Springs
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Springs is 'n pragtige myndorp (stad) aan die Oos-Rand van die Gauteng-provinsie, Suid-Afrika, oos van Johannesburg. Die naam van die stad kom van die groot aantal fonteine (Engels: springs) in die omgewing. Dit het 'n populasie van meer as 200 000.
Die oorspronklike 7 km²-plaas waarop die stad later gebou sou word, The Springs, is opgemeet in 1883. Steenkool is in die omgewing ontdek in 1887 en drie jaar later is Transvaal se eerste spoorlyn gebou om steenkool van die Oos-Randse steenkoolvelde na die goudmyne van die Witwatersrand te vervoer.
Die Springs-steenkoolmyne is later gesluit nadat steenkool verder oos in Witbank ontdek is. Intussen is goud ook in die omgewing ontdek. 'n Dorp is uitgelê in 1904 en in 1908 het die eerste goudontginning begin. Munisipale status is in 1912 aan Springs toegeken. In die laat 1930's was daar agt goudmyne naby Springs, wat dit die grootste enkele goud-produserende area ter wêreld gemaak het.
Springs is huidig een van die industriële sentra van die Witwatersrand. Mynbou is vervang deur vervaardiging en ingenieurs-industrieë. Produkte van die streek sluit chemikalieë, papier en voedselstowwwe in.
Springs is tans deel van die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit wat die groter Oos-Rand insluit.