige Duitsland en Oostenryk. Onder die Karolingiese dinastie beset die Franke ook nog groot dele van Spanje en Italië en word daarmee die magtigste nuwe staat sedert die val van die (Wes-)Romeinse Ryk.
[wysig] Die einde van die Franke as aparte volk
In die voorheen Romeinse streke word die Franke geleidelik in die Latynstalige bevolking, wat getalsgewys veel groter was as die klein groep Frankiese heersers, geassimileer. Díe proses het egter baie tyd geneem. Die Frankiese konings hou tot na Karel die Grote (Frans Charlemagne) aan om hulle eie Germaanse dialek te praat.
[wysig] Situasie in Nederland en België
Die huidige outochtone Nederlanders is grotendeels 'n vermenging van Franke en ander Germaanse stamme. Nederlands en dus Afrikaans, stam daarom waarskynlik vir 'n groot deel af van Nederfrankiese dialekte. Daar het baie min dokumente bewaar gebly wat hierdie veronderstelling kan bevestig. Die Franke het altyd Latyn gebruik as skryftaal. In die gebied van die huidige België is die etniese bewoners in Wallonië grotendeels nog Kelties/Romaans en verder noord is die Frankies/Germaanse element sterker. In die noordelike dele van Nederland het die Friese vir 'n lang tyd die oppermag, veral langs die kus. Die Franke gaan reeds vroeg, omstreeks 490, tot die katolieke christendom oor. Utrecht was lank 'n Frankiese bolwerk van waaruit probeer is om ook die Friese te kersten (en te onderwerp). Uit díe tyd, die einde van die 8ste eeu, stam die Utrechtse doopgelofte:
- Forsachistu diabolae (?).
- (respondeat:) ec forsacho diabolae.
- end allum diobol gelde (?)
- (respondeat:) end ec forsacho allum diobolgelde
- end allum dioboles uuercum (?)
- (respondeat:) end ec forsacho allum diaboles uuercum and wordum thunaer ande uuoden ende saxnote ende allvm them unholdum the hira genotas sint.
- Versaak jy die duivel?
- (antwoord): ek versaak die duiwel.
- en die duiwelsdiens?
- (antwoord): en ek versaak alle duiwelsdiens.
- en alle werke van die duiwel?
- (antwoord): en ek versaak alle duiwelswerke en -woorde, Donar en Wodan en Saksnoot en alle demone die hulle makkers is'.
Sien ook: Lys van konings die Franke, Ripuariese Franke, Francia