Verkleiningswoord
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
'n Verkleiningswoord (of diminutief) is 'n vorm van 'n woord wat dui op 'n kleiner vorm van die saak. Dit word gevolglik hoofsaaklik met selfstandige naamwoorde gebruik, maar ander sake kan ook verklein word. Verkleiningsvorme het soms 'n figuurlike, simpatieke, sarkastiese of eufemistiese betekenis, en word ook soms vir troetelname gebruik.
[wysig] Verkleiningswoorde in Afrikaans
In meeste tale word 'n verkleiningsvorm gevorm deur 'n agtervoegsel en/of 'n ekstra verbuiging van die oorspronklike woord. In Afrikaans word die agtervoegsels -tjie, -jie, -pie, -kie en -ie saam met 'n paar verboë vorms gebruik. Hierdie vorme asook die gebruik van verkleiningsvorme stem grootliks ooreen met die gebruik in Nederlands.
Die gebruik van verkleiningswoorde is so algemeen in Afrikaans dat die verkleiningsvorme in enkele gevalle meer algemeen geword het as die aanvanklike vorm, of selfs die enigste algemeengebruikte vorm geword het. Byvoorbeeld: bietjie, netjies, baadjie, mandjie, boontjie, vlokkie, seeperdjie.
In sekere gevalle word slegs 'n verkleinde vorm van 'n woord gebruik, selfs al is die aanvanklike vorm steeds in gebruik in ander gevalle. In sekere gesegdes word 'n sekere verkleiningsvorm altyd gebruik, byvoorbeeld Hy het sy bloutjie teëgekom, Boontjie kry sy loontjie. In party gevalle is die verskil in betekenis tussen die aanvanklike en die verkleinde vorm so groot, dat hulle nie werklik uitruilbaar is nie. So byvoorbeeld is 'n nuweling 'n groentjie, maar nooit 'n groen of 'n groene nie. By babadiere word verkleiningsvorme baie gebruik, byvoorbeeld leeutjie vir 'n welpie, eerder as leeu.
Soms kan verkleining ook dui op 'n verandering in betekenis of gevoel. So is figuurlike gebruik, simpatie, sarkasme of eufemisme moontlik teenwoordig in die gebruik van 'n verkleiningsvorm. Byvoorbeeld, Is jou hartjie seer? (simpatie), Die omie het 'n boepie, of Die mannetjie sal sy moses teëkom (sarkasme), Ons het 'n probleempie (eufemisme). Verkleinde vorms kan ook gebruik word vir troetelname: Bokkie kan gebruik word vir 'n geliefde, maar daardie betekenis is nie teenwoordig in bok nie.
Alhoewel verkleining hoofsaaklik by selfstandige naamwoorde voorkom, kom dit ook voor by ander woordsoorte. Bywoorde kan verklein word, byvoorbeeld saggies, stilletjies. Verkleining van 'n byvoeglike naamwoord kan gebruik word om die woord te verander in 'n selfstandige naamwoord. Byvoorbeeld slim -> slimie, lank -> langetjie. Werkwoorde word ook soms verklein, veral as met klein kindertjies gepraat word, byvoorbeeld slapies, werkies. Verkleiningswoorde kan ook verder verklein word, en is veral algemeen by woorde wat normaalweg slegs in hulle verkleinde vorme gebruik word, byvoorbeeld baadjietjie, boompietjie.
Die uitspraak van die -tjie en -djie as -kie, asook die verandering in uitspraak by sekere verkleiningsvorme (byvoorbeeld bootjie, bladjie, glasie, handjie) is waarskynlik die deel van Afrikaanse uitspraak wat die verste verwyderd is van die spelling. Dit is egter nie moeilik vir mense wat Afrikaans grootgemaak is nie, aangesien verkleiningsvorme gewoonlik geweldig baie gebruik word as met klein kindertjies gepraat word. Soms gaan so 'n gepraat met kinders gepaart met oorronding, veral om simpatie aan te dui: Ôg, het mômmô se bôbôtjie seurgekrui?
Aangesien al drie klanke -tjie en -djie en -kie as -kie uitgespreek word, ontstaan 'n paar gevalle waar verskillende verkleiningswoorde dieselfde of baie soortgelyk uitgespreek word. Vergelyk byvoorbeeld boortjie (klein boor) en boordjie (klein boord, of 'n boordjie). In meeste gevalle sorg verbuigings van die voorafgaande klanke van die onverboë woord dat gevalle ondersky kan word. So word bakkie en badjie nie identies uitgespreek nie, aangesien die vokaal in die tweede geval verbuig word na 'n ai-klank. Enkele gevalle is egter selfs op skrif identies en slegs konteks kan aandui watter woord verklein is. Vergelyk byvoorbeeld houtjie (klein hout) en houtjie (klein hou).