Lorient
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Lorient (Bretons: An Oriant) is 'n stad in die Bretonse département Morbihan (Noordwes-Frankryk) met 'n oppervlakte van 17,48 vierkante kilometer en 59 189 inwoners (1999). Die stad lê naby die monding van die Blavet- en Scorffriviere.
[wysig] Geskiedenis
Lorient is in 1666 gestig en het sy ontstaan aan Jean-Baptiste Colbert se Frans-Oos-Indiese Kompanjie (Frans: Compagnie des Indes Orientales) te danke, wat twee jaar vroeër in Port-Louis opgerig is. Naby die samevloeiing van die Blavet- en Scorffriviere ontstaan in die braakland van Faouëdic 'n skeepswerf. Die bou van die eerste skip, die Le Soleil d'Orient, is 'n opwindende gebeurtenis vir die plaaslike gemeenskap, en uiteindelik word die nuwe stad na hierdie skip "L'Orient" ("Die ooste") vernoem.
Danksy die welvarende kompanjie groei die stad vinnig van 6 000 inwoners in 1702 tot 20 000 in 1720. Die groeitydperk eindig met Frankryk se ondertekening van die Verdrag van Parys in 1763, waarmee die Sewejarige Oorlog beëindig word en Frankryk sy besittings in Indië kwytraak.
In 1770 koop die Franse koning die hawe; 'n wapenfabriek dien as die belangrikste ekonomiese basis van Lorient. Napoléon Bonaparte ontwikkel die stad tot 'n vlootbasis. Ná die Eerste Wêreldoorlog begin danksy die uitvinding van die motorboot 'n groeitydperk vir die plaaslike vissersbedryf, en in 1920 word die vissershawe Kéroman ingewy.
Tydens die Tweede Wêreldoorlog besluit die Duitse besetters om Kéroman tot 'n duikbootbasis te ontwikkel. Ondanks gealliëerde bomaanvalle bly die duikboothawe - in teenstelling met die res van die stad - tot by die einde van die oorlog bewaar, en die Duitse garnisoen lê eers op 10 Mei 1945 hulle wapens neer.
Ná die Tweede Oorlog dien Kéroman as 'n basis vir Franse dieselaangedrewe duikbote, tog word die basis in 1997 gesluit en sy aktiwiteite na Toulon in Suid-Frankryk verskuif.
[wysig] Kultuur
Sedert die jaar 1971 tree Lorient as gasheerstad van die jaarlikse Festival interceltique de Lorient op, wat kunstenaars van dwarsoor die Keltiese gebiede in Europa lok. 4 500 kunstenaars uit Skotland, Ierland, Wallis, Cornwall, die eiland Man, Asturië, Galisië, Australië en Bretagne bekoor tien dae en nagte lank meer as 600 000 besoekers.
Die Franse Vloot se bekende Bretonse musiekgroep Le Bagad de Lann-Bihoué is aan die vlootlughawe van Lorient-Lann Bihoué in Ploemeur, 'n dorp naby Lorient, verbonde.
[wysig] Eksterne skakels
- Die amptelike webwerf van Lorient
- Die amptelike webwerf van Lorient se toerismekantoor
- Die amptelike webwerf van die Festival Interceltique
- Festival Interceltique de Lorient 2006 - Prente en video's
- Meer inligting oor Lorient op Wikitravel
- Geografiese inligting oor Bretagne, portaal van die Bretonse stede en geweste - Lorient / An Oriant