Verdampingswarmte
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Die verdampingswarmte is 'n fisiese eienskap van 'n stof. Dit word gedefinieer as die warmte wat per eenheidsmassa van 'n stof geabsorbeer moet word om 'n hoeveelheid van 'n stof geheel en al te laat verdamp. Verdampingswarmte is afhanklik van die kookpunt van die stof wat op sy beurt afhanklik is van die omgewingsdruk. Daarom moet die temperatuur en druk van die proses vermeld word wanneer 'n waarde weergegee word. In die literatuur word die verdampingswarmte by 1 bar of 1 atm dikwels aangegee.
Die verdampingswarmte word dikwels uitgedruk as kJ/mol 'n Ander eenheid wat ook gebruik word is kJ/kg. BTU/lb kan veral in Amerikaanse tegniese publikasies nog gevind word. Verdamping is die teenoorgestelde proses as kondensasie en daar kan ook gepraat word van kondensasiewarmte. Laasgenoemde se waarde is dan ook dieselfde as eersgenoemde en word gedefinieer as die hoeveelheid warmte per eenheidsmassa wat vrygestel moet word om 'n sekere hoeveelheid van 'n stof in sy geheel te laat kondenseer.
Water se verdampingswarmte is ongeveer 2260 kJ/kg of dan 40.8 kJ/mol. Die latente verdampingswarmte van water is hoog: vyf keer die energie wat benodig word om water vanaf 0 tot 100 grade Celsius te verhit.