Buenos Aires
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Ciudad de Buenos Aires |
|
---|---|
Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Argentinië |
Stigting | 1536 |
Oppervlak: | |
- Totaal | 203 vk km |
- Stadswyke | 48 |
Bevolking: | |
- Totaal | 2 776 138 (Sensus 2001) |
- Metropolitaanse Gebied | 12 046 799 (Sensus 2001) |
- Bevolkingsdigtheid | 13 679,6/vk km |
- Ongeletterdheid | 0,45% |
Tydsone | UTC-3 |
Burgemeester | Jorge Telerman |
Amptelike Webwerf | buenosaires.gov.ar |
Buenos Aires (34°40′S 58°24′W) is die hoofstad en die ekonomiese, kulturele en nywerheidsentrum van Argentinië en grootste Spaanstalige stad ter wêreld, met 2 746 761 inwoners (2005) in die Distrito Federal (203 km²) en sowat twaalf miljoen mense in die metropolitaanse gebied (Gran Buenos Aires) van 2 915 km². Die stad lê aan die mond van een van die grootste riviere wêreldwyd, die Río de la Plata (Silwerrivier). Aangesien Gran Buenos Aires sowat 'n derde van die Argentynse bevolking huisves, oorheers sy ekonomie die res van die land.
Danksy talle winkels en boetieke, sy pragtige argitektuur, 'n ryk kulturele lewe, uitstekende restourante en sy kosmopolitiese bevolking van oorwegend Italiaanse, Spaanse, Franse, Duitse, Engelse, Oos-Europese, Arabiese en Asiatiese herkoms staan Buenos Aires ook as die Parys van die Suide bekend. Die stad is een van die mees Europese van Suid-Amerika en ook die Suidelike Halfrond, maar beslis die enige metropool wat met sy noordelike teenstukke enigsins kan meeding. Die stad beleef sy Goue Era in die tydperk tussen 1880 en 1920, toe Argentinië tot die tien welvarendste lande wêreldwyd behoort en Buenos Aires as sy skitterende hoofstad nuwelinge uit Europa lok wat hier 'n beter bestaan wil vind.
Inhoud |
[wysig] Geskiedenis
Die eerste Europese seevaarder, wat in die jaar 1516 naby Buenos Aires voet aan wal sit, is die Spanjaard Juan de Solís. Hy noem die groot rivier wat hy teenkom die Mar Dulce (Soet See). Twintig jaar later stig Pedro de Mendoza die eerste nedersetting, Santa Maria del Buen Aire, in die gebied. Die Spanjaarde moet die kolonie weens die verset van die vyandelik gesinde Indiane enkele jare later na Asunción in Paraguay verskuif.
Die perde en beeste, wat die Spanjaarde agterlaat, vorm die grondslag vir die Argentynse veeteelt, die belangrikste ekonomiese basis van die land. 'n Permanente vesting en dorp ontstaan uiteindelik in 1580 toe 'n groep setlaars na die gebied terugkeer. Die stad bly vir bykans tweehonderd jaar 'n onbenullige plek, en smokkelary is sy broodwinning aangesien die Spaanse regering die voorkeur aan ander hawens soos Lima gee.
Eers met die stigting van 'n Spaanse onderkoninkryk, wat groot dele van Argentinië, Chili, Uruguay en Bolivië insluit, speel die stad 'n belangrike rol as administratiewe sentrum. Snelle ekonomiese vooruitgang bevorder die plaaslike nasionalisme; die gebied kry in 1810 'n selfregerende status, en in 1816 verklaar die burgers van Buenos Aires die onafhanklikheid van die Argentinië. Dekades lank sukkel die plaaslike regering met die moeilikheid om die gesag oor die hele land te kry; aanhangers van 'n federale stelsel baklei met lede van politieke groeperings wat eerder 'n eenheidstaat verkies.
In 1880 word Buenos Aires tot federale distrik (Distrito Federal) verklaar. Die regering van president Julio Rocas neem Europese stede, met name Parys, as voorbeeld vir die ontwikkeling van die stad. Die Franse hoofstad gee die aanleiding vir honderdtalle nuwe geboue wat volgens Paryse boustyle beplan word en die aan die stad nog steeds 'n Europese voorkoms gee.
Grootskaalse immigrasie uit Italië, Spanje, Duitsland, Engeland, Pole, Rusland en die Midde-Ooste en snelle ekonomiese groei maak van die Parys van Latyns-Amerika een van die welvarendste stede wêreldwyd. Aan die begin van die 20ste eeu leef meer as een miljoen porteños - soos die inwoners van Buenos Aires in hul eie land bekend staan - in die stad. "Ryk soos 'n Argentyn" word 'n vaste begrip in Parys en ander Europese metropole.
Die groot Avenidas van Buenos Aires, soos die Avenidas Santa Fé, Córdoba en Corrientes, word in die dertigerjare gebou. Teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog smelt die stad met sy voorstede saam en huisves sowat een derde van Argentinië se bevolking.
Ekonomiese en politieke teenslae na die Tweede Wêreldoorlog het Buenos Aires voorlopig van sy rol as ryke stad beroof, en die teenstellings tussen die welvarende noordelike stadswyke en die bitterarm suide is oorgroot; langsamerhand herwin die stad egter sy status as lewendige metropool van 'n vooruitstrewende land.
[wysig] Klimaat
Buenos Aires lê soos die grootste deel van Argentinië in die gematigde sone van die Suidelike Halfrond. Die gemiddelde jaarlikse temperatuur is 17,5 °C, die gemiddelde jaarlikse reënval 1 173 millimeter.
Januarie is die warmste maand met gemiddeldes van 24,5 °C, terwyl temperature in die midwinter van Julie tot gemiddeldes van 11,1 °C daal. Die somermaande is baie warm en bedompig. Baie porteños verlaat die stad in Januarie en Februarie vir 'n vakansie aan die kus of in die berggebiede. Die wintermaande is vogtig, maar nie regtig koud nie.
[wysig] Bekende stadswyke (barrios)
- Die Sentrale Besigheidsdistrik digby die hawe is die senusentrum van die Argentynse sakewêreld. Maar soos elders ontvlug die sakevrouens en -manne graag hul bedrywige kantoorgeboue om in een van die uitstekende restourante te dineer.
- Die barrios Palermo, Retiro en Recoleta vorm die Noordelike Distrik van Buenos Aires. Dit is die welvarendste en dus ook duurste woongebied en besigheidsdistrik van die Argentynse hoofstad. Die statige ou huise in die gebied is omtrent 1900 gebou en toon die sterk Franse invloed op die boustyl van daardie tydperk. Teen die sewentigerjare van die 19de eeu, na die uitbreek van 'n geelkoors-epidemie in die suidelike stadswyke, begin die ontwikkeling van die gebied, en dit is veral die meer welgesteldes wat hulle hier kom vestig.
- Palermo Bosque is 'n groen eiland in die stad en die geskikte plek vir 'n verskeidenheid sportsoorte soos polo.
- Palermo Chico behoort tot die welvarendste stadswyke van Buenos Aires en bekoor met sy Frans-geïnspireerde argitektoniese style wat van neoklassies tot ultramodern strek. Baie van die ou herewonings is nou in ambassades omgeskep, aangesien min porteños die onderhoud van die luukse geboue nog kan bekostig. Naas diplomate is daar ook baie bekende Argentynse rolprentsterre en sportmense wat huise in Palermo Chico bewoon.
- Palermo Viejo is 'n rustige woonbuurt en gewilde woonplek vir talle psigoloë en psigoanaliste wat voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog hier 'n nuwe tuiste gevind het - in daardie tydperk kry die buurt sy bynaam "Villa Freud".
- La Boca en San Telmo is deel van die Suidelike Distrik van Buenos Aires. La Boca, eweneens digby die hawe, bekoor met sy kleurryke houthuise. Die inwoners van La Boca is deur die skilder Benito Quinquela Martín aangemoedig om hul barrio met kleure te verfraai. Sy huis is nou die Museo de Bellas Artes de La Boca en vertoon sy beroemde skilderye, wat veral die lewe van die dokwerkers van die buurt uitbeeld. Dit is die tradisionele woonbuurt van die arbeiders, die Genuese immigrante, die vissers - en die plek waar die mense van Buenos Aires ontmoet om te dineer en te dans. Die outentieke tangodans en Argentyns-Italiaanse kookkuns maak dit ook 'n eersterangse besienswaardigheid vir die besoeker.
- San Telmo met sy elegante koloniale argitektuur is die barrio van die antikwiteitehandelaars en kunstenaars. Die eertydse agterbuurt trek in die jare sestig talle kunstenaars en intellektueles wat die gebied weer laat oplewe. Naas die ateljees en antikwiteitewinkels lok die barrio met sy uitstekende restourante en 'n vlooimark op die plein Plaza Dorrego wat op Sondae plaasvind. Die stadswyk beskik ook oor die oudste en bekendste tangokroeë soos Michelangelo, La Casa Blanca en La Casa Rosada. Talle statige ou geboue is nou gerestoureer en huisves nagklubs, boetieke, ateljees en woonstelle in hulle patio's.
[wysig] Besienswaardighede
- Die Avenida 9 de Julio is sedert 1936 die breedste laan ter wêreld - daar lê sowat 460 voet (140 meter) tussen die sypaadjies aan sy regter- en linkerkant. Talle ou geboue is in die dertigerjare afgebreek om hierdie avenida te bou - behalwe vir die statige Franse Ambassade wat aan die hoek van 9 de Julio en Alvearstraat oorgebly het.
- Die Plaza de Mayo dra sy naam ter ere van die stigters van die Argentynse Republiek wat hier in Mei 1810 die onafhanklikheid van die land verklaar het. Dit is een van die mooiste pleine wêreldwyd, met pragtige palms, tuine, 'n sentrale standbeeld en historiese geboue uit die koloniale tydperk ringsom. Hier vind alle belangrike betogings plaas (byvoorbeeld dié van die Moeders van die Plaza de Mayo wat teen die gruweldade van die militêre bewind in die jare sewentig protesteer), en die plein kan as die besige sentrum van Argentinië beskou word - hier lê die Casa Rosada, die beroemde ligrooskleurige gebou wat in 1894 opgerig is en in 1910 as setel van die Argentynse regering bekend staan. 'n Museum in die huis vertoon antikwiteite en ander voorwerpe wat aan nasionale helde behoort het. Die Casa Rosada word deur 'n eregarde bewaak - om sewe uur saans haal hierdie soldate die nasionale blou-wit vlag in. Die Cabildo (Raadsaal van Buenos Aires) van 1751 is die plek waar die onafhanklikheid van die land beplan is; die gebou beskik oor 'n museum met meubels en voorwerpe uit die koloniale verlede. Die Sentrale Besigheidsdistrik lê suid van die Plaza.
- Vanuit die heuwel van die Plaza San Martín kan 'n mens die wonderlike uitsig oor die barrio Retiro geniet. Die Kavanagh-gebou in die buurt is in 1936 met 120 meters die eerste wolkekrabber in Latyns-Amerika - en die uitsig wat 'n mens vanuit die boonste woonstelle kan geniet is asemberowend: Tot by die oewers van die Río de la Plata, oor Retiro, oor die wandellaan Florida en die Plaza San Martín. Corina Kavanagh, een van die rykste vroue in Argentinië, het al haar erfgeld aan hierdie wolkekrabber bestee. Die gebou in die Art-déco-styl is deur die argitekte Gregorio Sánchez, Ernesto Lagos en Luis Maria de la Torre ontwerp. Ander bekende geboue van die Plaza is die Sheraton Hotel en die ou stasie van Retiro. Die moderne Catalinas-wolkekrabbers in die suide is in die laat sewentigerjare opgerig.
- Die Kerkhof van Recoleta is die begraafplaas van die welgestelde burgers. Evita Perón se graf trek nog steeds die meeste besoekers. Die kerkhof is sedert sy inwyding in 1882 'n soort klein weergawe van Buenos Aires en sy verskillende boustyle.
- Die Operateater Colón met sy pragtige Europese boustyl is een van die bekendste bakens van die stad en die simbool van sy bloeiende kulturele lewe. Die wêreldwyd bekende instelling het uitstekende akoestieke eienskappe. Die hoof-ouditorium, wat oor ses verdiepings verrys, bied sitplekke vir meer dan 3 500 besoekers en sowat 1 000 staanplekke. Die Colón beskik oor 'n museum wat die geskiedenis van die teater behandel.
- Die Munisipale Teater San Martín is 'n moderne gebou van chroom en glas met ses tonele. Die teater, wat in 1960 ingewy is, is die grootste instelling van sy soort in Argentinië en bied 'n oordaad gratis-konserte, feeste, skouspele, lesings en ander aktiwiteite aan. Naby die teater is die Kulturele Sentrum San Martín, 'n soortgelyke instelling.
- Die Galileo Galilei-planetarium in Parque 3 de Febrero is in 1966 opgerig en bied sitplekke vir 340 besoekers. Sy vertonings, uitstallings en konferensies behandel die astronomiese navorsing. Die metalliese meteoriet, wat voor die gebou vertoon word, is in die provinsie El Chaco gevind en weeg sowat 1 530 kilogram.
- Die Museo de Arte Latinoamericano de Buenos Aires (MALBA) is in 2001 geopen en huisves nou die kunsversameling van die Argentynse sakeman Eduardo Constantini, met meer as 200 objekte van 80 kunstenaars, wat 'n aantal sleutelwerke van die Latyns-Amerikaanse kuns in die 20ste eeu insluit.
- Die Museo de Esculturas Luis Perlotti in die huis van die kunstenaar huisves 'n versameling van 1 000 van sy werke, wat in 1976 aan die stad Buenos Aires geskenk is.
[wysig] Kookkuns
Die plaaslike kookkuns steun op bief en die asado, die tradisionele Argentynse braaivleis. Die Argentiniërs eet dit een of twee keer per dag, en daar is talle soorte bife soos die bife de costilla (wat aan die Noord-Amerikaanse T-bone biefstuk herinner) en die bife de chorrizo ('n soort ribstuk). 'n Oordaad worsies word bedien, byvoorbeeld die pikante chorizo, die bloedwors morcilla en die salchicha - 'n lang, dun worsie. Empanadas is die Argentynse soort vleispasteijies wat met bief gevul en gebak of gebraai word. Tydens die ete word gewoonlik Argentynse rooiwyn geskink.
Daar is sowat 3 500 restourante en ander eetplekke in die stad. Die parillas, wat tradisionele Argentynse braaivleis bedien, is een van die mees tipiese plaaslike eetplekke. Daar is egter ook talle cafés, confiterías (wat alkohol, koffie en tee bedien), heladerías (vir roomys), sandwicherías, wiskerías, cocktelerías en ander gewilde ontmoetplekke.
Die beste buurte vir 'n tradisionele braaivleis-ete is Costanera Norte en Puerto Madero. Die besoeker, wat die Spaans-Argentynse kookkuns waardeer, vind die beste restourante langs die Avenida de Mayo. Die mees tradisionele Italiaanse pizza's kan 'n mens in die Corrientes-straat geniet. Die plaza Cortázar, Palermo Hollywood, Las Cañitas en Recoleta is gebiede waar die restourante hulle op die mees verfynde en eksotiese kookkuns vir die fynproewer toespits.
Die internasionale restourante in Buenos Aires is uitstekend, hoewel 'n Franse spyskaart nie noodsaaklik outentieke Franse cuisine bedoel nie - daar is altyd 'n bietjie Argentynse variasie, behalwe vir die eersterangse restourante. Die immigrante het hul eie kookkuns - eweneens met 'n sterk Argentynse invloed - hier bewaar. Naas die kos wat in Italiaanse, Sjinese, Spaanse, Duitse, Russiese en Kosjer restourante bedien word, is daar 'n verskeidenheid spesialiteite van dwarsoor die wêreld.
Argentiniërs eet baie laat, teen middernag is restourante nog steeds vol met 'n oormaat besoekers.