Thomas Ochse Honiball
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Thomas Ochse Honiball (* 7 Desember 1905 in Cradock, † 22 Februarie 1990 in Montagu) staan bekend as die skepper van die Afrikaanse strokiesprent. Sy tekenkarakters, soos Kaspaas Breekwater, neef Jakkals en oom Wolf en die Adoonse van die Magaliesberge, bekoor met hulle eg Suid-Afrikaanse agtergrond, hulle menslikheid en die satiriese kommentaar, wat hulle op die samelewing lewer.
T.O. Honiball is in die Oos-Kaap gebore, maar groei in Stellenbosch op. Hy wys sy tekentalent al vroeg met karikature van sy onderwysers. Tydens sy skooljare teken hy vir die skoolblad van die Hoër Jongenschool (later Paul Roos-gimnasium). Hy studeer vanaf 1926 argitektuur by die Universiteit van Kaapstad en is in die volgende jaar na Chicago om handelskuns te studeer. Hy werk later vir 'n advertensiemaatskappy en kom in aanraking met die Amerikaanse strokiesverhale, wat veral in nuusblaaie verskyn.
In 1930 keer hy na Kaapstad terug, werk drie jaar by 'n plaaslike advertensieonderneming en word later 'n vryskut-tekenaar. Werk bly skaars tydens die depressie van die vroeë dertigerjare. Tog slaag Honiball daarin om in 1936 'n vaste aanstelling by die Nasionale Persgroep in die Moederstad te kry, en in 1941 word hy die opvolger van D.C. Boonzaaier as vaste politieke spotprentkunstenaar by die dagblad Die Burger.
Naas sy politieke spotprente skep Honiball in sy meer as 40 jaar by die Naspers-groep 'n aantal strokiesprente soos Oom Kaspaas, wat in die tydperk tussen 1939 en 1957 in koerantbyvoegsels verskyn en van 1975 tot 1982 deur die Landbouweekblad gepubliseer word. Jakkals en Wolf verskyn tussen 1942 en 1969 in die jeugtydskrif Die Jongspan, terwyl die Adoonse van die Magaliesberge vanaf 1948 vier en twintig jaar lank leesgenot in die Huisgenoot verskaf.
Die strokiesprente raak so gewild dat hulle ook in boekvorm verskyn en vir die radio en televisie verwerk is. Honiball teken nog tot 1978 politieke spotprente en tree daarna finaal uit. Honiball, wat in 1984 deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings en in 1989 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Kuns en Wetenskap vereer is, skenk sy versameling prente in 1985 aan die Nasionale Pers.
Op 22 Februarie 1990 sterf hy in Montagu, Wes-Kaap.
[wysig] Werke
- Oom Kaspaas (Eerste uitgawe 1940, tiende uitgawe 1949, Nasionale Boekhandel)
- Jakkals en Wolf (Eerste uitgawe 1943, tiende uitgawe 1961, Nasionale Boekhandel)
- Adoons-hulle (Eerste uitgawe 1949, sesde uitgawe 1961, Nasionale Boekhandel)
- Oom Kaspaas vertel, 3 boekdele, Tafelberg, 1979
- Oom Kaspaas, TO Honiball-Promosies, 1986
- Jakkals en Wolf, 3 boekdele, Tafelberg, 1978
- Jakkals en Wolf, TO Honiball-Promosies, 1986
- Adoons-hulle, 3 boekdele, Tafelberg, 1979
- Adoons-hulle, TO Honiball-Promosies, 1986
Boeke en CD-ROMs oor T.O. Honiball deur Francois Verster:
- TO Honiball: Culture with a smile, African Sun Media, 2004
CD-ROMs:
- Honiball 100 (Afrikaanse en Engelse uitgawes), 2004, hersiene uitgawe verskyn in 2005
- Van Kaspaas tot Kaas: die lewe en werk van TO Honiball, 2005
Kategorieë: Kuns | Mense