Wallonië
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Wallonië (Wallonien) | ||
---|---|---|
Algemene inligting | ||
Land: | België | |
Amptelike tale: | Frans, Duits | |
Hoofstad: | Namur | |
Oppervlakte: | 16 844 km² | |
ISO 3166-2: | ||
Amptelike webwerf: | Webwerf van Wallonië | |
Bevolking | ||
Bevolking (totaal): | 3 380 498 (2004) | |
Bevolkingsdigtheid: | 199,39/km² | |
Instellings | ||
Federasie: | 1993 | |
Regeringsvorm: | Parlementêre demokrasie | |
Eerste Minister: | Elio di Rupo | |
Volkslied: | Le Chant des Wallons | |
Ligging | ||
Franstalige Gemeenskap, Duitstalige Gemeenskap, Vlaamse Gemeenskap |
Wallonië (Waals: Waloneye, Frans: Wallonie, Duits: Wallonien) is een van die drie geweste (régions) van die Belgiese statebond. Dit bestaan hoofsaaklik uit die Franstalige gebiede van die land (met uitsondering van Brussel) en die gebied van die Duitstalige gemeenskap in die ooste.
Inhoud |
[wysig] Geografie
[wysig] Oppervlakte en bevolking
Met sy oppervlakte van 16 844 vierkante kilometer beslaan Wallonië meer as die helfte van die Belgiese grondgebied. Dit sluit die provinsies Waals-Brabant, Hainaut, Liège, Luxemburg en Namur in. Die grootste stede (met meer as 50 000 inwoners) is Charleroi, Liège, Namur, Mons, La Louvière, Mouscron, Seraing, Tournai en Verviers.
Wallonië is landgebonde en dig bevolk. Die 3 300 000 inwoners maak sowat 'n derde van die totale bevolking van die land uit. Frans is die spreektaal vir die groot meerderheid van die bevolking, met uitsondering van die oostelike kantons, wat 'n Duitstalige bevolking van sowat 71 000 mense het. Daar bestaan ook Nederlandstalige fasiliteite in bepaalde dorpe langs die Frans-Nederlandse taalgrens met Vlaandere.
Die Waalse taal (4 dialekte) en die Picardiese taal is tot by die 20ste eeu die omgangstale van die Waalse volk, maar word nou steeds minder gebesig.
[wysig] Geskiedenis
[wysig] Voor 1830
Na die verowering van die Belgiese Gallië deur Gaius Julius Caesar word 'n deel van die bevolking geromaniseer; hulle staan by hulle Germaanse bure as "Walha" bekend. Van hierdie woord is die huidige naam "Waal" en "Waals" afgelei. Tydens die Romeinse heerskappy word ook die Romaans-Germaniese taalgrens gevestig.
Tydens die volgende eeue word die Waalse gebiede eers deel van die Romeinse en vervolgens van die Karolingiese Ryk; later splits hulle op in 'n aantal klein vorstedomme wat met mekaar om mag meeding. Hulle word in die 15de eeu by die Hertogdom Boergondië en daarna by die Spaanse en Oostenrykse Nederlande ingelyf. Net die Vorstedom Liège bly 'n outonome gewes.
Met die anneksasie deur die Franse Republiek en vervolgens die Napoleoniese Keiserryk word die Waalse gebiede tot by die jaar 1815 verenig. Vervolgens word die gebied 'n deel van die Koninkryk van Nederland.
[wysig] Ná 1830
Nadat dit in 1830 sy onafhanklikheid van Nederland verkry, word die Koninkryk van België as 'n eenheidsstaat opgerig, waarby die Franstaliges die Vlaminge begin oorheers. Charles-Joseph Grandgagnage skep in 1844 die term "Wallonië". Die gedagte van 'n Waalse deelstaat raak met die groeiende mag van Vlaandere teen die einde van die 19de eeu al hoe meer gewild.
'n Taalwet van 1932 bevestig die eentaligheid van die Waalse en Vlaamse geweste (net die hoofstad Brussel word tot 'n tweetalige gebied verklaar). 'n Aantal bykomstige taalwette word in die jare 1962 en 1963 verkondig. Die spanninge tussen die Franse en Vlaamse gemeenskappe bereik in 1968 'n hoogtepunt: Die Franstalige studente en dosente verlaat die Vlaamse Universiteit van Louvain (Nederlands: Leuven), wat vervolgens gesplits word.
Die huidige gewes Wallonië word amptelik in 1980 met die hervorming van die Belgiese staat en die begin van die federale staatsbedeling opgerig.
[wysig] Ekonomiese basis
[wysig] Geskiedenis
Die Waalse swaar nywerheid, wat onder meer die mynbou en die vervaardiging van yster, metaal en glas insluit, groei baie sterk in die verloop van die 19de eeu, veral in die omgewing van Liège en Charleroi. België word in die tyd die eerste nywerheidsland van die Europese vasteland. Met die onvermydelike neergang van die swaar nywerheid in die 20ste eeu en die eerste sluitings van myne in die jaar 1958, asook die krisis van die yster- en staalbedryf in die volgende jare, neem 'n reeks van moeilike herstrukturerings sy aanvang.
Met die huidige stabilisering van die ekonomie word 'n nuwe groeifase ingelui. Wallonië probeer om voordeel uit sy ligging in die hartland van Europa te trek en steun nou op nuwe tegnologieë.
[wysig] Ekonomiese basis volgens sektore
Vandag werk volgens die statistieke gegewens van die jaar 2001 70,8 persent van die Waalse beroepsbevolking in die tersiêre (dienste-)sektor, 27,4 persent in die nywerheid, energievoorsiening en boubedryf, en net 1,8 persent in die land- en bosbou en vissery.
[wysig] Bruto geografiese produk en werkloosheid
Volgens syfers van die jaar 2002 is die bruto geografiese produk (BGP) van Wallonië 61,582 biljoen Euro; die BGP per capita bereik 78,2 persent van die gemiddelde BGP van die destydse 15 lidstate van die Europese Unie. Die werkloosheidsyfer volgens die berekeningsmetode van Eurostat, die statistieke diens van die EU, is in 2003 10,9 persent (teenoor 'n gemiddelde van 8,2 persent vir die 15 lidstate van die EU).