Tshwane
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Tshwane is vanaf 5 Desember 2000 'n metropolitaanse gebied in Gautengprovinsie, Suid-Afrika, wat die stad Pretoria insluit.
Dit bestaan uit 13 voormalige stads- en dorpsrade, en word bestuur deur 'n besturende burgemeesterstelsel. Die munisipale gebied beslaan meer as 3,200 vierkante kilometer, en het 'n bevolking van nagenoeg 2,2 miljoen mense.
Die naam is afkomstig van die oorspronklike naam wat deur die eerste Ngunisprekende nedersetters (wat later as die Ndebele bekend was) aan die rivier gegee is wat deur die area vloei. Hulle het dit vernoem na een van hulle stamhoofde, Tshwane, vanaf die Ndebelewoord vir "klein aap".
Die naam Tshwane word soms ook gebruik as 'n alternatiewe naam vir die stad Pretoria self, alhoewel Pretoria nog nie teen 2004 hernoem is nie, en toekomstige hernoeming onwaarskynlik is.
[wysig] Areas
Tshwane bestaan uit die volgende areas:
- Ga-Rankuwa (Gestig in 1961 na geforseerde verskuiwings binne die area. Dit is vernoem na een van die Bakgatla hoofmanne, Rankuwa Boikhutso.)
- Centurion (voorheen genoem Verwoerdburg.)
- Temba (Gestig in 1940 na geforseerde verskuiwings.)
- Mabopane (Gestig in 1969.)
- Winterveld
- Die gebied van die Noordelike Pretoria Metropolitaanse Substruktuur. Hierdie gebied sluit die industriële area bekend as Rosslyn in, sowel as die township, Soshanguve, wat gestig is om nie-Tswana-sprekende mense te akkommodeer ná Bophuthatswana 'n onafhanklike tuisland geword het. (Soshanguve is 'n nuutskepping wat die township se uiteenlopende karakter weerspieël: Sotho, Shangaan, Nguni (Swazi, Zulu, Xhosa) en Venda.)
- Pretoria
- Pienaarsrivier (Hierdie is die kleinste van Tshwane se voormalige rade.)
- Krokodilrivier (Hierdie gebied strek van Rosslyn/Ga-Rankuwa in die noorde tot by Lanseria in die suide, en van die westelike kant van Pretoria na die Hartebeespoortdam.)
- Die gebied voorheen bekend as die Greater Pretoria Metropolitan Council. Hierdie raad was een van die vier plaaslike owerhede in Gauteng, en het bestaan uit drie plaaslike rade: die Stadsraad van Pretoria, die Raad van Centurion en die Noordelike Pretoria Metropolitaanse Substruktuur.
- Wallmannsthal
- Hammanskraal