Niterói
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Niterói (vroeër Nictheroy) is 'n stad in die Brasiliaanse deelstaat Rio de Janeiro met 'n oppervlak van 130 vierkante kilometer en 471 100 inwoners (1 Januarie 2004). Niterói is 'n satellietstad sowat 5 kilometer van Rio de Janeiro af en word met hierdie metropool deur 'n brug en 'n veerboot verbind. Niterói staan bekend vir sy hoë lewensgehalte. Die argitek Oscar Niemeyer se Museum vir Kontemporêre Kuns het die nuwe baken van Niterói geword.
[wysig] Geskiedenis
![Die Museu de Arte Contemporânea, wat in 1991 deur die argitek Oscar Niemeyer opgerig is](../../../upload/shared/thumb/d/d3/Niteroi_Museu_de_Arte_Contemporanea_2005-03-15.jpg/300px-Niteroi_Museu_de_Arte_Contemporanea_2005-03-15.jpg)
Niterói is op 22 November 1573 deur Araribóia, 'n lid van die indigene Tupí-stam, gestig - dit is die enigste stad in Brasilië, wat nie deur Blankes gestig is nie.
Ná die oorlog teen Frankryk, wat weens 'n geskil oor die Guanabarábaai uitgebreek het, het Araribóia by die goewerneur Mem de Sá aansoek gedoen om 'n stuk land. Nadat die land aan hom toegestaan is, het hy die dorp São Lourenço dos Índios gestig.
Die sentrale regering het die dorp in 1819 amptelik erken en die naam gewysig na Vila Real da Praia Grande ("Koninklike Stad van die lang Strand"). Die dorp het destyds slegs die huidige binnestad van Niterói beslaan, en eers ná die bou van 'n tremlyn in die laat 19de eeu het die stad vinnig begin groei. In die vroeë 20ste eeu het die industrialisering begin.
Die naam van die stad is op 6 Maart 1835 weer gewysig na Nictheroy, wat in die Tupí-taal letterlik "verborge water" beteken. Tegelykertyd het Nictheroy stadstatus gekry. Die naam is later volgens 'n nuwe spelling nog eens na Niterói verander.
Niterói het in die tydperke tussen 1834 en 1975, toe die huidige deelstaat Rio de Janeiro nog in twee state verdeel was, naamlik Rio de Janeiro en die federale distrik Guanabará met die hoofstad Rio de Janeiro, as die hoofstad van die deelstaat Rio de Janeiro gedien. Net in die tydperk tussen 1894 en 1903 het Petrópolis as administratiewe hoofstad gedien. Met die samesmelting van Guanabará en Rio de Janeiro op 15 Maart 1975 het Rio de Janeiro hierdie funksie oorneem.