Pietersburg
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Pietersburg is die hoofstad van Limpopo, Suid-Afrika, sowat 300 kilometer noord van die Witwatersrand, met sowat 150 000 inwoners. Voor 2003 was die Afrikaanse naam die amptelike naam, maar sedertdien is die Pedi-naam, Polokwane, die amptelike naam. Pietersburg staan lankal bekend as die nywerheidsentrum van die noorde en trek voordeel uit 'n hoogs ontwikkelde spoornetwerk en uitstekende padverbindings.
[wysig] Geskiedenis
Die eerste nedersetting van Afrikaners in die gebied, die dorp Schoemansdal noord van Pietersburg, is in 1848 deur die Voortrekkerleier Andries Pretorius gestig. Die felle teëstand van die Vendas en hulle stamhoof, Magato, lei egter op 12 Julie 1867 tot die besluit dat die blanke inwoners die dorp moet ontruim. Die latere president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) en destydse kommandant-generaal Paul Kruger belowe die stigting van 'n nuwe dorp verder suid. Die Volksraad van die ZAR in Pretoria keur hierdie plan egter eers veertien jaar later, ná die einde van die Eerste Vryheidsoorlog in 1881, goed, en die burgers moet 'n verdere twee jaar wag voordat die waarnemende staatspresident, generaal Petrus Jacobus (Piet) Joubert, die opdrag kry om die terrein vir 'n nuwe dorp af te baken.
Die Schoemansdalers het hulle toe lankal in Marabastad gevestig en stel voor om liewer hierdie nedersetting tot amptelike dorp te verklaar. Piet Joubert gee egter die voorkeur aan 'n nuwe stigting op die plaas Sterkloop, en die nuwe dorp is uiteindelik na hom vernoem.
Marabastad het intussen weens die ontdekking van goud in die omgewing in 1871 vinnig gegroei, en die mynwerkers verhuis na 'n nuwe tydelike nedersetting, Smitsdorp, wat tot by die goudstormloop aan die Witwatersrand bestaan. Pietersburg trek voordeel uit die mynbou in die omgewing, en sy inwonerstal styg skerp nadat die inwoners van Smitsdorp hulle nedersetting verlaat het.
Die eerste Nederduits Gereformeerde Kerk in Pietersburg is in 1890 opgerig, en op 31 Mei 1899 is die dorp se spoorwegverbinding met Pretoria ingewy. Ná die besetting van Pretoria tydens die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902) is Pietersburg vir 'n paar weke selfs die hoofstad van die ZAR en die Oranje-Vrystaat. In 1901 verower die Britte die stad.
Pietersburg kry op 23 April 1992 stadstatus. Die naam van die stad is op 11 Junie 2003 amptelik gewysig na Polokwane.
[wysig] Bronne
- Changuion, Louis: PIETERSBURG. Die Eerste Eeu 1886-1986. Pretoria: Stadsraad van Pietersburg 1986