Terry Pratchett
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Terence David John Pratchett OBE is 'n Engelse fantasieskrywer (gebore die 28ste April, 1948, in Beaconsfield, Buckinghamshire, Engeland). Hy is beroemd vir sy Skyfwêreld-reeks. Teen Maart 2005 het hy reeds ongeveer 40 miljoen boeke wêreldwyd verkoop. Hy word algemeen beskou as een van die bekwaamste satirici in die Engelse letterkunde, en word vergelyk met sulke wyduiteenlopende persone as Douglas Adams, Jonathan Swift, Charles Dickens, Lewis Carroll, Evelyn Waugh en P. G. Wodehouse.
[wysig] Biografie
Terry Pratchett is in 1948 gebore, in Engeland, as die seun van David en Eileen Pratchett. Hy skryf sy opvoeding veral toe aan die Beaconsfield openbare biblioteek.
Hy publiseer 'n kortverhaal op ouderdom dertien in sy skooljaarboek, en daarna 'n kortverhaal in 'n tydskrif op ouderdom 17. In 1965 ná skool, gaan werk hy as 'n verslaggewer by die plaaslike koerantjie, en werk daarvandaan sy weg die wêreld op as joernalis by al groter koerante, tot in 1980, waarna hy die persbeampte van 'n sentrale elektrisiteitsraad word. Teen 1987 genereer hy soveel inkomste uit sy gepubliseerde werk dat hy voltyds kan begin skryf.
Sy eerste vollengte boek The Carpet People word in 1971 publiseer. Nadat hy voltyds begin skryf, publiseer hy omtrent twee boeke per jaar. In 1998 word hy aangestel as 'n offisier van die (OBE) vir diens aan die literatuur. Tipies aan sy sin vir humor, vermoed hyself dat sy "diens aan die literatuur" bestaan het daaruit dat hy hom weerhou daarvan om literatuur te skryf! Hy het reeds drie ere-doktorsgrade verwerf.
[wysig] Die Skyfwêreld
Die reeks het reeds meer as dertig boeke. Sy oeuvre is 'n humoristiese, dikwels satiriese fantasie wat met alles onder die son die spot dryf, 'n son in dié geval wat rondom 'n plat skyf -- die wêreld van die titel -- wentel. Die skyf word gedra deur vier reuse olifante, wat op hul beurt weer gedra word op die rug van 'n enorme ruimteseeskilpad wat sy weg deur die sterre swem.
Sy kinderboek The Amazing Maurice and His Educated Rodents wen die 2001 Carnegie Medalje vir die beste kinderverhaal van daardie jaar.
[wysig] Bron
Die artikel is losweg gebaseer op Terry Pratchett vanuit die Engelse Wikipedia.
Kategorieë: Skrywers | Fantasie | 1948