Unie van Suid-Afrika
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Die Unie van Suid-Afrika is gevorm op 31 Mei 1910 toe die ou Kaapkolonie en Natalkolonie saamgesmelt het met die oorwonne Suid-Afrikaanse Republiek en Oranje Vrystaat (hernoem na die Oranjerivierkolonie) na die Boere-oorlog. Die verskeie dele was daarna onderskeidelik bekend as die Kaapprovinsie, Natalprovinsie, Transvaal en die Oranje Vrystaat.
Anders as Kanada en Australië was die Unie 'n unitêre staat, eerder as 'n federasie, met elke kolonie se parlemente wat ontbind en vervang is deur provinsiale rade. Daar was 'n tweekamerparlement, bestaande uit die Volksraad en die Senaat wat grootliks verkies is deur die land se blanke minderheid.
As gevolg van verskille oor waar die Unie se hoofstad moes wees, is 'n middeweg gevind wat gelei het tot die setel van die regering wat in Pretoria in die Transvaal sou wees, die setel van die parlement in Kaapstad in die Kaapprovinsie en die wetgewende setel in Bloemfontein in die Oranje Vrystaat. Pietermaritzburg, die hoofstad van Natal, het vergoeding ontvang. Hierdie ooreenkoms staan tot vandag, met regeringsministers, burgerlike dienaars en diplomate wat elke jaar van Pretoria na Kaapstad trek so lank as wat die Parlement in sitting is, en terug Pretoria toe wanneer dit nie is nie.
As 'n selfregerende dominium van die Britse Ryk, en later die Statebond, het die Unie onder die Britse Kroon gebly, wat in Suid-Afrika deur 'n Goewerneur-Generaal verteenwoordig is. Uiteindelike mag was deur die Eerste Minister uitgeoefen. Louis Botha, voorheen 'n Boere-generaal, was die eerste Eerste Minister van die Unie, en het 'n koalisie gelei wat blanke Afrikaner- en Engelssprekende gemeenskappe verteenwoordig het.
Die Unie van Suid-Afrika het die Republiek van Suid-Afrika geword op 31 Mei 1961 en het die Statebond verlaat ná weerstand teen sy apartheidsbeleid.
Hier volg 'n volledige lys van die Eerste Ministers van die Unie van Suid-Afrika (1910-1961) · Generaal Louis Botha (1910-1919) · Generaal Jan Christiaan Smuts (1919-1924) · Generaal James Barry Munnik Hertzog (1924-1939) · Generaal Jan Christiaan Smuts (1939-1948) · Dr. Daniel Francois Malan (1948-1954) · Dr. Johannes Gerhardes Strijdom (1954-1958) · Dr. Hendrik Frensch Verwoerd (1958- met republiekwording 31 Mei 1961)
Sjabloon:Wikisourcecat