Manx-Gaelies
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Manx (Manx: Gaelg Vanninagh) is die inheemse Keltiese taal van die Britse eiland Man. Manx behoort tot die Goideliese groep van Keltiese tale en is nou verwant aan Iers-Gaelies en Skots-Gaelies, maar toon ook Skandinawiese invloede. Manx word sedert die 20ste eeu nie meer as eerste taal gepraat nie.
[wysig] Geskiedenis
Manx word vermoedelik reeds in die vyfde eeu n.C. op Man gepraat. Moontlik bestaan in dié tyd nog 'n tweede Keltiese taal op die eiland, wat egter later uitsterf.
Teen die 10de eeu verower Skandinawiese setlaars die eiland, en Manx bly eeue lank ondergeskik aan hul Nordiese taal, wat veral in die regering en in adellike kringe gepraat word. Na 1266 herwin Manx sy status as omgangstaal van Manx, terwyl die Skandinawiese taal slegs in 'n groot aantal plekname en sommige administratiewe vakterme bly voortleef. Die thing, die jaarlikse vergadering van die Skandinawiërs, waartydens nuwe wette afgekondig en regsake verhoor word, is die etimologiese en geskiedkundige oorsprong van die Tynwald, wat nog steeds op 5 Julie van elke jaar plaasvind. Die noue bande met Skotland laat die Manx-Gaeliese taal steeds verder wegbeweeg van die Ierse standaardtaal.
Tydens die Reformasie is Manx nog steeds die omgangstaal van die grootste deel van die eilandbewoners, met uitsondering van die landelike adel, die geestelikheid en die koopmanne van die eiland se klein stede. In 1611 verskyn 'n Manx-Galiese vertaling van die gebdboek van die Anglikaanse staatskerk. Die gebrek aan 'n Manx-Gaeliese spelling (vir die vertaling dien Wallies en Engels as voorbeelde) en die feit dat die bevolking grotendeels ongeletterd is, beperk sy verspreiding.
Met die heerskappy van die Stanleys, wat eers in die 18de eeu eindig, begin 'n tydperk van afgeskeidenheid; daar is min kontak met die bewoners van Ierland of Skotland, en die taal begin groot dele van sy beskaafde woordeskat en sy grammatika kwytraak, aangesien dit oorwegend deur die ongeletterde landelike inwoners gebesig word.
Die Engelse heerskappy lei tot 'n verengelsing van die stedelike bevolking, maar die geestelikheid bevorder die Keltiese deur die vertaling van 'n kategisme in 1707 en 'n Manx-Gaeliese uitgawe van die Bybel, wat vanaf 1748 verskyn. Die Metodiste-kerk gebruik sedert 1795 sy eie Manxtalige sangboek. Die eerste Manx-Engelse woordeboek word in 1835 deur Archibald Cregeen saamgestel, terwyl John Kelly al vroeër twee klein woordeboeke en 'n grammatika uitgee.
Die groot belangstelling, wat die Keltiese tale tydens die 19de eeu wek, strek nie tot by die taal van Man nie, aangesien dit oor min letterkundige bronne uit die Middeleeue beskik en slegs 'n klein aantal tekste vanaf die 16de eeu gedruk is.
Ned Maddrell, 'n visser van Cregneash in die suide van die eiland, is die laaste mens wat Manx as sy moedertaal praat. Hy is in 1974 op die ouderdom van 97 jaar oorlede. Manx het onlangs weer 'n herlewing beleef en daar is weer enkele Manx-sprekers. Die Yn Cheshaght Ghailckagh (Genootskap vir die Keltiese Taal van Manx), wat in 1899 gestig word, probeer die taal en kultuur van Man te bevorder. Sedert die Tweede Wêreldoorlog het 'n klompie boeke in Manx verskyn, waaronder Recortys Reeaghyn Vannin as ny hEllanyn (Kroniek van die Konings van Man en die Eilande, 1973), 'n oorspronklik Latynse teks wat vertaal is.
Indo-Europese tale > Kentum-tale > Keltiese tale > | ||
Eiland-Keltiese tale: | Vasteland-Keltiese tale: | |
Wallies | Kornies | Bretons | Iers-Gaelies | Skots-Gaelies | Manx-Gaelies | Shelta | Cumbries | Piekties | Gallies | Leponties | Keltiberies | Galaties |