Talassemie
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Talassemie (thalassaemia in Britse Engels / thalassemia in Amerikaanse Engels) is 'n oorerflike siekte van die rooibloedselle, en geklassifiseer as 'n sogenaamde hemoglobinopatie. Die genetiese defek lei tot die vorming van 'n abnormale hemoglobien-molekule. Dit maak die bloedselle kwesbaar vir beskadiging, wat dan tot vernietiging van die selle kan lei. Gereelde bloedoortappings is nodig vir sommige van die lyers aan talassemie om te kan oorleef.
Daar bestaan 'n geografiese assosiasie met die Middellandse See, wat verantwoordelik was vir die benaming van die siekte: Thalassa is Grieks vir die see, Haima is Grieks vir bloed. Talassemie kom in alle bevolkings en etniese groepe voor, maar die voorkoms verskil onder verskillende bevolkings.