Duitse Demokratiese Republiek
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
|
|||||
Nasionale leuse: geen | |||||
Ampstaal | Duits | ||||
Hoofstad | Oos-Berlyn | ||||
Grootste stad | Oos-Berlyn | ||||
Bevolking | 16 350 000 (1990) | ||||
Oppervlakte - Totaal - % water |
Gelys 106de 108 333 km² -- |
||||
Gevorm - Duitse hereniging |
7 Oktober 1949 3 Oktober 1990 |
||||
Geldeenheid | Mark van die DDR | ||||
Tydsone – in somertyd |
CET (UTC+1) CEST (UTC+2) |
||||
Volkslied | Auferstanden aus Ruinen | ||||
Internet TLD | .dd (nooit gebruik nie) | ||||
Skakelkode | +37 | ||||
Die Duitse Demokratiese Republiek (DDR) bestaan as 'n sosialistiese Duitse "Arbeiders- en Boerestaat" tussen 7 Oktober 1949 en 2 Oktober 1990 op die grondgebied van die voormalige Sowjetse besettingsone in Oos-Duitsland en die Sowjetse sektor van (Oos-) Berlyn.
Die staat, wat vyf maande na die stigting van die Westerse Bondsrepubliek Duitsland amptelik uitgeroep word, is steeds deur die Sosialistiese Eenheidsparty van Duitsland (SED), 'n samesmelting van die voormalige Kommunistiese en Sosiaal-Demokratiese Partye van Duitsland, oorheers en bly polities en ekonomies 'n deel van die Oosblok.
Die sentraal geleide ekonomie van die DDR slaag nie daarin om dieselfde hoë lewenstandaard soos in Wes-Duitsland te skep nie, alhoewel die land as die welvarendste in die Oosblok beskou word. Om die groot stroom vlugtelinge, wat in die vyftiger- en vroeë sestigerjare 'n nuwe heenkome Wes-Duitsland soek, te beperk, rig die SED-regering 'n bewaakte grenslyn met Wes-Duitsland in.
Die uitgebreide welvaartstelsel, wat 'n werksgeleentheid vir iedereen, bekostigbare behuising en lae pryse vir stapelvoedsel voorsien, lei na die oliekrisis in die sewentiger- en ingevolge die globaliseringstendense van die tagtigerjare tot ekonomiese bankrotskap van die DDR. Die demokratisering van die Sowjetunie in die tyd van die glasnost- en perestrojka-beleid deurbreek ook die politieke en militêre magsbasis van die SED-heerskappy. Na massabetogings in die jaar 1989 vind in 1990 die eerste demokratiese verkiesings plaas. In die somer van daardie jaar word ook die Wes-Duitse geldstelsel ingevoer en vervang die ou Mark der DDR (Mark van die DDR).
Op 3 Oktober 1990 verenig die vyf nuwe deelstate van die DDR (Mecklenburg-Vorpommern, Brandenburg, Sachsen-Anhalt, Sachsen en Thüringen) met die Bondsrepubliek Duitsland.
[wysig] Politiek
Die Duitse Demokratiese Republiek is 'n sosialistiese volksrepubliek, en sy politieke en administratiewe strukture is volgens die beginsels van die demokratiese sentralisme ontwikkel. Die amptelike instellings oefen slegs formeel politieke gesag uit, terwyl in die praktyk alle belangrike besluite deur die leierskap van die eenheidsparty SED geneem word. Instellings soos die Volkskammer (die parlement van die DDR), die Ministerrat ('n orgaan van die parlement, wat as regering fungeer) en die Staatsrat ('n kollektiewe raad en eweneens orgaan van die parlement, wat na die afsterwe van die eerste en enigste president van die DDR, Wilhelm Pieck, ingestel word en waarvan die voorsitter as staatshoof fungeer) verleen tot die politieke veranderings van die jaar 1989 slegs hulle toestemming aan die besluite van die SED-leierskap.
Die Volkskammer as die nasionale parlement beskik oor 500 setels wat volgens 'n vaste formule verdeel word: SED 127 setels, massa-organisasies 165 setels (FDGB 68, DFD 35, FDJ 40, Kulturbund 22), CDU, DBD, LDPD en NDPD 52 setels elk. Ondanks die geallieerde statuut van Berlyn kry die 66 Oos-Berlynse afgevaardigdes in die tagtigerjare volle stemreg en word regstreeks verkies - die DDR en die Sowjetunie beweer dat Oos-Berlyn lankal Oos-Duitse grondgebied is en geallieerde wette net op Wes-Berlyn toegepas kan word.
In teenstelling met die demokratiese beginsels van die grondwet van die DDR dien die eenheidslys van kandidate, wat deur die Nasionale Front saamgestel is, as grondslag vir nasionale verkiesings. Die SED, wat as oorheersende party optree en alle besluite oor die politieke, ekonomiese, kulturele en maatskaplike ontwikkeling van die land neem, raadpleeg by sy besluitnemings steeds ook die politieke leierskap van die Sowjetunie.
Die nuwe grondwet van die jaar 1968 bevestig die oorheersende rol van die SED. Artikel 1 van die grondwet bepaal:
"Die Duitse Demokratiese Republiek is 'n sosialistiese staat van die arbeiders en boere. Hy is die politieke organisasie van die werkers in die stede en op die platteland onder die leierskap van die arbeidersklas en sy Marxisties-Leninistiese party."
Met die wysigings van 7 Oktober 1974 word alle verwysings na 'n toekomstige hereniging met die Bondsrepubliek Duitsland uit die DDR se grondwet verwyder.
Die politieke ontwikkeling van die DDR word sodoende in die algemeen deur die lede van die Politburo en die Sekretariaat van die Sentrale Komitee van dier SED bepaal. Danksy die sentralistiese strukture op feitlik alle gebiede van die maatskaplike lewe (Nomenklatura), 'n hoogs ontwikkelde binnelandse geheimdiens van die Ministerium für Staatssicherheit en sensuurmaatreëls vir die pers, radio en televisie, insluitende polisieoptrede teen aanhangers van enige opposisiebeweging skep die party vir homself 'n magsbasis wat eers na sowat veertig jaar in duie stort.
Die regstelsel van die DDR voldoen nie aan die vereistes van 'n westelike regstaat nie. Advokate tree nie as onafhanklikes op nie, en hulle word ook nie toegelaat om amptelike dokumente te bestudeer nie. Net soos die regters ontvang hulle in 'n regsaak slegs 'n samevattende verslag.
Die SED bevorder 'n politisering en militarisering van die hele maatskappy. Die ideologie van die party is daarop gemik die politieke en maatskaplike stelsel van die DDR af te grens van die Westerse kapitalisme. Dit maak gebruik van 'n stereotiepe vyandbeeld wat voortdurend in die media gepropageer word.
Op internasionale vlak is die DDR 'n lid van die Warschau-Verdragsorganisasie en die Raad vir Wedersydse Ekonomiese Bystand, COMECON. Sedert 1973 is die land 'n lidstaat van die Verenigde Nasies.
Die DDR tree vasbeslote teen die rasseskeidingsbeleid van die Suid-Afrikaanse regerings voor 1994 op.
[wysig] Partye en massa-organisasies
Die ekwivalent van die Kommunistiese Party in die Duitse Demokratiese Republiek is die Sosialistiese Eenheidsparty van Duitsland (Duits: Sozialistische Einheitspartei Deutschlands, SED), wat in 1946 in die Sowjetse besettingsone deur die samesmelting van die Kommunistiese Party van Duitsland (KPD) en die Sosiaal-Demokratiese Party van Duitsland (SPD) gevorm word. Dit is die oorheersende party in die DDR se Nasionale Front (Nationale Front), 'n verbond van politieke partye en massa-organisasies.
Die groot rol, wat massa-organisasies soos die Vrye Duitse Jeug (Freie Deutsche Jugend, FDJ), Vrye Duitse Vakbond (Freier Deutscher Gewerkschaftsbund, FDGB), die Demokratiese Vrouebond van Duitsland (Demokratischer Frauenbund Deutschlands, DFB), die Duitse Gimnastiek- en Sportvereniging (Deutscher Turn- und Sportbund, DTSB), die Volkssolidariteit (Volkssolidarität, 'n organisasie wat hom vir die belange van bejaardes en bejardesorg beywer), die Genootskap vir Duits-Sowjetse Vriendskap (Gesellschaft für Deutsch-Sowjetische Freundschaft, DSF), die Genootskap vir Sport en Tegniek (Gesellschaft für Sport und Technik, GST) en die Kulturele Verbond (Kulturverbund) in die maatskaplike lewe speel, is kenmerkend vir die politieke stelsel van die DDR.
Die FDJ, die FDGB en die Vrouebond is naas die politieke partye in die parlement van die DDR, die Volkskammer, verteenwordig.
[wysig] Die Nasionale Front
Naas die SED en die massa-organisasies DFD, FDJ, FDGB, die Kulturbund en die Vereinigung der gegenseitigen Bauernhilfe (Vereniging van die wedersydse Boerebystand, VdgB) word die Nasionale Front in die DDR gevorm deur die
- Christlich-Demokratische Union Deutschlands (Christelik-Demokratiese Unie van Duitsland, CDU), wat na die Duitse hereniging met die CDU van die Bondsrepubliek Duitsland saamsmelt
- Demokratische Bauernpartei Deutschlands (Demokratiese Boereparty van Duitsland, DBD), wat na die Duitse hereniging met die CDU an die Bondsrepubliek Duitsland saamsmelt
- Liberal-Demokratische Partei Deutschlands (Liberaal-Demokratiese Party van Duitsland, LDPD), wat na die Duitse hereniging met die Freie Demokratische Partei (Vrye Demokratiese Party) van die Bondsrepubliek Duitsland saamsmelt
- Nationaldemokratische Partei Deutschlands (Nasionaal-Demokratiese Party van Duitsland, NPD), wat na die Duitse hereniging met die Freie Demokratische Partei van die Bondsrepubliek Duitsland saamsmelt
Met die Duitse hereniging verander die SED sy naam na Party van die Demokratiese Sosialisme (Partei des Demokratischen Sozialismus, PDS).