Honfleur
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Honfleur is 'n hawestad in die département Calvados (Frankryk) met 8 178 inwoners (1999). Die stad, wat aan die suidelike oewer van die Seinemonding lê, staan veral bekend vir sy skilderagtige ou hawe. Sy huise bekoor met kleurryke fasades, wat 'n gewilde motief vir skilders soos Gustave Courbet, Claude Monet en Johan Jongkind is. Die kenmerkende skilderstyl van die école de Honfleur speel 'n beduidende rol in die impressionistiese beweging. Honfleur se kerk van die heilige Katharina is die grootste sakrale houtgebou in Frankryk, en die vakwerkhuise ringsom die kerk, wat onder meer kunsgalerye en restourante huisves, is nog steeds 'n ontmoetplek van kunstenaars.
Die Pont de Normandie, wat Honfleur met Le Havre verbind, is in 1995 ingewy en behoort tot die langste brûe in Europa.
[wysig] Geskiedenis
Die eerste skriftelike verwysing na Honfleur dateer uit die jaar 1027, die tydperk van Richard III, hertog van Normandië. Teen die middel van die 12de eeu is die stad 'n belangrike vervoersentrum langs die handelsroete tussen Rouen en Engeland.
Honfleur trek veral sedert die Honderdjarige Oorlog tussen Engeland en Frankryk voordeel uit sy strategiese ligging naby die see en langs een van die belangrikste riviere in Frankryk. Darnaas lê Honfleur in 'n welvarende gebied.
Koning Karel V van Frankryk begin met die versterking van Honfleur om sodoende die toegang tot die Seinemonding vir Engelse skepe te blokkeer. Desondanks slaag Engelse troepe daarin om Honfleur in die jaar 1357 in te neem en in die tydperk tussen 1419 en 1450 ook te beset. Afgesien van hierdie periode dien Honfleur as die basis vir Franse strooptogte langs die Engelse kus, waartydens in die vyftigerjare van die 15de eeu onder meer die stad Sandwich in Kent verwoes is.
Met die einde van die Honderdjarige Oorlog beleef Honfleur danksy die groeiende seehandel 'n bloeitydperk, wat slegs deur die godsdienstige onluste van die 16de en laat 18de eeu tydelik onderbreek is. Honfleur speel 'n belangrike rol by die Europese ontdekkingsreise; bekende seevaarders soos Binot Paulmier de Gonneville, wat in 1503 van Honfleur se hawe na die Brasiliaanse kusgebiede vertrek, Jean Denis, 'n boorling van Honfleur wat in die jaar 1506 'n besoek aflê aa die eiland van Newfoundland (Terre Neuve) en die monding van die Sint-Laurensrivier, en Samuel de Champlain, die stigter van Québec-stad, wat in 1608 sy ekspedisie na Québec vanuit die stad onderneem.
Honfleur groei tot een van die vyf beduidendste Franse hawestede vir onder meer die slawehandel, met handelsbetrekkinge wat so ver strek as Kanada, die Antille-eilande, die kusgebiede van Afrika en die Asore-eilande. Op bevel van Jean-Baptiste Colberte word die stad se versterkings in hierdie tydperk afgebreek.
Die oorloë van die Franse rewolusie en die Eerste Keiserryk lei veral as gevolg van die Engelse kontinentale blokkade tot die ekonomiese neergang van Honfleur. Selfs die groeiende houthandel met die Noord-Europese lande tydens die 19de eeu lei net tot 'n beperkte oplewing.