HD-DVD
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
HD-DVD (High Definition Digital Versatile Disc) is naas die Blu-ray Disc een van die twee nuwe DVD-standaarde vir High Definition-televisie en -rolprente, wat deur die DVD Forum as die opvolger van die DVD-standaard voorgestel is. Die HD-DVD verbind die voordele van die DVD, wat tot dusver die mees suksesvolle oudio-video-produk is, met verbeterde funksionaliteit, 'n groter stoorkapasiteit en realistiese weergawe van beeld en klank. Aangesien die HD-DVD- en DVD-skyfies min of meer dieselfde struktuur het, sal vervaardigers van gewone DVD-skyfies hul huidige produksietoerusting maklik kan aanpas vir die reprodusering van die nuwe-generasie-skyfies.
Inhoud |
[wysig] Stoorkapasiteit en resolusie
'n Groter kapasiteit van sowat 15 GB (eenlaag-HD-DVD) en 30 GB (dubbellaag-HD-DVD) sal verseker dat die miljoene kleure, skerpe details en ruimtelike indruk van die HDTV-standaard met HD-DVD-spelers weergegee kan word. Danksy die nuwe blou-laser-tegnologie sal tot by 8 ure se HD-rolprente met 1 125 beeldlyne of 48 ure se gewone standaard-DVD-resolusie met 525 beeldlyne gestoor kan word.
[wysig] Klankformate
Naas Dolby Digital Plus en Digital Theater Systems High Definition (DTS-HD), verbeterde versies van die ruimteklankformate Dolby Digital en DTS wat vir die nuwe HD-DVD ontwikkel is, sal ook klank in MLP (Meridian Lossless Packing), die oudio-standaard van die DVD-Oudio, gestoor kan word. Die formate gebruik elk frekwensies tot by 192 kHz en woordlengtes van 24 bit vir ses-kanaal-ruimteklank.
[wysig] Opnames en verenigbaarheid
Die nuwe HD-DVD-RW-standaard wat deur die DVD Forum goedgekeur is kan op 'n skyf van 20 GB 5.5 ure se HDTV-programme stoor. Hierdie skywe is bestem vir HD-DVD-opnemers wat vanaf 2005 beskikbaar sal wees. Met hul HD-DVD-aandrywers, -spelers en -opnemers sal verbruikers ook CD's en DVD's kan speel.
[wysig] Hardeware
Toshiba het sy prototipes van HD-DVD-spelers al vroeg in 2004 bekend gestel. Die spelers gebruik HD-DVD-skywe met 'n stoorkapasiteit van respektiewelik 30 en 45 GB, waarby die laasgenoemde sy gegewens in drie lae stoor. Sanyo en NEC kondig in Desember 2004 aan dat hulle 'n DVD-aandrywer ontwikkel het wat die formate HD-DVD, DVD en CD sal kan lees. Hiervoor word die laseropnemer se liggolflengte aan die verskillende formate aangepas. Die nywerheid bedoel om sodoende vir die verbruiker 'n maklike oorgang van CD en DVD tot HD-DVD moontlik te maak.
HD-DVD-ROM-aandrywers vir rekenaars is aangekondig, hulle is weens probleme met die kopieerbeskerming-standaard AACS egter nog nie vrygestel nie. Ook die groot hoeveelheid gegewens is moontlik nog 'n struikelblok vir huidige verwerkers.
[wysig] Sagteware
'n Aantal Hollywood-ateljees (waaronder Warner Bros., Universal en Paramount) kondig in Januarie 2005 tydens die Consumer Electronics Show-tentoonstelling in Las Vegas 'n eerste reeks van sowat 80 rolprente in hierdie formaat aan, wat in die loop van 2006 vrygestel sal word.
[wysig] Ander formate met hoë resolusie
WMV-HD is 'n spesiale formaat wat gebruik maak van die Windows Media-speler en nuwe codecs met 'n verbeterde kwaliteit wat die van DVD-Video duidelik oortref. In 2004 het 'n reeks rolprente in die WMV-HD-formaat verskyn wat op gewone DVD-aandrywers 'n resolusie van 1280 x 544 pixels bied (slegs die aktiewe gedeelte van die beeld word geënkodeer). Die klankbaan word in die Windows Media Audio pro-formaat gestoor; die kwaliteit is vergelykbaar met MP3 of Dolby Digital en is geskik vir alle soorte oudiomeng van stereo- tot 7.1-kanaal-weergawe. Die eerste twee DVD-spelers wat ook WMV-HD kan lees word vanaf April/Mei 2005 deur die Deense vervaardiger Kiss aangebied.
Belangstellendes kan uitstalklas-video's met 'n resolusie van onderskeidelik 720 en 1080 beeldlyne vir die Windows Media-speler hier aflaai (ADSL-internetverbinding en 'n snelle verwerker met 2.6 GHz of meer en 512 MB geheue word aanbeveel).
Sien ook: DVD-formate, HDTV