Koerant
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
'n Koerant is 'n nuusblad, wat daagliks of weekliks uitgegee word en van gebeurtenisse in die politiek, ekonomie, kultuur en sport berig. Dikwels lewer dit eie kommentaar oor geselekteerde nuus en beskik ook oor 'n rubriek met briewe van lesers. Koerante kan die openbare mening mobiliseer en fungeer as 'n belangrike instrument by die handhawing van die meningsvryheid en die demokratiese kontrole van owerhede.
Inhoud |
[wysig] Definisie in die perswetenskap
'n Publikasie moet aan 'n aantal kriteria voldoen om as 'n koerant gedefinieer te word:
- Periodisiteit: 'n Koerant moet daagliks of ten minste weekliks uitgegee word.
- Sirkulasie: 'n Koerant moet meganies of andersins in groot getalle gekopieer en versprei word.
- Publisiteit: 'n Koerant moet publiek verskyn en vir almal wat belang stel beskikbaar wees.
- Inhoud: 'n Koerant moet 'n verskeidenheid onderwerpe in sy artikels behandel.
- Neutraliteit: Die koerant se uitgewer(s) en verslaggewers moet neutraal wees ten opsigte van die nuus.
- Seleksie: Met die oordaad van nuusberigte, wat vandag beskikbaar is, word die verantwoorde seleksie van die mees belangrike nuus vandag ook as 'n belangrike kriterium vir 'n koerant beskou.
[wysig] Etimologie
Die Afrikaanse woord koerant is afgelei van die Franse leenwoord courant, wat in Nederland sedert 1617 gebruik word en blykbaar 'n verkorting van die Nederlandse term courante nouvellen "lopende nuus" is, wat uit die 16de eeu dateer.
Ander Germaanse tale soos Duits (Zeitung) en Sweeds (tidning) bewaar in hul woorde 'n ander aspek wat in hierdie vorm omtrent rondom 1300 vir die eerste keer gebruik word - die van 'n "berig oor iets wat in die tyd gebeur", afgelei byvoorbeeld van die Ou-Noorse tidan "in die tyd gebeur".
[wysig] Geskiedenis
[wysig] Die antieke tydperk
Rome staan bekend as die bakermat van die eerste koerante. Aanvanklik lê die verantwoordelikheid vir openbare kennisgewings by die pontifex maximus, die Romeinse opperpriester, wat die nuus op plate bekend maak. Ook die annales maximi, 'n soort memorandum, is op plate uitgehang. Ander vroeë publikasies, wat gereeld verskyn, sluit kronieke en kalenders in.
In die jaar 59 v.C. stig Gaius Iulius Caesar die eerste soort nuusblad, die acta populi Romanae diurna (of verkort acta diurna), wat tot 300 n.C. verskyn. Die acta word in twee uitgawes uitgegee - die acta senatus met amptelike kennisgewings van die Romeinse Senaat en die acta populi, wat nuus oor die daaglikse gebeurtenisse in Rome bevat en veral vir die provinsies bestem is. Acta, wat as besonder belangrik geag word, is in erts gegiet om hulle te kan bewaar.
Die gewone acta populi word op die sogenaamde charta geskryf, wat gemaak is van 'n stof of huid wat onderaan die papirusbas lê (Latyns: liber).
Keiser Augustus staak die uitgawe van die acta senatus en versmelt hulle met die acta populi.
Ondanks hulle naam, wat 'n daaglikse verskyning aandui, word die acta diurna ("daaglikse gebeurtenisse") gebruik om die nuus van 'n bepaalde tydperk in 'n tydelike rangorde op te lys. Die acta diurna, wat soms ook acta urbis ("stadskoerant") genoem word, bly steeds onder die beheer van die staat. Private nuusblaaie met kennisgewings oor familiêre of gemeenskapsnuus word slegs vir 'n kort tydperk toegelaat en onder die heerskappy van keiser Traianus uiteindelik verbied. Gewoonlik moet hulle deur omroepers bekend gemaak word. Dikwels word ook briewe geskryf en sommer net gekopieer vir 'n groter aantal belangstellendes.
Die oplaag van die acta is taamlik klein, en geen enkel eksemplaar het bewaar gebly nie. Nietemin kan hulle inhoud deur talle aanhalings in ander bronne gerekonstrueer word.
Die acta bevat veral nuus oor aangeleenthede van die staat, soos reise van Romeinse amptenare of kennisgewings van die keiserlike gesin, soos geboortes, sterfgevalle, begrafnisse, huwelike en onthale. Daarnaas verskyn nuus oor opspraakwekkende gebeurtenisse soos oorstromings, droogtes en ander rampe. Geleidelik word ook die kennisgewings van vooraanstaande Romeinse gesinne in die acta opgeneem, waarby Romeinse familienuus ook gereeld belangrike egskeidings bekend maak.
Kenmerkend is die sensuur, wat deur die keiserlike redaksie uitgeoefen is. Alle familienuus en advertensies is noukeurig ondersoek voordat hulle vir publikasie vrygestel is. Dikwels stel die heersers belang in spesifieke onderwerpe of wens dat 'n bepaalde saak publiek gemaak moet word. In hierdie geval is die redaksie aangewys om artikels in dié verband te publiseer.
Met die verskuiwing van die keiserlike hof na Konstantinopel word die acta gestaak. In die etimologie van die Romaanse tale leef hulle egter voort. Die Romeinse woordvorming diurnalis "daagliks" is bewaar in die Franse journal en Italiaanse giornale.
[wysig] Die Middeleeue en vroeë moderne tydperk
Koopliede, bodes en vagante (skoliere, studente en werklose predikante wat as volkssangers dwarsoor die land reis) dien in die Middeleeue as 'n soort "lewende koerante", wat nuus orals bekend maak.
Uit hierdie lewende of mondelinge koerante ontwikkel geleidelik die geskrewe nuusblaaie, met amptelike, sake- en privaatbriewe as hulle voorlopers.
Die welvarende Europese stede van die van die 13de en 14de eeu het 'n behoefte aan politieke en handelsnuus, en die stadsrade begin ordinari (bodes of koeriers) gebruik om nuus uit te ruil. Die grootste aanleiding tot die herstigting van gereelde nuusblaaie kom egter van die groot handelshuise. Die sogenaamde koopmansbriewe, wat vanaf die 14de eeu verskyn, bevat nuus oor politieke en handelsake. In die Italiaanse hawestad Venesië vrskyn vanaf 1536 die eerste gazette.
Onder die belangrikste uitgewers is die koopmansgesin Fugger in die Duitse stad Augsburg, wat tussen 1568 en 1604 die Fugger-koerant uitgee. Die Fuggers beskik reeds oor 'n soort nuusagentskap, wat nuus uit alle wêrelddele versamel, kopieer en uitgee. Die bewerkers en uitgewers van hierdie nuus staan destyds as nouvellante bekend.
Die Fuggers verskaf 'n "Ordinari-" en "Ekstra-Ordinari"-koerant aan belangstellendes. As bronne dien die boodskappe van die Fugger se medewerkers in die buitelandse kantore en bekende persoonlikhede. Die meeste nuus word reeds in Duits gepubliseer, daarnaas word ook Italiaans en Latyn gebruik. Die nuus en koerante is vinnig dwarsoor die vasteland gestuur. Die koerante bevat geen berigte oor die kulturele of filosofiese lewe van die tyd nie, maar lewer gedetailleerde artikels oor handel, politiek en gebeurtenisse by die keiserlike hof.
Die volledige biblioteek van meer as 40 000 enkele blaaie van die koerant word in 1655 deur keiser Ferdinand III aangekoop en in Wene georden.
[wysig] Moderne koerante
Met die uitvinding van die boekdrukkuns teen die einde van die 15de eeu ontstaan die tegniese basis om koerante in groot oplaagsyfers te druk en te versprei. Aanvanklik word nuusblaaie met net een bladsy gedruk, wat van tyd tot tyd verslag gee van oorlogsdade, wonderlike gebeurtenisse en ander onderwerpe. Die oudste nuusblad van hierdie soort dateer uit die jaar 1482. Die verhale van die ontdekkingsreisigers gee aanleiding tot die uitgawe van ontdekkerskoerante, waarvan die kolumbusbrief van 1493 die eerste is. Die reformasie van die 16de eeu lei tot die grootskaalse uitgawe van gedrukte pamflette, wat deur die Duitse reformator Martin Luther en ander as gewilde medium vir godsdienstige propagandaveldtogte gebruik word.
Die sogenaamde historische Relationen, wat in Duitsland vanaf die jaar 1588 verskyn, word in die vorm van kronieke uitgegee, maar verskyn as eerste moderne publikasies gereeld op 'n halfjaarlikse basis in groot stede soos Frankfurt am Main en Keulen. Die Relation van Augsburg verskyn vanaf 1597 maandeliks.
In 1605 begin die Straatsburgse drukker en boekhandelaar Johann Carolus om weekliks gedrukte uitgawes van sy tot dusver handgeskrewe nuusversamelings uit te gee. Die nuusblad, wat onder die titel Relation verskyn, word in die perswetenskap as die eerste gedrukte koerant ter wêreld beskou. Die eerste daaglikse nuusblad verskyn in 1660 in Leipzig (Duitsland).
Die koerant as periodieke medium raak vinnig nie net vir nuusberigte nie, maar ook vir politieke en wetenskaplike besprekings gewild.
Die Franse nuusblad La Gazette, vir die eerste keer in 1631 uitgegee deur die geneeskundige Renandot, is die vroegste politieke koerant. 1665 volg die eerste wetenskaplike nuusblad, die Journal des Savants, wat deur die Parysenaar Denis Sallo gestig word.
Die twee groot mededingers op die koerantemark is die boekdrukkers en die posmeesters; tradisioneel dra baie koerante nog name wat die woord "Post" bevat. 'n Ander woord, wat soms in verband met koerante uit die 17de eeu gebruik word, is "intelligensie", wat destyds sinoniem met "kennis" of "bekendstelling" gebruik word. Die sogenaamde "intelligensieblaaie" bevat oorwegend sakenuus of advertensies met ware wat te koop of te ruil is. Die intelligensieblaaie is 'n Franse uitvinding en verskyn in 1633 vir die eerste keer in Parys, ses jaar later ook in Londen. Dikwels is sakemanne, die besitters van kroeë, maar ook Joodse burgers, wat enige soort handel dryf, en ander spesifieke groepe gedwing om op die intelligensieblaaie in te teken.
Voor die Franse Rewolusie van 1789 keer die strenge sensuurmaatreëls en die gebrek aan demokratiese burgerregte die sukses van die perswese as die spreekbuis van die openbare mening. Met die begin van die liberale en demokratiese bewegings, die tegniese vooruitgang in die drukkerynywerheid en die uitvinding van goedkoper papierverwerkingsmetodes is die tyd ryp om van die koerant 'n werklike massamedium te maak. Die vervoer- en inligtingsbedryf ondersteun met die nuwe spoorwegverbindings en die telegraaf die vinnige verspreiding van nuus. Kommersiële nuusagentskappe soos Havas, Reuter en Wolff stel nuusberigte goedkoop ter beskikking.
Die persvryheid in Suid-Afrika neem 'n aanvang met 'n ordonnansie van die Kaapse koloniale regering, wat op 30 April 1829 geproklameer is en die publikasie van enige nuusblad toestaan, alhoewel bepaalde regulasies en die "lasterwette" van die tyd nog nagekom moet word.
Veral die perswese in Frankryk, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State word deur groot uitgewers soos William Randolph Hearst (1863-1951), William Lord Beaverbrook (1879-1964) en Harold Harmsworth, lord Rothermere (1868-1940), en hulle trusts oorheers, wat ook vinnig die markkrag van die sogenaamde poniekoerante ontdek. Die Duitse perslandskap word gekenmerk deur 'n groot aantal klein streekkoerante, wat lewensvatbaar bly, alhoewel die grootste uitgewer, die ultrakonserwatiewe Alfred Hugenberg (1865-1951), vanaf die twintigerjare 'n leidende rol by die vestiging van anti-semitiese en ver-regse politieke opvattings speel. Uiteindelik word hy 'n wegbereider vir Adolf Hitler. Meer onlangse uitgewers, wat vanweë hul groot invloed omstrede raak, is die Duitse uitgewer Axel Springer (1912-1985), wat met sy konserwatiewe koerante 'n teenstander van die studentebeweging in die jare sestig word, en later die miljoenêr Rupert Murdoch (* 1931), wat vanuit Australië 'n wêreldwye uitgewersryk oprig.
[wysig] Die Afrikaanse pers in Suid-Afrika
Die eerste Afrikaanse nuusblad, wat deur die Genootskap van Regte Afrikaners uitgegee word, is die Afrikaanse Patriot, wat as Di Patriot vanaf 15 Januarie 1876 in die Paarl verskyn. Dit is later opgevolg deur die Paarl Post.
Ná 1948 verleen die meeste Afrikaanse koerante meer of minder kritiese ondersteuning aan die bewind van die Nasionale Party, terwyl die anglofone pers, met die uitsondering van The Citizen, as spreekbuis van die blanke opposisiepartye optree. Met die algemene verkiesings van 1994 begin die Afrikaanse perslandskap verander. Koerante soos Die Transvaler (Johannesburg) en die Oosterlig (Port Elizabeth) is intussen gestaak, terwyl die huidige groot Afrikaanse dagblaaie Beeld (Johannesburg), Die Burger (Kaapstad) en die Volksblad (Bloemfontein) as moderne mediums en spreekbuise van die Afrikaanse gemeenskappe deel van die demokratiese samelewing geword het.
Die Afrikaanse perslandskap word aangevul deur die Sondagkoerant Rapport met 'n sirkulasie van meer as 300 000 en Die Son, die eerste Afrikaanse poniekoerant.